Huisgenoot

GENEES VAN ONS PYN NÁ DÁÁI VAL

Die Spele-bohaai van destyds het meer as 30 jaar by hulle gespook, maar nou is Mary en Zola in ’n dokumentêr daaroor herenig

- Saamgestel deur MARELIZE POTGIETER

DIS opvallend hoe skraal die twee vroue is. Hulle omhels mekaar en hou mekaar ’ n rukkie vas. Dan begin hulle praat – eers onseker, maar later vloei die woorde asof ’n sluis oplaas oopgetrek is. Dit lyk na ’n herontmoet­ing van twee ou vriendinne, maar die kort vrou met die bruin krulhare is Zola Budd (deesdae Pieterse), eens die kaalvoet-wonderkind van SA atletiek. En die blonde Amerikaner is Mary Decker Slaney. Hulle is hier om die spoke van hul ontmoeting meer as 30 jaar gelede ter ruste te lê.

Hulle ontmoet vandag op die toneel van die pynlike gebeurteni­s tydens die Olimpiese Spele van 1984: die Memorial Coliseum-stadion in Los Angeles. Dis hier waar Mary in die 3 000 m-eindstryd neergeslaa­n het nadat sy per ongeluk met Zola kontak gemaak het.

Dit was ’n fratsongel­uk, maar dit het sensasie veroorsaak en albei vroue diep geraak. Mary was bitter teleurgest­eld en kwaad; Zola was depressief oor die vyandige reaksie van die skare.

Die voorval het hul name vir altyd aan mekaar gebind en ’n nuwe dokumentêr daaroor, The Fall, het hulle vandag herenig.

In ’n greep uit die fliek pluk die wind aan Mary (58) en Zola (50) se hare terwyl hulle in die leë stadion gesels. Hulle lyk rustig, so asof die plek en sy pynlike her- innerings lankal vergete is. Maar later word dit duidelik dit bly hulle by.

Vir die Bloemfonte­iner (toe 18) was dit nie al beproewing nie. Aktiviste teen apartheid het op haar geskree en gespoeg. “Ek voel nog kwaad vir mense wat my vir apartheid blameer het en wou hê ek moes verantwoor­delikheid daarvoor aanvaar. Maar ek’s nie bitter nie,” sê sy. Hoe voel die twee vroue oor die fliek? “Ek het geweet die dokumentêr sal die swart boks in my geheue oopmaak wat ek sedert daardie dag nooit oopgemaak het nie. Ek het gedink die tyd daarvoor het aangebreek,” sê Zola.

Mary erken sy dink tot vandag toe aan die wedloop. Die fliek was vir haar “bevrydend”.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa