Charlotte van Monaco vind liefde by getroude man
CAROLINE SE DOGTER LAAT AL WEER DIE TONGE KLAP!
SY IS net so mooi soos haar ma in dié se jonger dae. En net soos prinses Caroline het Charlotte Casiraghi nou die tonge aan die klap oor haar liefdeslewe – vir die soveelste keer. Nuwe foto’s van die 30jarige donkerkopskoonheid het die wenkbroue laat lig toe dit blyk die man saam met wie sy ’n romantiese naweek op die Franse platteland deurgebring het, is ’n getroude pa. Die 35-jarige Dimitri Rassam, ’n Franse rolprentmaker wat sy tyd tussen Parys en Los Angeles verdeel, is beslis die soort man wat Charlotte se knieë lam maak: lank, donker, aantreklik en kreatief.
Hy is die seun van Carole Bouquet (59), ’n gerespekteerde Franse aktrise wat al in meer as 50 films verskyn het. Fliekvlooie sal haar veral onthou as ’n Bond-meisie in die 1981-fliek For Your Eyes Only. Dimitri se pa was Jean-Pierre Rassam, ’n rolprentmaker van Beiroet wat in die Franse rolprentbedryf naam gemaak het. Hy is in 1985 op 44 weens ’ n dwelmoordosis dood.
Dimitri en Charlotte se paaie het glo verlede Desember gekruis toe vriende hulle by ’n ete aan mekaar voorstel, vertel bronne in die binnekring. Sy het dolverlief op hom gelyk terwyl die twee onlangs in Parys saam inkopies gedoen het voor hulle na haar nuwe plattelandse huis op die sjarmante dorpie Barbizon vertrek het.
Ná hul aandjie saam het Dimitri, wat onder meer die 2015-fliek The Little Prince vervaardig het, by ’n plaaslike bakkery brood en croissants vir ontbyt gaan koop. Die middag het die duifies in die nabygeleë Fontainebleau-woud met ’n hond gaan stap. Die twee het kopstukke gesels en is later gekiek toe hulle onder bome langs mekaar op ’n rots lê.
Al probleem is Dimitri is nog getroud met die top Russiese model Masha Novoselova (32). Dit is onbekend of hy al ’n skeisaak begin het, maar die egpaar is ’n jaar gelede laas saam gesien – by die César-prysaand in Parys, waar die beste Franse flieks bekroon word. Hulle is in 2010 getroud en het ’n dogter, Dasha (6).
Volgens bronne het hy hulle gelos en woon hy in Parys saam met Charlotte. Sy het ’n seun, Raphaël (3), wat uit haar verhouding met die Franse komediant en akteur Gad Elmaleh (45) gebore is.
Charlotte het Gad, wat in Marokko gebore is, in 2011 by ’n partytjie ontmoet. Hul paadjies het laat in 2015 geskei, glo nadat hulle volgens vriende “weens hul loopbane uitmekaargedryf het”.
Gad het hoofsaaklik in Amerika gewerk, en Charlotte, ’n mededingende perdespringer en Gucci-model, het haar tyd tussen Frankryk en Amerika verdeel. “Hy was te min in die omtrek,” het ’n bron destyds aan die Amerikaanse tydskrif People gesê. “En sy wou ’n pa vir haar seun hê.”
Gad het ’n jaar later in ’n onderhoud oor die verbrokkeling van hul verhouding gepraat. “Ek en Charlotte is nie meer saam nie, maar ek gaan besoek my baba. En hy kom New York toe om my te sien. Ons bly geheg aan mekaar. Ons is ’n gesin.”
Ná Gad was die Italiaanse rolprentmaker Lamberto Sanfelice (40) die man in Charlotte se lewe, maar nou het sy weer nuwe liefde gevind. Die groot vraag is: Gaan Caroline se oudste dogter ooit ware geluk vind, of is ook sy ’n slagoffer van ’n vloek wat glo eeue gelede oor die Grimaldi’s uitgespreek is?
VOLGENS oorlewering het ’n Grimaldi in die 13de eeu, die eerste prins Rainier, ’n pragtige maagd ontvoer en verkrag. Sy het wraak gesweer, ’n heks geword en die vorstehuis vervloek met die woorde: “’n Grimaldi sal nooit ware huweliksgeluk vind nie.”
Dis genoeg om ’n mens koue rillings te gee; dis nou te sê as jy nog hier in die 21ste eeu aan ’n storie oor hekse en vloeke kan vat kry. Een ding is seker: Dood, egskeidings, skandale en intrige teister die Grimaldi’s al dekades.
Dink maar aan die geliefde prinses Grace, Caroline se ma, wat in 1982 op 52 in ’n motorongeluk gesterf het. En net toe dit lyk of Caroline ná ’n eerste mislukte huwelik met die Franse pierewaaier Philippe Junot (nou 76) gelukkig getroud is met haar tweede man, Stefano Casiraghi, sterf dié op 30 in ’n renbootongeluk. Hy was die pa van haar drie oudste kinders, Andrea (32), Charlotte en Pierre (29).
Haar derde huwelik, met Ernst August (63), die prins van Hannover, het ook in Monaco die tonge los. Hulle is nog net in naam getroud, en woon al jare lank nie meer saam nie. Caroline (60) en hul dogter, prinses Alexandra, woon in Monaco, terwyl Ernst, verniel deur dekades van drankmisbruik, sy dae in sy familie se bouvallige kasteel in Duitsland slyt. Sy familie se pleidooie aan sy vervreemde vrou om finansiële hulp val luidens berigte op dowe ore (Fluitfluit, die sprokie is uit, 21 Julie 2016).
Ook Caroline se jonger suster, prinses Stéphanie (52), ploeter voort van die een rampspoedige verhouding na die ander. Van haar gedoemde romanses was met ’n sirkusafrigter en verskeie personeellede van die Prins Se Paleis. Deesdae is Merwan Rim (39), ’n veel jonger Franse musikant, glo die man aan haar sy.
Gaan liefdesgeluk Charlotte soos vir haar ma en tante bly ontwyk? Of is Dimitri dalk haar ridder op die wit perd wat eindelik opgedaag het?