DIE TAMELETJIE OOR TUISBLY
Talle ma’s krap kop by dié kruispad: Keer ek terug werk toe of bly ek by my kinders? Kenners sê hoe jy kies en dit laat werk
ELKE uur van elke dag is sy aan die gang, en die roetine bly dag ná dag dieselfde. Beddens opmaak, klere optel, skottelgoed was. Die sieldodende eentonigheid kry haar onder, skryf ’n huisvrou onlangs aan Huisgenoot (Briewe, 16 Maart). “Ek is die huisvrou, die een wat jy elke dag droom om te wees. Maar jy weet nie hoe ek voel nie. Ek sien jou soggens na jou betalende werk wegry, waar jou baas jou ’n klop op die skouer kan gee, terwyl ek met die kinders skarrel en almal se lewe rooskleurig probeer hou.”
In Adele* se hartseer brief smag sy na ’n werk wat haar kan uitdaag. Sy wil ook kan opgewonde raak oor iets so eenvoudigs soos ’n Vrydag.
Voel alle tuisblyma’s so? Toe ons begin rondvra, kom ons agter daar is heelwat meer gevoelens oor dié teer saak as wat jy dalk besef het.
Gesprekke met werkende sowel as tuisblyma’s het gewys nie almal smag daarna om rolle te ruil nie. Dit is duidelik ’n persoonlike saak; as ’n vrou self kan kies, sal die besluit van individu tot individu verskil.
“My ma was ’n huisvrou, en ek en my suster het elke dag ’n bord gekookte kos gekry. Sy het ons leer kook en stryk, om kinders groot te maak en mooi te lyk wanneer jou man van die werk af kom,” vertel Karien van Dyk van Rustenburg. “Dit was vir my lekker terwyl ek as jong meisie gewerk het, maar toe ek trou en kinders kry, was ek voltyds daar om my kinders die aandag te gee wat hulle nodig het. Dit was wonderlike gehaltetyd wat ek vir niks sou verruil nie.”
Marise Vos van Somerset-Wes sê sy wens soms sy kon by die huis wees, maar tog dink sy sy is ’n beter ma omdat sy werk. “Ek dink aan al die kinderpartytjies, baba-teepartytjies en geleenthede by die skool wat ek al misgeloop het. En ek dink aan hoe baie ek my werk geniet. Wat jy as vrou ook al besluit, is nooit maklik nie, en êrens gaan jy voel jy kon dalk meer of beter gedoen het.”
Met navorsing is bewys ’n vrou is gelukkig wanneer sy voel sy het ’n keuse of sy wil werk of nie, sê Corné Waldeck, ’n sielkundige van Stellenbosch. “Dit moet dus jou keuse wees en ’n besluit wees wat jy mettertyd ook kan verander soos jou omstandighede verander,” verduidelik sy.
Sy sê vroue besluit soms voor die geboorte van hul kind om terug te gaan werk toe en voel dan verplig om die besluit deur te voer, selfs al voel hulle nadat hulle die kind gehad het anders oor die saak. “’n Baba het ’n baie groot uitwerking op jou. Daardie eerste paar maande ná die geboorte gaan jy deur baie veranderings; jou identiteit word amper ’n bietjie rondgeskommel.”
Haar raad aan voornemende ma’s is om eers die finale keuse te maak nadat hulle die baba gehad het.
DÍt beïnvloed jou keuse
Die lewensfase waarin jy jou bevind, speel ’n rol in jou keuse, maar ’n mens se verwysingsraamwerk moet ook nie onderskat word nie, sê Anri van den Berg, ’n berader van die Vita Nova-beradingsentrum in Pretoria.
“Party vroue wil hul kinders presies dieselfde bied as wat hulle in hul kinderjare gehad het. Dis dalk ’n ma wat tuis en
beskikbaar was, of finansiële stabiliteit en sekuriteit.” Sy glo jou idee van wat ’n ma “veronderstel” is om te wees is ook ’n faktor. Ken jouself, weet wat jou passie is en wat jou opgewonde maak, sê Jolanda Dreyer, ’n sielkundige van Pretoria. Sy verwys hierna as jou “ontwerp”, en sê veral vroue wie se ontwerp daarop fokus om ander mense te help ontwikkel floreer tuis. “Ma’s wat vir hul kind ’n platform wil bou om te ontwikkel en suksesvol te wees voel vervul wanneer hulle by die huis is.” Dit raak ’n probleem as mense nie weet wat hul ontwerp is nie, verduidelik Jolanda. ’n Vrou wat graag probleme oplos, trou dalk vroeg en bly by die huis om na die kinders te kyk, maar kan dit later berou. “Tuis is die getal probleme om op te los beperk. Jy het dan iemand wat as’t ware verkeerd geplaas is.”
Voor- en nadele van ’n tuisblyma wees
Anri benadruk elke inndividu se omstandighedeede is uniek. Die voor- en nadele adele van ’n huis- of beroepsvroupsvrou word deur baie faktore bepaal, onder meer geldsake, die vrou se steunnetwerk en hoe gesond haar kinders is.
“As jy kinders het, is die voordele van tuisbly van onskatbare waarde,” sê Anri. “Veral vir die eerste twee en ’n half tot drie jaar van jou kleinding se lewe.”
Volgens haar hou dit gesondheidsvoordele vir die kind in omdat hy minder aan siektekieme blootgestel word. Jy kan ook jou kind se daaglikse roetine beheer, by wees vir elke mylpaal en hom die emosionele koestering en aandag gee wat hy nie by die skool sal kry nie.
Aan die ander kant is die meeste tuisblyma’s verantwoordelik vir die alledaagse sleurtake en kan dit ’n baie ondankbare werk wees. Hulle kan ook maklik sosiaal afgesonder en alleen voel. Daarby ontwikkel hulle dikwels skuldgevoelens omdat hulle weet hulle is bevoorreg, maar dalk nie so voel nie.
Dit kan ook ’n negatiewe invloed op die huweli huwelik hê as die vrou saans nie kan wagw dat die man by die huis kom nie, maar hy dalk te moeg is om aan haar die aandag te gee waarna sy so smag.
Voor- en nadele van ’n beroepsvrou wees
Die dubbele inkomste is vir die meeste huishoudings die grootste voordeel, sê Anri. “As jy ’n goeie balans tussen jou gesinslewe en werk handhaaf, kan dit ’n geleentheid wees om aandag aan iets anders as net die huis te skenk.” Dit is waarskynlik die afleiding of opwinding waarna Adele, ons briefskrywer, verlang.
Baie loopbaanvroue erken dit is emosioneel en kognitief te sieldodend om heeldag tuis te wees en dat hulle daarom kies om iets stimulerends aan te pak. Hulle sê ook hulle is beter ma’s omdat hulle groter waardering vir hul gesin het wanneer hulle saans by die huis kom. Dit is wel soms moeilik om verlof te kry as jy vir ’n baas werk, verduidelik Anri. “As jou kind siek is of die kooroefening gekanselleer word, het jy nie altyd ’n waarborg dat jy daar kan wees nie.”
As jy wil werk
Maak seker jy het ’n goeie steunnetwerk, sê die opvoedkundige sielkundige Marelise Botha van Kaapstad. “Wanneer jy saans moeg gewerk tuiskom, het jou kind dalk ’n taak om te doen en boonop moet jy hulle kos gee.”
Corné sê dit is belangrik om uit te reik na mense wat jou kan help. “Reël saamrygeleenthede, ontmoet jou bure, vra jou skoonma om te help.”
Jolanda sê jy moet jou dag beplan. “Werk uit hoe lank jy van jou werk na die skool gaan ry as jy die kinders moet gaan haal.” As hulle ná skool êrens bly, moet jy gerus wees oor hulle. Dit help ook om deur die dag deur byvoorbeeld WhatsApp met jou kinders in verbinding te bly.
“As jy nie ’n huishulp het nie, moet jy vir elke lid van die gesin ’n skoonmaaktaak gee,” sê Jolanda.
Anri sê jy moet drie vrae eerlik beantwoord voor jy besluit om te gaan werk: Het jy iemand by wie jou kind kan bly wanneer hy siek is? Is jou salaris werklik die moeite werd? En is daar groeigeleentheid by die werk?
As jy wil ophou werk
Maak seker jy kry ’n stokperdjie of doen dinge wat jou steeds sal vervul, sê Marelise. “As jy in die kreatiewe wêreld gewerk het en byvoorbeeld ’n binneversierder was, sal kinders grootmaak nie daardie behoefte vervul nie.”
Jy en jou man moet die finansiële gevolge bespreek, want dit gaan ’n groot aanpassing wees om minder geld te hê. * Skuilnaam.
Baie loopbaanvroue erken dis emosioneel en kognitief te sieldodend om heeldag tuis te wees