NUUT IN DIE FLIEKS / JOHNNY IS NIE DOOD NIE
Drama / swart komedie. Met Roelof Storm, Rolanda Marais, Albert Pretorius en Ludwig Binge. Regisseur: Christiaan Olwagen. 16TD. Begin op 4 Mei.
Waaroor gaan dit?
Ná die sanger Johannes Kerkorrel se selfdood in 2002 kom ’n groep vriende bymekaar en herleef ’n era toe hulle almal nog jonk, gek en dol oor musiek was.
Wie sal hiervan hou?
Lesers wat in die 1980’s bewus geraak het van Kerkorrel se revolusionêre musiek waarin hy uitgesproke was oor die onregte van apartheid.
Vir die eerste keer slaag ’n regisseur daarin om met ’n mengsel van uitbundigheid, beheerstheid, hartseer en nostalgie terug te kyk op wat gebeur het – en dit in ’n Afrikaanse rolprenttaal wat ons nie ken nie.
Dis nie ’n feitelike narratief nie. Die gebeure word gesien deur die oë van studente wat Kerkorrel geken en deur hom beïnvloed is. Die regie is ’n mengsel van flambojante surrealisme en realisme. Dit kom in die middel bymekaar om by die hart van Kerkorrel se musiek en die invloed van die Voëlvrybeweging uit te kom.
Maar dit gaan ook oor bevryding: hoe dit ’n geslag onderdrukte Afrikaners losgemaak het van die konserwatiewe wortels wat hul bestaan geknel het. Die versmorende politieke en sosiale denke en indoktrinasie van apartheid word laag vir laag weggestroop tot die kyker weerloos en amper kaal daar staan en op die maat van Kerkorrel se musiek met hom- of haarself nagmaal hou.
Die kostuums, immer bewegende kamera wat van sy driepoot bevry is en die gedagtestroomtegniek, waar idees en stories vertel word soos dit amper op ’n dwelmreis sou voorkom, maak dié fliek ’n onbevange euforiese ervaring.
Eindelik is hier ’n Afrikaanse rolprent wat as kuns vir almal toeganklik is – ook vir Engelssprekendes. Die spel van veral Rolanda Marais as ’n Kerkorrel-aanhanger is skitterend, maar die eer gaan aan die regisseur, Christiaan Olwagen, se tafereel van musiek, emosie, bevryding en houding in beeld.