03:30 tot 04:30 Tweede uur in die water
DIT het met ’n e-pos begin, ’n aanloklike uitnodiging om in ’n tropiese paradys die beste branders ter wêreld te gaan ry. Brett Archibald (toe 50) kon dit nie weerstaan nie en in April 2013 het die Kaapstadse sakeman Indonesië toe gevlieg vir ’n droombranderry-safari saam met agt van sy beste vriende.
In Padang, in die Indonesiese provinsie Wes-Soematra, het hulle aan boord gegaan van die Naga Laut, ’n boot wat hulle gehuur het om hulle na die afgeleë Mentawai-eilande, een van die mees eksotiese en gesogte branderryplekke ter wêreld, te neem. Maar binne ure het die boot ’n storm binnegevaar. Dit was die begin van Brett se nagmerrie-beproewing: Hy was seesiek, en terwyl hy in die middel van die nag oor die rand van die vaartuig opgebring het, het hy oorboord geval. Die ergste van alles: Niemand het dit sien gebeur nie.
In dié boeiende uittreksel uit sy nuwe boek, Alone, onthul die dapper SuidAfrikaner hoe hy langer as 28 uur teen ’n haai, bloublasies, bloeddorstige seemeeue en sy eie geestelike demone moes veg terwyl hy probeer land toe swem het.
VAN die beskutting van die bodek strompel ek uit na die Naga Laut se bakboordreling en tot in die volle geweld van die storm. Deinings rys uit die see op. Coke en gal skiet in my keel op en ek spoeg dit oor die rand van die boot, maar die wind gooi dit in my gesig terug. Ek het skaars my mond afgevee, toe skiet nog ’n projektiel deur my diafragma op en ek hang nog ’n keer oor die rand.
My kop klop; my maag is ’n draaikolk van pyn. Ek bring ’n derde keer op. Ek voel duiselig terwyl ek na die wit water afkyk wat onder my maal.
Toe is daar ’n ontploffing in my skedel, asof ’n elektriese stroom van die onderpunt van my ruggraat optrek en my teen die agterkop klap.
My laaste gedagte is as ek weer so gaan opbring, gaan ek my bewussyn verloor.
En dis toe wat gebeur.
Toe ek weer kyk, is ek in die see, wawyd wakker. Die wind huil en die branders bruis om my. Omtrent so 30 m vorentoe vaar die Naga Laut stadig van my weg.
“Haai!” skree ek. My keel is dik, asof ek ’n tennisbal ingesluk het.
Ek skree weer. En weer. Maar die branders en die wind en die reën steel die klank. Diep in my binneste weet ek ek roep vergeefs om hulp. Niemand het my oorboord sien val nie.
Ek kyk hoe die boot wegvaar, ’n speelding in die verte.
“Ek gaan hier sterf,” sê ek vir niemand in die besonder nie. Tog ervaar ek geen vrees nie, net ’n oorweldigende gevoel van hartseer dat ek nooit weer my pragtige vrou, Anita, en my kinders, Zara en Jamie, gaan sien nie. Ek sluk te veel water. Dit veroorsaak dat ek net so hewig opbring as oor die rand van die boot – folterende braakbewegings wat my maag laat opruk.
Wat ’n glanslose manier om te sterf, dink ek.