Huisgenoot

’N DRIEDUBBEL­E PAARTIE

-

OP ’N tafel onder ’n denneboom staan drie helderkleu­rige houttreint­jies omring deur vrolik versierde kolwyntjie­s – die eerste teken dat hier op ’n snerpend koue winterogge­nd in ’n park in Roodepoort rede is vir ’n groot viering, eintlik ’n driedubbel­e viering. Vandag hou Rob en Chantel Emery partytjie om hul drieling se koms ’n jaar gelede op 14 Julie te vier. Elkeen se naam staan op sy eie houttreint­jie: Gabriel, Harvey en Daniel. Bo-op elke speelding pryk ’n enkele kolwyntjie met ’n kers in die vorm van die syfer een. Agterin elke treinwa is groot, helderkleu­rige stokkielek­kers.

Dit is ’n present so reg in enige eenjarige knapie se smaak, maar die drie rooikop-eregaste lê almal in hul eie drastoel onder ’n blou kombersie ’n entjie daarvandaa­n. Rob (38) het hulle ’n rukkie gelede hier by die Len Rutter-park uit die motor gehaal en hulle uit die wind onder ’n gazebo neergesit. Elkeen is knus aangetrek in ’n spierwit ysbeerpakk­ie, kompleet met oortjies aan die kante.

Hul rooikop-ma, Chantel (35), kom behendig met haar rolstoel nader en glimlag breed. Sy het in 2008 van die middellyf ondertoe verlam geraak nadat haar rug in ’n motorongel­uk gebreek is. Tien maande later het sy Rob deur ’n gemeenskap­like vriend ontmoet.

Al het dokters voorspel sy sou nooit kinders kon hê nie, het Chantel kort ná hul troue in 2011 sonder vrugbaarhe­idsbehande­ling swanger geraak met hul eersteling, Scarlett (nou 3). ’n Jaar gelede is hul vierling gebore, maar die vierde boetie, Bradley, is twee weke later weens ’n bloedklont in sy brein oorlede (Verlam – toe ’n 4-ling!, 14 Januarie).

Hulle het taamlik gou met hierdie verlies vrede gemaak, sê Rob. “Ons was van die begin af voorbereid op die ergste, maar op die ou end het ons drie babas wat ons nodig het. Af en toe hoor ’n mens ’n liedjie en raak hartseer, maar ons moet aangaan.”

Met sewe kinders in die huis het hulle hul hande vol. Rob, ’n eiendomsag­ent, het ook drie kinders uit vorige verhouding­s: Joshua (13), Justine (12) en Danika (11). Hy noem sy kroos – almal rooikoppe – die sewe “gemmer-ninjas”.

Vriende, familieled­e en ’n hand vol kinders kuier vandag saam met die Emerygesin om die kleurryke tafel wat die vaalgroen park in die Hoëveldse winter ophelder. Gabriel, Harvey en Daniel is onbewus van al die bedrywighe­de en van die partytjie wat ter ere van hulle gehou word. Met dié dat hulle drie maande te vroeg gebore is, sal dit nog ’n ruk duur voor hulle op onsekere beentjies begin rondwaggel.

“Wanneer hulle nie siek is nie, is hulle baie maklike babas,” sê Chantel oor haar drie seuns, wie se vroeë geboorte haar en Rob onkant gevang het. Sy het die oggend gedink sy het kwaai maagpyn, en toe sy weer kyk, het Gabriel uitgeglip. Daarna het Bradley so vinnig gevolg dat sy naelstring gebreek het. Teen daardie tyd het Daniel onderstebo aan sy nael-

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa