WRAAK OP ’N WOORDVRYER
’n Facebook-minnaar se minnaresse bedink vir hom ’n spesiale verjaardagpresent
KAAPSTAD, eindelik!” Marina trap die petrolpedaal dieper weg en draai die ruit af. Die wind swiep deur die motor en sy vee haarslierte uit haar gesig.
“Ou Benneman, hier kom ons!” Sy kyk vlugtig na haar ma in die passasiersitplek. Susan sit met die stadskaart en beduie hoe hulle moet ry om by die oornagplek uit te kom. Dan lui Marina se selfoon. Sy skakel die luidspreker aan.
“Jis, ons is pas by die Paarl verby. Is julle gereed? Dit gaan die partytjie van alle partytjies wees dié. Ek ry nie verniet meer as duisend kilometer om my sê te kom sê nie. Moenie bekommerd wees nie. Ek het alles onder beheer. Hy sal kastig die eerste prys wen en dit deeglik kan vier. Sien julle almal dan halftwaalf by die restaurant. Ek sal sorg vir die res.”
Die foon lui weer en weer. Die afgespreekte plek en tyd word telkens beves- tig. Langs haar skud Susan haar kop en kyk na haar dogter. Haar kort, blonde hare waai argeloos in die wind. Sy hou met haar vingers op die stuurwiel tyd en sing hartlik saam met Francois van Coke. “Ek het genoeg gegee !” Die fyn plooitjies om haar oë en die hartseer trek om haar mond beklemtoon die passie waarmee sy saamsing.
Susan soek met haar vinger op die kaart die afrit wat hulle moet neem na die gastehuis in Plattekloof.
Teen die tyd dat hulle by hul oornagplek afgepak, gestort en aandete met ’n glasie pinotage afgesluk het, is Susan doodmoeg en Marina is dankbaar toe haar ma binne minute in droomland is. Sy haal ’n pakkie onder uit haar tas, pak die inhoud op die bed uit en giggel soos ’n skoolmeisie.
“Jy gaan dit nodig kry, ou maat!” mymer sy terwyl sy ’n geskenksak wat met bloedrooi harte versier is, sorgvuldig vol pak met beskuitjies, sjokolade, biltong, neute en droëvrugte. Haar boodskappie in die bloedrooi kaartjie met die goue hartjies word om die bottel aalwynsap gehang.
Marina sug tevrede en klim in die bed. Sy skakel haar skootrekenaar aan en maak Facebook oop. Vinnig werk sy deur die dag se geselsies en skryf ’n paar kommentare. Sy kyk op haar polshorlosie. Drie minute voor twaalf. Vinnig tik sy: “Ben van Heerden.” Sy profiel verskyn. “Tomorrow is Ben’s birthday. Write something on his timeline,” herinner die rekenaar haar. Sy begin tik vir hom ’n privaat boodskap.
Liefste Ben, baie geluk met jou verjaardag. Al is ek so ver van jou af, hoop ek jy sal ’n wonderlike dag vol pret en verrassings geniet. Hou moed, my liefste vriend. Dalk is ons volgende jaar in mekaar se arms en kan ek jou persoonlik gelukwens. Moenie alleen sit en jouself jammer kry nie; gaan
drink saam met ’n paar pelle ’n dop. Lovies Jou verste vriendin, Marina. Sy skakel die rekenaar af en skuif onder die duvet in. D IE volgende oggend skarrel Susan in die kamer rond, draai voor die spieël en knip haar tas toe. Marina se selfoon gons onophoudelik; sy kan nie voorbly met reageer nie. Eindelik gaan sit Susan op die rand van die bed. Sy sug.
“Toemaar, Ma, ek weet wat ek doen. Ná vandag gaan ons twee die Kaap die res van die week op horings neem.”
Sy stoot die duvet af en staan op. Terwyl sy aantrek en haar grimeer, sien sy haar ma hou haar angstig dop, al maak sy of sy lees. Sy weet hierdie hele ekskursie is ’n waagstuk, maar sy moet dit doen. A NSA VAN HEERDEN is in haar luukse kombuis in Rheedestraat, Plattekloof, koorsagtig besig om tertjies en southappies in borde te rangskik. Die verversings vir namiddag se tee by Ben se kantoor moet gereed wees voor sy werk toe ry.
Wanneer laas was hulle saam uit? Die nuwe onderneming neem al haar tyd in beslag. Sy ploeg al haar passie daarin, ook dié wat verspil is op haar man, wat lankal gastekamer toe getrek het. Die vernedering toe sy haar een aand mooigemaak het vir hom, aan sy deur gaan klop en hy haar weggestuur het, sal sy nie lig vergeet nie.
Terwyl sy kantoor toe ry, lui haar selfoon steeds onophoudelik. Sy druk die laaste oproep dood toe sy in die parkeerterrein stilhou. By haar kantoor beduie die ontvangsdame iemand wag reeds in haar kantoor. Sy stap deur. Die vrou wat by haar lessenaar staan, kom nader en steek haar hand uit.
“Marina Vermeulen. Aangename kennis, mev. Van Heerden,” groet Marina selfversekerd en gaan sit op die punt van die stoel waarna Ansa woordeloos wys.
Marina verduidelik sy is ’n marknavorser wat op suksesvolle sakevroue fokus. “Net ’n paar vrae, indien u nie omgee nie.”
Ansa kyk gesteur op haar horlosie. Voor sy beswaar kan maak, haal Marina haar notaboekie en pen uit. “Volle naam en van?” “Anna Susanna van Wyk,” antwoord Ansa.
“Getroud, en indien wel, u man se naam en van?”
“Benjamin van Heerden.” “Adres?” “Rheedestraat, Plattekloof,” bevestig Ansa. Sy kyk weer op haar horlosie. “U man se geboortedatum?” “15 April 1975.” Ansa staan op en stap deur toe. “Nou moet jy my verskoon. Vra asseblief die ontvangsdame as jy nog iets wil weet.”
Marina knik en verlaat die kantoor. Toe sy by haar motor kom, haal sy haar selfoon uit en bel Ben se nommer. Sy sekretaresse antwoord. Sy val soos ’n wafferse bemarker weg. Hoe meer Ben se sekretaresse huiwer, hoe meer oorredend verduidelik Marina Ben het ’n ete vir twee by ’n restaurant in die Waterfront gewen. Dis ’n spogplek en ’n eenmalige bederf. Hy moet dit benut en sy vrou saambring. Die sekretaresse se besware help niks; Marina besing die waarde van die prys so dat al die besware op dowe ore val.
Toe sy die oproep beëindig, is sy uitasem en kyk nie na haar ma nie. Susan sit doodstil. Hulle ry deur die nat strate en Marina is bly toe sy haar ma eindelik by haar vriendinne by die Mount Nelsonhotel kan aflaai. D IE spogrestaurant is ’n gewilde ontmoetingsplek vir sakelui. Gestyfde tafeldoeke, porselein, silwer-eetgerei en kristalglase, sien Marina.
Die hoofkelner lei haar na die lang tafel voor die groot venster. Tien sitplekke. Rooi rose in langsteelvase met baie loof spel feestelikheid. Sagte jazzmusiek op die agtergrond dreig ’n oomblik lank om haar drome van ’n lewensmaat weer te laat opvlam.
Sy gaan staan voor die venster en kyk oor die hawe. Hoe het sy nie vanoggend nog gehoop alles is ’n vreeslike fout nie. Selfs voor Ansa se lessenaar het sy nog in haar binneste gepleit dat Ansa se Ben nie dié Ben is nie. Maar nou weet sy sy het die regte ding gedoen. Gister se uitmergelende rit van Johannesburg was die moeite werd.
Toe sy die vrolike vrouestemme hoor, draai sy om. Saam-saam kom hulle aangestap. Sy ken die gesigte. Hulle is altyd op Facebook. Daar is Anne met die dubbelken, Sarina wat droom van ’n tweede kans, Elsa met die fletsblou oë wat altyd die stout grappies kwytraak en . . . en . . .
Almal praat gelyk. Hulle groet, maak formeel kennis en staan die hele een kant van die restaurant vol. Die hoofkelner wys na hul geskenkpakkies en sakkies. Almal rooi. Almal met hartjies op. Hulle bring ’n ekstra tafel vir al die geskenke.
Eindelik sit almal. Die kelners skink vonkelwyn en die vroue drink. Magriet staan op en tik met ’n vurk teen haar glas.
“Ouens, vandag neem ons wraak. Hierdie middernagtelike woordvryer moet ’n les leer. Facebook-minnaars het baie gesigte.” Sy lig haar glas. “Ons drink op ons vryheid!” Glasies klink.
“Op ons vryheid,” koer hulle. Dit kwetter en lag terwyl hulle die spyskaart bestudeer en die deur ongemerk dophou. T ERWYL Ben op en af ry in die oorvol parkeerterrein, praat Ansa aanhoudend langs hom. “Ek kan nie glo jy val wraggies vir ’n goedkoop advertensiefoefie nie.”
Ben antwoord nie. ’n Gratis ete by dié plek is nie te versmaai nie. En Ansa sal dit gou besef, troos hy homself.
Eindelik parkeer hy die motor. Terwyl hulle koes-koes teen die reën die straat oorsteek, paai hy sy vrou.
“Ja, oukei. Oukei. Jy kan net ’n voorgereg eet, dan sal ek vir jou ’n Uber bestel. Solank ek net my prys kry. Dalk . . .”
Die hoofkelner wys na die tafel vir twee langs die tafel met kwetterende vroue.
Ansa herken die vrou wat die oggend in haar kantoor was.
Die oproep wat sy ’n rukkie later van haar ontvang het, het nie die bodem van haar wêreld laat uitval soos sy altyd gevrees het nie. Haar sakesukses maak van haar ’n ander mens, het sy besef met die selfoon nog in haar hand.
Ben versteen, maar vat dan Ansa se arm en stuur haar na die tafel. Sy glimlag ingenome. Ben se hart klop in sy keel en hy skuif koponderstebo haar stoel in.
By die vrouetafel kwetter en lag almal terwyl die voorgereg bedien word. Ben is wasbleek en knip sy oë ál vinniger met die wynlys in sy bewende hande. Hy sit met sy rug na die vroue, maar die oë brand soos vuur tussen sy blaaie. Marina, Anne, Sarina, Elsa, Yolanda, Bets . . . al 10 is daar. Sy verstand staan stil.
Ansa roep hul kelner en bestel uitgelate Franse sjampanje. “Kom ons geniet dit, Ben. Ons kry dit mos verniet, nie waar nie?” T OE Ben teen sluitingstyd by sy kantoor instap, is die leë borde en gebruikte glase die stille getuienis dat die personeel Ansa se verversings terdeë geniet het.
By sy lessenaar steek hy vas. Elf geskenkpakkies tart hom vrolik. Almal met rooi hartjies. S