AS JY JOU WERK HAAT
IS JY een van daai mense? Die nuwe jaar het nog skaars begin en jou moed het reeds in jou skoene gesak. Hoekom? Want jy is net mooi niks lus vir nog ’n jaar by jou mislike werk nie. Baie mense sal sê die antwoord is voor die hand liggend: As jou werk jou verveel en jou kollegas jou irriteer, moet jy ’n ander werk kry. Maar dit is makliker gesê as gedaan. Nie almal van ons kan bedank nie.
Wat kan jy doen as jy teen wil en dank in jou onaangename pos moet vasbyt? In sy nuwe boek, How to Live a Good Life, gee die adviesskrywer Jonathan Fields raad.
IN 1988 was daar ’n rolprent, Coming to America, waarin Eddie Murphy die ryk koninklike prins Akeem speel. Hy was op soek na ’n vrou wat hom sal liefhê vir wie hy werklik is, eerder as oor sy titel. Hy verkas toe na New York, hou sy koninklike agtergrond geheim en gaan werk in ’n kitskosrestaurant, waar hy mop en skoonmaak.
Ek geniet ’n stroperige liefdesverhaal net soveel soos enigiemand anders, maar die een ding wat my uit dié fliek bybly, was hoe vrolik, dankbaar en trots sy karakter was terwyl hy ’n werk verrig het wat vir baie ander sieldodend sou wees; dit bied te min geld en status.
Ek het al baie sulke werke gedoen, van skottelgoed was en spoorwegwerk tot lotery-inskrywings sorteer. Dit maak nie altyd saak watter werk jy doen en hoeveel jy verdien nie; jy kan ’n breinchirurg wees en steeds sielsongelukkig wees. Die groot waarheid is die volgende: As jou werk jou uittap, gaan dit mettertyd al die vreugde uit jou lewe tap.
Nou hoekom bedank jy nie as jy nie jou werk geniet nie? Ons hoor dié voorstel baie in selfhelpgroepe, maar dis nie so eenvoudig nie. Hoe verder jy in jare aanstap, hoe moeiliker is dit om daardie raad te volg. Om alles te los, selfs iets wat jy haat, veroorsaak pyn en ontwrigting vir jou en dié wat op jou staatmaak.
Dan is daar nog ’n waarheid, dalk ook vir jou: Vir miljoene mense is dit net onmoontlik om te bedank, al is jou werk moeilik en jou loon min. Miskien moet jy kinders of bejaarde ouers onderhou; dan kan jy nie net jou werk los nie.
Tog is daar hoop. Sê nou net jy kon die pyn van ’n bedanking vermy (of erken bedanking is buite die kwessie) en dit gelyktydig draaglik of selfs sinvol maak om in jou pos aan te bly. Sê nou net jy kon jouself leer om jou werk te geniet. Nie omdat die werk verander het nie, maar
Jou werk is so goor, jy is gereed om uit te stap – maar waarheen? ’n Nuwe boek bied ’n ander oplossing . . .
Jy kan amper enige werk of taak draaglik maak, selfs lekker
omdat jy verander het.
In die boek Man’s Search for Meaning vertel die psigiater Viktor Frankl sy familie is tydens die Tweede Wêreldoorlog in die konsentrasiekampe uitgewis en hy het gruwels aanskou. Die Nazi’s het hom in dié tyd as dokter laat werk en so het hy oorleef. Hy het betekenis in sy lewe gevind deur ander se swaarkry te verlig, en dit het hom help deurdruk.
“As ons nie ons omstandighede kan verander nie, moet ons onsself verander,” het Viktor geskryf. Dis die beginpunt: die idee dat jou belewenis van jou werk nie net deur jou omstandighede bepaal word nie. Die idee dat jy waarde uit jou werk kan put deur anders daarna te kyk.
Deur die jare het ek dikwels gehoor van nonne wat dekades lank elke dag op presies dieselfde manier die nederigste herhalende take moet verrig, soos skoonmaak en basiese dienste. Baie mense sou dié pligte dalk verwens en gevoel het dit beteken niks, maar die nonne het dit gesien as ’n manier om ’n diep verbintenis tot hul gemeenskap en God uit te druk.
En tog het ek al baie gewonder: Wat van die “regte wêreld”? Sê nou jy is die opsigter by ’n skool of jy werk langs ’n fabrieksvoerband vir die minimum loon? Of jy is ’n prokureur wat haar werk haat en voel sy sit in goue handboeie vas? Of die versorger wat na ’n knorrige familielid moet kyk? Of gestel jy moet heeldag vreemdelinge bel wat nie gepla wil word nie en hulle geld vra.
My vriend Adam Grant het oor dieselfde vraag begin wonder. Hy het navorsing gedoen oor telebemarkers wat donasies vir ’n openbare universiteit moes insamel. Dis ’n moeilike werk; jy bel heeldag en aldag mense wat niks met jou te doen wil hê nie en vra hulle tyd en geld. Die betaling is min, die werk eentonig, en amper almal met wie jy praat, verwerp jou. Dié wat wel reageer, is gewoonlik geïrriteerd en sê jou sleg. Emosioneel laat die werk jou voos.
Wat het Adam gedoen? Hy het die werknemers aan hul groter doel herinner. Binne vyf minute het hy alles verander. Hy het vasgestel die telebemarkers vra geld om studiebeurse te befonds, maar hulle het nog nooit iemand ontmoet wat deur die beurse bevoordeel is nie. Adam het ’n klomp beursstudente genooi om die telebemarkers te vertel hoe die beurse hul lewe verander het.
Die impak op die werkers was enorm. Nou het hulle nie meer net vir geld gewerk nie; hulle het gehelp om regte, lewende studente te help, om mense se lewe te verander. Wat eens eentonig was, was nou betekenisvol. In die daaropvolgende maand het die telebemarkers wat die studente ontmoet het twee keer soveel tyd op die foon deurgebring en twee keer soveel geld as hul kollegas ingesamel.
Die navorsers Amy Wrzesniewski, Justin Berg en Jane Dutton het iets soortgelyks bevind. Hulle het gekyk na die mense wat in ’n hospitaal skoonmaak. Ander personeellede en pasiënte behandel hulle dikwels met nare minagting. Tog doen dié mense dikwels veel meer moeite as wat die werk van hulle vereis. Hulle doen vir pasiënte gunste en gesels met hulle asof hulle lid van die sorgspan is. ’n Mens sou dit nie verwag in so ’n oënskynlik vervelige werk nie.
PLEKS daarvan dat ons hard daaraan werk om alles so goed moontlik te laat verloop, doen baie van ons alles wat ons kan om ons werk vir onsself onaangenaam te maak. Ons besef dikwels nie eens hoeveel ons bydra om ons werk met ons giftige sienswyse ondraaglik te maak nie.
Daar is enkele uitsonderings, maar jy sal agterkom jy kan amper enige werk of taak draaglik maak, selfs lekker. Maar die groot vraag is: Hoe kry jy dit reg? Eerstens moet jy meer aandag gee aan jou lewe buite die werk en meer tyd afstaan en moeite doen met die aktiwiteite en verhoudings wat jou energie gee. As jou lyf en gees gesond is en goed funksioneer, raak alles beter.
Die ander deel is om agteruit te tree, na jou huidige werk te kyk, ’n paar vrae te vra en veranderings te maak.
Die mooi ding hier is dat die kleinste veranderings dikwels die grootste verskil maak. Ons het dit gesien in Adam se vyf minute lange ingryping met die telebemarkers, en ons sien dit in die kort geselsies wat die hospitaalpersoneel met pasiënte het om hulle te herinner aan hoekom hulle daardie werk doen.
Nuttige vrae om jouself af te vra
As ek met elke greintjie van my wese oortuig was ek moet in hierdie werk aanbly, as daar geen manier was om daaruit te kom nie en geen ander werk op my gewag het nie, wat sou ek dan kon doen om hierdie werk so aangenaam moontlik te maak?
Neem kennis: As jou antwoord “niks” is en jy het minder as 10 sekondes nagedink, is dit feitlik seker dit is ’n leuen wat jy self uitgedink het. Daar is altyd minstens een ding wat ’n mens kan doen. Wanneer jy eers daaraan gedink het, lei dit dikwels tot nog ’n idee, en nog een.
Watter verhouding kan ek met meer moeite bou, herstel of verdiep sodat my werk beter sal raak?
Watter take en verantwoordelikhede kan ek prysgee, aan iemand afstaan of anders doen om my werkervaring anders te maak? Vir watter nuwe take kan ek begin pa staan?
Neem kennis: ’n Mens verwag die teenoorgestelde, maar soms kan jy jou werk juis meer bevredigend maak deur meer van die “regte” take op jouself te neem.
Is daar ’n groter doel, gemeenskap of mens wat gedien word deur die werk wat ek doen?
Hoe kan ek my lewe buite die werk inrig sodat ek meer vreugde, verbintenisse en vryheid kan beleef?
Doen ek elke dag moeite om die dinge te doen wat my energie gee en my gelukkig maak?