Huisgenoot

06:45 tot 07:15 28½ uur in die water

-

Dan. ’n Spikkel in die verte. Vasgemeer tussen die eilande. Dit breek die donker lyn waar die see die lug ontmoet. Dis onmiskenba­ar. ’n Boot. Terwyl ek soutwater uitspoeg, kyk ek weer op. Dis steeds daar. Die swart kruis. Is dit die doodsengel? God wat my kom haal? Ek skraap my laaste krag bymekaar en trap water. My hart klop teen my ribbekas terwyl ek kyk hoe dit groter word. En nog groter.

’n Kruis. God se teken. Skielik besef ek dis die mastop en spreier van ’n jag – ek kan nou sy maswerk sien. En dit kom na my kant toe.

Toe rys die boeg van ’n boot in my gesigsveld op. Sy hele lengte kom in sig. Ek skat dis sowat 400 m ver. Daar’s beweging op dek. Die mans lyk soos miere. Ná ’n paar minute draai hy van my weg – net effens na stuurboord toe.

“Nee, nee, nee!” skree ek. Dit kan nie weer gebeur nie. Ek maak ’n vinnige berekening in my kop: Die jag is sowat 300 m ver. Driehonder­d slae, maat. Dis al wat ek nodig het.

Ek sluit ’n ooreenkoms met myself. Dit is jou laaste probeersla­g, Brett. Ek laat sak my kop en ek swem. Ek tel met my kop na onder: een, twee, drie, vier, vyf, ses, sewe, agt, nege, 10 . . . Toe ek by 300 kom, hou ek op. Die boot kom reguit na my toe, net 100 m weg.

“Haai! Haai!” My stem is weg. “Hier, hierso!”

My woorde kom sag uit, pateties, maar ek het nog nooit so vasbeslote gevoel om gehoor te word nie. Ek haal alles uit my longe en keel wat ek kan. Ek hou nie op skree nie.

Ek kan nou die hele romp van die boot sien. In die volle glorie van die oggendson gloei hy, asof hy brand. Ek gee ’n laaste kreet en met my laaste bietjie energie lig ek my lyf so hoog uit die water as wat ek kan.

Ek hoor ’n gil van die voordek af. Die boot draai reguit na my toe.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa