05:30 tot 06:30 28ste uur in die water
uitmaak – ’n seemeeu. Hy draai bo my in die laaste minute van daglig. Hy hou aan op my afpyl en krys dreigend terwyl hy bo in die donkerte hang, sy bek soos ’n skêr. Dan voel dit of my gesig ontplof. Omdat my aandag afgetrek was, het ek nie die tweede – en groter – voël van my linkerkant af sien kom nie. Hy tref die brug van my neus; dit voel asof dit heeltemal van my gesig afgesny is. Ek onthou die pyn van die keer toe ek in ’n kroeggeveg met die kop gestamp is.
Hy het na my oë gemik, maar toe ek my kop op die laaste oomblik draai, het hy sy teiken gemis.
Ek lig die vel van my neus af en voel bloed na my lippe afsyfer. Maar gedagtes maal deur my kop: Seemeeue bring nie die nag op see deur nie. Hulle slaap op land. Ek moet naby die kus wees. Ek is te bang om my oë toe te maak, vreesbevange dat ek die vissersboot uit die oog sal verloor. Ek swem, baie stadig, vir wat soos 45 minute voel.
Dan die geluid van ’n enjin wat aangeskakel word.
Die vissersboot draai dwars teen die horison, sy buitelyn duidelik teen die lug met dagbreek. Dis sowat 100 m ver. Hy mik in ’n oostelike rigting – weg van my af – en begin wegvaar. Ek kyk stom van skok toe.
Iets in my knak. Daardie boot was my laaste kans. Ek begin skree. Slaan die water met kragtelose arms. “F** dit. God, vat my, ek is klaar!” Ek kan nie ophou bewe nie. Ek is na aan hipotermies. Om myself te verdrink sal ’n verlossing wees. Op daardie oomblik besluit ek om dit te doen.
Ek haal diep asem en vul my longe met die soutwater wat teen my gebreek en my geslaan het sedert ek daarin verstrik geraak het. Dis nie pynlik nie. Ek asem uit en warm vloeistof stroom uit my neus en mond. Ek bly na die lig bo my kyk.
Ek asem nog ’n long vol seewater in. Skielik brand ’n ondraaglike pyn om my tong, asof ’n martelaar dit met ’n stomp mes uit my mond sny. Die sout in die water brand elke oop wond.
Ek probeer ’n derde keer. Dan ’n vierde keer. Maar die pyn om my tong is ondraaglik. Swart kolle dans voor my oë.