Huisgenoot

O, MY LIEF, JY’S WÉÉR ’N DIEF!

Nie minder nie as 18 mans het aanlyn hul liefde aan haar verklaar voor hulle vir vreemde dinge wou geld hê

- Deur JACO HOUGH- COETZEE Foto’s: SHARON SERETLO

SY WOU net ’n bietjie liefde en vriendskap hê. Toe sluit sy aan by ’ n maatsoekwe­b tuiste en aanvaar vriendskap­sversoeke van vreemde mans op Facebook, van wie talle hul liefde aan haar verklaar het. Maar dié kubervryer­s wou meer as net haar hart steel. Die 67-jarige Sharron Jarvis van Alberton is nie net een keer nie, maar sommer 18 keer geteiken deur swendelaar­s wat hul ewige liefde verklaar – en haar dan geld vra om hulle uit ’n verknorsin­g te help: geld vir siek kinders, vir kos, om invoerbela­sting op diamante te betaal . . . Die een vreemde versoek ná die ander. (Sien die kassie regs bo.)

Sy het vir elkeen van hierdie mans se soet woordjies oor ’n rooskleuri­ge toekoms saam geval, erken Sharron ruiterlik. Maar sy het nooit aan enigeen geld betaal nie en hulle het soos mis voor die son verdwyn.

Sharron se netjiese haarkapsel het ’n pers skynsel en sy is keurig gegrimeer. Maar haar hart is eensaam; daarom sal sy nie ophou vriendskap­sversoeke van vreemde mans aanvaar om met hulle te gesels nie. “Iewers moet daar tog ’n eerbare man wees,” verduideli­k sy.

“Dit is miskien goed dat ek net van ’n staatspens­ioen moet oorleef, anders sou ek al deel van die bedrogstat­istieke gewees het,” vertel Sharron. Sy het nooit ’n vaste beroep in haar jong dae gehad nie.

HAAR man, Malcolm, is in 2001 weens ’ n hartaanval oorlede. Hulle was 30 jaar getroud en Sharron beskryf hom steeds as die liefde van haar lewe. Maar sy was eensaam en kon net nie weer die regte man ontmoet nie. Toe, in Februarie vanjaar, besluit sy basta en sluit by die maatsoekwe­btuiste aan.

“Binne ’n dag het ek sommer ’n hele klompie boodskappe gehad,” vertel Sharron. “En die mans se profielfot­o’s was mooi!”

Hul bedoelings was egter minder aantreklik.

Sharron blaai deur die swart notaboek op haar skoot waarin sy van haar aanlyn ondervindi­ngs opgeteken het. Al die korrespond­ensie was in Engels en baie van die 18 mans het beweer hulle woon in die buiteland.

“Die eerste ou was van Kanada. Hy het ná twee weke vertel hy wil Suid-Afrika toe trek om naby my te wees en dat hy solank ’n skeepsvrag­houer met van sy besittings oorstuur. Ons het lekker gesels tot hy ’n paar dae later gevra het ek moet geld in ’n rekening inbetaal vir die doeanebela­sting. Ek het vinnig geweier en hy het ewe vinnig verdwyn.”

Sharron blaai verder. “Dié een was die oorspronkl­ikste,” skerts sy. Vandag lag sy daaroor, maar toe was sy baie bekommerd dat hy wel in lewensgeva­ar verkeer, erken sy. Hy was glo van Engeland en het gesê hy is verlief op haar en wil met haar trou. Maar eers moes hy Amerika toe gaan waar hy ’n kontrak moes sluit om in palmolie handel te dryf.

“Daarna is hy glo met sy eie skip na Marokko om die olie af te lewer,” vertel sy. “So ’n week later kry ek ’n boodskap dat hy baie bang is en vir sy lewe vrees. Hy kruip weg op die skip nadat seerowers dit gekaap en twee bemannings­lede doodgeskie­t het. Van sy sekuriteit­smense kon darem vlug met ’n kluis vol kontant en diamante wat na my gestuur sou word.”

En ja, ook dié storie het sy geglo, gee sy toe. “Ek weet mos daar is seerowers daar rond!”

Twee weke later kry sy ’n e-pos van iemand van Kanada wat sê die kluis is nou by hom en hy sal sorg dat sy dit kry; sy moet net eers gou die registrasi­egeld van R5 000 betaal. “Nadat ek vir hom gesê het

ek het nie sulke geld nie, het hy en di die man op die skip skielik net verdwyn.”

Party se geselsies hou weke lank aan voor hulle geld vra; ander staan sommer binne twee dae bakhand, vertel sy.

Nog ’n man, glo ook van Engeland, wou ’n pakkie met diamante en geld na haar stuur nadat hy “dolverlief ” geraak het op haar. Daarna sou hy kom kuier en vir hulle ’n huis koop, het die heer plegtig beloof.

“’n Paar dae later kry ek toe ’n oproep van iemand wat sê hy werk by doeane op die lughawe en dat my pakkie daar is. Ek moet net R3 800 by Shoprite inbetaal, dan word die pakkie afgelewer.”

Maar Sharron het besluit om sommer self lughawe toe te gaan. Daar het die doeanebeam­ptes haar vinnig laat verstaan dis ’n bedrogspul. Dan was daar ook die soldaat van Afganistan op wie sy baie verlief was. Ook sy beloftes dat hulle sou trou sodra hy terug is in die land, het sy geglo. Maar toe sy hom vertel sy het nie R15 000 om aan “sy ma in Kaapstad” te gee nie, het ook dié vryer verdwyn. So blaai sy deur haar notaboek en verpoos by die een geval ná die ander. Almal met ’n soortgelyk­e storie.

Sy vertel baie van die “verliefde mans” vloek haar vieslik wanneer sy sê sy het niei geld nie. Een het selfs gedreig om naakfoto’s van haar op die internet te versprei.

“Nie dat ek ooit vir iemand kaalfoto’s gestuur het nie! Maar deesdae kan hulle mos enigiets met ’n rekenaar doen.”

OP Sharron se CD-rak staan die versamelal­bum Broken Hearted tussen Neil Diamond se Hot August Night en Abba se Name of the Game. Haar vier kinders ondersteun haar in haar soeke na vriendskap en laat haar toe om foute te begaan, vertel Sharron, maar sy oorweeg dit nie om by ’n sosiale klub aan te sluit nie, want sy verkies om eers per e-pos of Facebook te gesels.

“Ek wil ook net graag liefde en aanvaardin­g vind. Iemand om mee te gesels en saam na musiek te luister.”

Dan biep haar selfoon hier langs haar. Sy glimlag verleë voor sy na die skermpie loer. Dit is juis die man met wie sy gisteraand begin gesels het, bieg sy. Hy is van Brittanje, maar doen op die oomblik kontrakwer­k in Durban.

“Ek weet God het ’n doel daarmee om jou op my pad te bring, om saam met my ’n beter en rooskleuri­ge toekoms te bou,” skryf hy in Engels.

Dan voeg hy by: “Ek moet ’n paar mense in China bel. Kan jy my dalk help met R150 se selfoonlug­tyd?”

Sjoe, dié outjie is vinnig, lag Sharron voor sy die boodskap uitvee.

‘Ek wil ook net graag liefde en aanvaardin­g vind’

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Al wat Sharron Jarvis begeer, is vriendskap en liefde, maar toe word sy deur 18 kansvatter­s ontnugter wat meer in haar beursie as haar hart belangstel. NAASLINKS: Een van die mans se boodskappe. LINKS: Sy vee die jongste geldvra-boodskap uit.
HOOFFOTO: Al wat Sharron Jarvis begeer, is vriendskap en liefde, maar toe word sy deur 18 kansvatter­s ontnugter wat meer in haar beursie as haar hart belangstel. NAASLINKS: Een van die mans se boodskappe. LINKS: Sy vee die jongste geldvra-boodskap uit.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa