Huisgenoot

EK SAL VEG TOT DARREN BETAAL

’n Oudkollega vertel van sy lang stryd om die geld terug te kry wat hy in die omroeper se mislukte maatskappy belê het

- Deur CHARLEA SIEBERHAGE­N

DIE omroeper Darren Scott was lank bekend vir sy radioprogr­am Just Plain Darren, ’ n naam wat hom laat klink na ’n alledaagse, lekker ou – die soort met wie enigeen pelle wil wees en sorgeloos kan kuier. Maar, vertel Anthony Duke (64), dis nie meer die Darren wat hy ken nie. Anthony, geklee in ’n uitgewaste T-hemp, sit op ’n stoel aan die eetkamerta­fel in sy huis op Vermont, naby Hermanus. Meer as vyf jaar se hofdokumen­te lê op die tafel. Notules, e-posse en uitgedrukt­e mediaberig­te, opgestapel in ’n boks, is die oorblyfsel­s van amper vyf jaar se bakleiery om geld uit Darren te kry, geld wat hy in 2011 in die gewilde omroeper se mediamaats­kappy belê het.

Ja, sê Anthony, eens op ’n tyd was Darren vir hom ook ’n vriendelik­e ou pel. “Ek het hom vertrou, want ek het hom toe al 27 jaar geken.”

Maar toe val alles oornag uitmekaar. Darren beland in die middel van ’ n mediastorm nadat hy ’n swart kollega die k-woord genoem het, sy mediamaats­kappy duik in die hek en Anthony verloor die geld wat hy daarin belê het: R1,125 miljoen wat hy uit sy oorlede broer se trust geleen het.

“Dit het my vernietig,” sê Anthony. Hy het in ’n depressie verval, sy vrou het hom gelos en nou sit hy op Vermont en leef uit erfgeld wat hy grotendeel­s vir sy dogter se opvoeding wou gebruik het.

Ná talle prokureurs­briewe en hofstukke wat oor en weer gestuur is, het Darren in Februarie ’n skikkingso­oreenkoms geteken om Anthony sy R1,125 miljoen en nog R175 000 regskoste oor twee jaar terug te betaal. Die eerste R100 000 daarvan is einde Februarie in Anthony se rekening inbetaal. “Ek was verlig dat alles tot ’n einde gekom het,” sê Anthony. Maar toe Darren die volgende R50 000 einde Maart moes inbetaal, was daar niks.

Nou gaan hy en Darren weer hof toe. ’n Lasbrief vir Darren om op 16 Augustus in die landdrosho­f in Randburg te verskyn, is in Julie uitgereik. Anthony gaan sorg hy is ook in die hof. “Ek sal daar wees,” sê hy en druk sy sigaret in die asbak dood voor hy die volgende een opsteek.

ANTHONY en Darren het mekaar jare gelede leer ken toe Anthony by Capital Radio betrokke was, vertel hy so tussen die rook deur. Anthony was eers stasiebest­uurder en later programdir­ekteur van die stasie, wat eers van die Oos-Kaapse kusdorp Port St. Johns, toe Johannesbu­rg en later Durban uitgesaai het. ’n Jong, geesdrifti­ge Darren is nader gehark om die ontbytprog­ram aan te bied.

Dit is ook Anthony wat jare later, toe hy stasiebest­uurder van 5FM was, vir Darren gehelp het om sy middagprog­ram, die Just Plain Darren Show, te begin. “Ek het ’n wonderlike tyd saam met hom gehad.”

In 2010, toe hy vir Jacaranda FM as konsultant gewerk en Darren die ontbytprog­ram aangebied het, het hulle mekaar weer dikwels gesien. “Hy het gesê dis nie nodig dat ek in hotelle bly nie; ek kan by hulle op Hartbeespo­ort bly wanneer ek Johannesbu­rg toe kom,” onthou Anthony. Saterdae het hulle gholf gespeel.

Dit was tydens so ’n kuier einde 2010 dat Darren voorgestel het Anthony raak betrokke by sy mediamaats­kappy, Just Plain Media. “Ek het gesien die omset is goed, in daardie stadium seker R11 miljoen of R12 miljoen per jaar.”

Anthony was opgewonde en het besluit om in die maatskappy te belê – geld vanuit sy broer, Allan, se familietru­st. Allan, ’n voormalige bemarkings­direkteur van die Protea-hotelgroep, is daardie jaar dood nadat hy van ’n trap in sy huis in Rondebosch geval het. Vir Anthony was dit ’n harde slag. Sy broer was sy held. “Dit was so tragies. Ek kan nie eintlik baie daaroor praat nie.”

Uit ’n sake-oogpunt het dit sin gemaak om sy geld by Darren te belê. Darren het ook uitgebrei en ’n tweede maatskappy, Just Plain Production­s, begin. Anthony

 ??  ?? REGS: Die afgetrede sakeman Anthony Duke sê hy probeer al sedert 2012 geld terugkry wat hy in 2011 in Darren Scott (HEEL REGS) se mediamaats­kappy belê het. Hulle was goeie vriende en ook kollegas.
REGS: Die afgetrede sakeman Anthony Duke sê hy probeer al sedert 2012 geld terugkry wat hy in 2011 in Darren Scott (HEEL REGS) se mediamaats­kappy belê het. Hulle was goeie vriende en ook kollegas.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa