Huisgenoot

WAT ’N STORIE!

-

was die Mark wat ons so lank nie gesien het nie, die Mark wat ons geken het. En dit was die Mark wat twee weke later dood sou wees.

“Ons kan dit op 14 Julie doen,” het hy gesê toe dr. M ’n paar datums voorstel. “’n Goeie dag om te sterf,” het hy gemeen. Selfs toe was daar geen sweem van selfbejamm­ering of angs nie. In sy laaste maand het hy nie neerslagti­g geword nie. Hy was verlig. Dit was nie meer nodig om te probeer nie; dit was verby. Geen stryd, geen pyn nie. Al wat oorgebly het, was die niks, die oneindighe­id.

Dit was onwerklike weke. Dit het gevoel soos ’n swak rolprent, maar ons het tog gelag, baie gelag.

En wanneer trane ons onverhoeds betrap het, het Mark nog ’n sluk bier gevat en sinies gespot ons het darem nog die foto’s. En dat die herinnerin­gs sou bly. Clichés wat hom in die verlede sou laat gril, het hy nou links en regs vir die pret aangehaal.

Mark het nie regtig ’n emmerlys gehad nie. Hy wou wel nog een maal in Urk gaan paling eet, die bottel wyn drink wat ons toe nie saam met ons pa in New York gedrink het nie, vir oulaas in ’n vriend se Dodge Challenger jaag (in die passasiers­itplek; hy was nie dom nie) en ’n dag lank vaar deur Weerribben, ’n natuurgebi­ed naby die plek waar ons grootgewor­d het. Dit was al.

Nou ja, New York . . . Dit sou nou nie meer kon gebeur nie. “Gaan jy maar volgende jaar saam met pa,” het hy gesê toe ons daaroor gesels, “en strooi dan my as van die Brooklyn-brug af. ’n Bietjie swem in die Hudson klink nie sleg nie.” Toe lag ons. Baie hard. Om weg te steek dat ons huil.

“Nog sewe uur,” het Mark gesê. Ons het op ’n bankie in ons ouers se tuin sit en rook.

Ek het geweet hy het lekker geslaap, want sy gesnork was oorverdowe­nd. Ek het langs hom op die bank lê en wonder hoe iemand ’n paar uur voor hy sou sterf so diep kon slaap.

Hy was wel hartseer, natuurlik; dit het ek die vorige dag gesien toe hy sy twee seuns die laaste keer sien.

Die laaste maande het hy nie gehuil nie, maar wel toe sy seuns kom groet. Hulle het geweet pappa was siek en sou nie weer gesond word nie, maar nie dat hy die volgende dag nie meer daar sou wees nie. Dit het Mark goed geweet; daarom het hy gehuil.

“Hooikoors,” het hy deur die trane gesê toe hulle hom vraend aankyk.

“Is nie,” het die jongste gesê en nog ’n keer op sy pa se skoot geklouter. Ek het aan Sammie gedink. Aan hoe ek sou voel as ek moes weet ek hou my dogter die laaste keer vas.

Dit was gister. Nou is dit vandag. Nog ses uur. Ons het vasbeslote verder gerook. Mark het bier gedrink; ek koffie. My hande was klam en my kop het gesuis van die min slaap. Dit was darem mooiweer.

Dr. M sou drieuur se kant kom. Ons het heeldag in die tuin gesit; my ouers, my sussie, Mark se beste vriend en later die dominee, want wat die hemel betref, weet jy mos maar nooit. Ons het gelag, gedrink, gerook, broodjies met ham en kaas geëet en frikkadels­op wat die buurvrou gemaak het.

Kwart voor drie het dr. M opgedaag. Sy het ’n swart rok en sportskoen­e aangehad, sy het donker hare gehad en was nog skaars 40. Mark het gesê hy sou haar beslis wou uitgeneem het as hy nie van plan was om te sterf nie. Ek kon dit begryp, al was dit die vrou wat my broer sou doodmaak.

Die grappies het opgehou. Dit het stil geword in die tuin, behalwe vir ’n paar raserige swaeltjies.

Dr. M het verduideli­k wat sou gebeur. Dat Mark op die bed moes gaan lê, dat hy rustig moes bly, hom van alles moes probeer losmaak.

Die eerste spuit bevat ’n soutoploss­ing, het sy gesê; die volgende een die slaapmidde­l. “In baie gevalle is dit al genoeg,” het sy gesê, maar Mark se hart is sterk; daarom sou dit die volgende spuit wees wat hom sou laat sterf. “Dié spuit sal die hart tot stilstand laat kom.”

Ek het begin huil. My ouers ook. Eintlik almal, selfs Mark. Nie omdat hy bang was nie, maar omdat hy ons sien huil het. Ek wou nie, maar die trane het vanself gekom.

Toe dr. M vra: “Sal ons?” het hy die laaste witwyn in sy keel afgegooi. Ons sou nog een sigaret rook, het ons vooraf afgespreek. Net soos in die flieks. “Mark,” het ek gesê, “Mark, ons rook nog enetjie, nè?”

“Nee,” het Mark gesê, “nou gaan ek dood.”

Hy het op die bed gaan lê. Op sy Themp het gestaan “use less” of “useless”; ’n mens kon dit verstaan soos jy wou. Daarby jeans en sy Jeffery-West-puntskoene.

Ons het gehuil, gesê ons hou van mekaar, alles sou uitwerk, ons sou vir mekaar sorg, dat ons mekaar nooit weer sou sien nie. Ons het mekaar vasgehou. As dit nie so verskrikli­k was nie, sou dit mooi gewees het.

Dr. M het gesê: “Wees rustig, Mark, maak jou maar los.”

En: “Is jy 100 present seker jy wil dit doen?”

In my kop het ek nee geskree. Mark het ja gesê. Dr. M het die eerste spuit leeggedruk. Ek wou wegloop. Na waar Sammie was. Buitentoe.

Dr. M het die tweede spuit leeggedruk. Mark se oë het omgedop. Hy het diep gesug. Sy laaste.

Dr. M het die derde spuit leeggedruk. Sy gesig het begin verander, begin kleur verloor. Mark was weg. My broer was dood. S ’ N VERKORTE WEERGAWE VAN DIE EERSTE HOOFSTUK WAT MARCEL LANGEDIJK GESKRYF HET OOR DIE DOOD VAN SY BROER. SY BOEK SAL AAN DIE EINDE VAN DIE JAAR BY DIE NEDERLANDS­E UITGEWERY Q VERSKYN.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa