NUWE DVD’S
THE GIRL ON THE TRAIN 2016. 113 min. 16DTSG. Riller. R135*. Nadat sy haar werk verloor het, ry die misnoegde alkoholis Rachel Watson ( Emily Blunt) daagliks doelloos per trein na New York. Sy is van haar man, Tom (Justin Theroux), geskei en raak behep met Scott en Megan Hipwell (Luke Evans en Haley Bennett), ’n skynbaar liefdevolle egpaar wat langs Tom en sy nuwe vrou, Anna (Rebecca Ferguson), woon. Eendag aanskou Rachel deur die treinvenster ’n skokkende voorval in die Hipwells se agterplaas. Kort daarna verdwyn Megan. Rachel sê vir die polisie wat sy gesien het, maar kan nie haar eie herinnerings vertrou nie. Dan word sy by die ondersoek betrek, met onvoorsiene gevolge. Die fliekverwerking van Paula Hawkins se blitsverkoperroman waarop almal gretig gewag het, volg die boek se vervlegte verhaal met gemengde sukses. Die rolprent dra tot die geheimsinnigheid by met vindingryke tydlyne en visuele flair. Die regisseur, Tate Taylor (The Help), en draaiboekskrywer, Erin Wilson, het duidelik pret om die spanning stadig te laat ophou tot die ontknoping van wat met Megan gebeur het, en hoekom. Die drie hoofaktrises lewer almal sterk spel, maar Blunt oortuig nie as ’n strompelende drankslaaf wat haar houvas op die werklikheid verloor nie. Tog sal enigiemand wat honger is vir ’n vars speurstorie dit geniet. – PETRUS MALHERBE
NINE LIVES 2016. 87 min. O. Fantasiekomedie. R129*. Die Donald Trump-agtige eiendomsmagnaat Tom Brand (’n skitterende Kevin Spacey) het min tyd vir sy gesin, maar gee eindelik toe aan sy dogter se versoek om ’n kat vir haar verjaardag te kry. Dan spreek ’n geheimsinnige troeteldiereienaar (Christopher Walken op sy beste) ’n towerspreuk oor Tom uit. Die towerspreuk kan net verbreek word as Tom ’n gawer mens word. Die kat se lomp manewales is skreeusnaaks en die draaiboek is ’n skerp bespotting van hebsug en eiebelang. ’n Absolute moet as jy ’n katliefhebber is. – WILLEM MÖLLER
HATCHET HOUR 2016. 86 min. 16TG. Plaaslike misdaadriller. R131*. Die misdaadprokureur Belle (Erica Wessels) skiet per ongeluk haar tuinman dood. Sy manipuleer haar saggeaarde huismaat, Jade (die bekroonde Petronella Tshuma), om haar te help om van die lyk ontslae te raak. Dan lyk dit asof hul geheim oopgevlek kan word. Wessels lewer goeie spel, en die oortuigende Tshuma en dié se kêrel, Izzy (Adam Croasdell), vorm ’n goeie teenpool vir haar. Daar is kontinuïteitsfoute en soms is die storielyn voorspelbaar, maar die kinkels, jazzklankbaan en pragtige kinematografie maak Judy Naidoo se regisseursdebuut die kyk werd. – MARIANA LOOTS * DVD’S is teen dié pryse beskikbaar by takealot.com. Pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder vooraf kennisgewing.