HOEKOM SÊ ONS SO EKSKUUS?
Dis gewoonlik omdat ons met skuldgevoelens grootgemaak is dat ons so eindeloos ekskuus vra, sê die sielkundige en skrywer van selfhelpboeke Shani Grové.
“Ons is van kleins af laat verstaan alles is op die een of ander manier – regstreeks of onregstreeks – ons skuld, soos wanneer jou pa iets doen waarvan jou ma nie hou nie en sy vir jou sê: ‘Jou pa maak so.’ Iemand wat met sulke skuldgevoelens grootgemaak word, kan eendag miskien baie selfvertroue hê, maar die onderliggende breinpatroon bly om skuldig te voel en dan jammer te sê vir goed wat nie jou skuld is nie.”
Dié verskynsel kan ook sy oorsprong in die skoolstelsel hê waar die kind kwaai onderwysers het en so bang is dat hy konflik probeer vermy deur elke sin te begin met: “Jammer, Meneer/Juffrou,” sê dr. Susan Roets, ’n sielkundige van Pretoria.
“Dit gebeur ook by kinders wat sonder selfvertroue grootgemaak word dat die kind heeltyd minderwaardig voel en dus heeltyd verskoning vra vir hulself. Hierdie gedrag duur voort in die volwasse lewe.”
Maar ’n mens moet versigtig wees om te veralgemeen, sê die kliniese sielkundige Louis Awerbuck, bekend vir die program Wie Is Ek? op RSG. Jammer sê is nie altyd net omdat mense kleintyd sielkundig “gewond” is nie. Vir sommige mense getuig dit van goeie maniere.
Dit kom meer algemeen onder vroue voor. Mans se behoefte om mag uit te oefen is baie sterker as vroue s’n, sê Shani. “’n Vrou word grootgemaak om meer toegeeflik te wees.”
Susan stem saam en sê ’n vrou is oor die algemeen meer geneig om die vrede te probeer bewaar, al is dit ten koste van haarself.