LUSTELOSE MAN DEMP VREUGDE
Ek komplimenteer my man en staan hom by. Hy kommunikeer glad nie bedags met my nie; hy bespreek ook nie belangrike dinge met my nie. Wanneer ek daaroor wil gesels, loop hy weg of begin met my baklei. Daar is net geen lewenslus in hom nie. Dis erg frustrerend.
TD (SMS)
Dit klink of jou man meer as net swaarmoedig is en eerder behandeling vir depressie kort. Dit kan moeilik wees om hom te oorreed; dus moet jy pragmaties wees.
Depressie dreineer ’n mens se lewenslus en belemmer jou besluitneming. Wanneer ’n mens lank met iemand saamleef wat jy gedurig moet onderskraag, hunker jy soms na erkenning en dankbaarheid juis omdat jy dit nie kry nie.
Sy behoeftes is nie belangriker as joune nie; jy kan nie heeldag katvoet loop net om hom tevrede te stel nie. As jy daarop begin konsentreer om aandag aan jouself te gee, gaan dit minder saak maak of hy jou bel of nie. Sy minagting vir jou as verhoudingsmaat gaan dalk nie afneem nie, maar jou selfrespek sal toeneem.
Dit is goed om verantwoordelik te voel vir ’n verhoudingsmaat, maar ’n mens moet ook perke kan stel. Sy slegte gewoontes doen die innigheid tussen julle skade aan. Jy gaan niks daaraan verander deur langer daarop te fokus nie.
Begin konsentreer op jul verhouding pleks van op jou verhoudingsmaat. Verander jul rolle. Moenie langer die een wees wat op sy oproep wag nie. Bel iemand wat jou kan bystaan, soos ’n vriendin. Deel jou klagtes met haar as jy haar kan vertrou om daaroor stil te bly.
Dink nuut oor geluk. Jy gaan nie sy ongelukkigheid met die lewe opgelos kry nie, maar jy kan hom help om ’n oomblik of wat geluk te ervaar.
Vind iets wat julle saam buite die huis kan doen. Waarna sien hy soms uit? Kan jy dit saam met hom doen? Waarmee vaar hy goed waarin jy kan deel?
Moenie te veel aanpak of verwag nie. En moenie met hom redeneer of konflik uitlok nie.