Huisgenoot

‘Ek was elke keer die een wat jou moes keer om jou lewe te neem’

-

IN ONS vorige onderhoud met Louisa het sy oor Kobus gesê: “Hy was baie streng en dominerend met die kinders. Hy sou hulle verskree en slae gee. Ek was bang vir hom” (As ek net geweet het dinge sou so ver gaan . . ., 17 November 2016).

In dieselfde onderhoud het sy vertel sy en Kobus was aanvanklik smoorverli­ef. Hulle het mekaar op Orania in die Noord-Kaap ontmoet, daar getrou en tot kort voor Poppie se dood daar gewoon.

Maar die probleme het gou kop uitgesteek. Louisa het vertel Kobus was bitter besitlik en dat sy nooit toegelaat is om sonder hom iewers heen te gaan nie.

En tog, in haar briewe vanuit haar sel praat sy net oor haar liefde vir en verlange na hom. Sy skryf oor haar verwarring en vrese en vra sy leiding.

In een brief vertel sy hom van die beweerde voorval op 2 November waartydens ’n vrou haar as ’n polisiebea­mpte voorgedoen en met Louisa na Roodepoort gery het. Toe het Louisa aan Huisgenoot gesê die vrou het haar aangerand en daarop aangedring dat sy “die waarheid oor Poppie vertel”.

Volgens Louisa kon sy later daarin slaag om uit die motor te ontsnap. “Ek vertrou mense nie meer nie. Ek het swaar geleer terwyl ek om my lewe moes veg toe ek ontvoer is,” skryf sy aan Kobus oor die voorval. “Ek is met ’n rewolwer gedreig en geslaan. Ek sukkel nog om te verwerk dat sy my wou dood hê – net omdat Poppie dood is en hulle dink ek is skuldig,” skryf sy.

Daar is geen teken in haar briewe dat sy Kobus verkwalik of verantwoor­delik hou vir haar dogter se dood nie. “My liefste Kobus, “Ek hoop nie jy gee om dat ek aan jou skryf nie; ek het niemand anders om mee te praat nie. Ek wens so ons was nie hier binne nie. As ek jou net kan sien en met jou praat. Ek haat jou glad nie. Ai, my lief. Ek wil jou nie graag bekommer oor goed daar buite nie.”

Die datums en volgorde van die briewe is onduidelik, maar in ’n stadium klink Louisa ál meer wanhopig en soek sy troos by Kobus.

“Sê my asseblief: Kan ek regtig die mense vertrou wat hier was? Ek ken hulle nie en is baie bang om hulle te vertrou. Ek vertrou net jou.

“Liefie, ek haat jou nie en het jou nodig, asseblief. Lief, praat asseblief met my? Kan ek asseblief nog met jou praat, asseblief? My kop is baie seer. Ons is agt hier binne en nou baklei hulle ook nog en ek hou niks van ’n bakleiery nie. Ek wens so ek kon met jou gepraat het; net van aangesig tot aangesig gesels.” “Jou verlangend­e Louisa “Ns. Ek is baie lief vir jou.”

IN SY briewe antwoord Kobus op Louisa se liefdesver­klarings. “My engel, “Ek sit hier in die selle en kan nie onthou hoe ek hierdie punt bereik het nie. Ek kan nie dink dat ons ooit so baie probleme in ons verhouding ge- had het dat dit ons uitmekaar sou dryf nie. Soos ek hier sit, is ek nog net so lief vir jou soos toe ons daardie dag in die kerk op Orania ewige trou aan mekaar beloof het.”

Maar in dieselfde brief is Kobus ook verwytend teenoor haar: “Jy het ’n verklaring afgelê en geteken dat jy bang was ek vermoor jou en jou familie. Hoekom? Ek het nooit gedreig om jou seer te maak nie. Ek was elke keer die een wat jou moes keer om jou lewe te neem en jou kalmeer het.

“Engel, jy is my lewe. Ek wens ek kan een dag saam met jou verruil vir ’n leeftyd in die tronk en ’n ewigheid in die hel.

“Jy blameer my vir alles wat skeefgeloo­p het . . . Een ding wat my pla, is: Daar is so baie plekke waar Poppie daardie hou kon kry, en dit was net ’n kwessie van tyd voor sy sou sterf.”

Kobus skryf aan Louisa hy was nie eens tuis toe Poppie beseer is nie en verwys na ’n voorval drie dae voor Poppie se dood. Sy het toe glo “ook ophou asemhaal” en hy beweer dit was hy wat haar weer help asemhaal het.

Dan sluit hy af: “Ek hoop jy weet jy is in my lewe en dat ek nie langer sonder jou kan leef nie, my engel. My lewe is verby. Die enigste ding tussen my en die dood is ons hemelse Vader, ons God.”

Tydens Louisa se borgtogaan­soek het die ondersoekb­eampte voorts getuig hy het in sy nege jaar as speurder nog nooit beserings gesien soos dié wat Poppie opgedoen het nie.

“Daardie klein Poppie het oor haar hele lyf kneusplekk­e en merke gehad; van haar kop tot onder haar voete. ’n Ouer moes dit mos gesien het? As ’n ma, bad jy jou kind mos elke dag?”

Louisa en Kobus sal na verwagting op 25 Januarie vir die eerste keer saam in die hof verskyn.

 ??  ?? Louisa Koekemoer en haar man, Kobus, is in November 2015 op Orania getroud. Nou staan albei tereg op ’n aanklag van moord.
Louisa Koekemoer en haar man, Kobus, is in November 2015 op Orania getroud. Nou staan albei tereg op ’n aanklag van moord.
 ??  ?? LINKS:LIN Poppie se wrede dood het opslae gemaak. BO: Sy iis in die begraafpla­as op Westonaria begrawe.
LINKS:LIN Poppie se wrede dood het opslae gemaak. BO: Sy iis in die begraafpla­as op Westonaria begrawe.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa