’EK SOU MEER STORIES WOU GESKRYF HET’
HY IS oor niks spyt nie. En niks gee hom slapelose nagte nie. Tog is daar een ding wat oudmin. Pik Botha bang maak. Ná byna 85 jaar op die aarde “weet ek nog nie wie ek is nie. Ek het myself nog nie ontdek nie.” Ondanks hierdie vrees is hy rustig. Hy geniet nog sy boeke en skilderye en om na Mozart en Beethoven te luister. Hy gesels graag oor die politiek en sy kommer oor klimaatsverandering. Al vier hy op 27 April sy 85ste verjaardag, is hy nog nie te oud vir nog ’n eerste ervaring in die lewe nie – om sy eie digbundel vas te hou. Sy debuutbundel, wat nog ’n titel moet kry, sal hopelik later vanjaar verskyn.
Toe Pik in sy jong dae kadet in die diplomatieke diens was, het hy talle verhale vir tydskrifte – ook vir Die Huisgenoot – geskryf. Toe hy daarna begin werk, het hy ál minder tyd daarvoor gehad. Maar hy het nooit ophou gedigte skryf nie.
En hy het ’n romantiese man gebly. Wanneer hy tussen ons gesels deur sy tweede vrou, Ina (65), nader roep, noem hy haar “darlingtjie”.
Waar hy op die stoep van sy huis in Akasia in die noorde van Pretoria sit, na die bome kyk en die voëls dophou, is daar niks wat Pik hinder nie, behalwe die “vervlakste motorkargeluide wat ek hoor”.
Hy moes eintlik al ’n paar keer dood gewees het, vertel hy. As kind het hy byna op Parys in die Vrystaat verdrink. Hy het ook by die dood omgedraai toe hy in sy jeugjare breinvliesontsteking kry. En dit was so amper of hy was ’n passasier op die Pan Am-vlug tussen Londen en New York wat in Desember 1988 ná ’n bomontploffing aan boord op Lockerbie in Skotland neer- gestort het. Al 259 insittendes is in dié lugramp dood.
“Ek moes op daardie vliegtuig gewees het,” onthou Pik. “Maar om die een of ander rede het ek op ’n vroeër vlug geklim.
“Ek leef nou in geleende tyd wat ek nooit verdien het nie. Ek is diep dankbaar oor elke dag wat ek leef, want vir my is elke dag ’n geskenk.”
Op sy 85ste verjaardag sal sy grootste geskenk wees om dit op hierdie selfde stoep saam met sy vier kinders, agt kleinkinders en sewe agterkleinkinders te vier.
“My kinders, kleinkinders en agterkleinkinders moet my die geleentheid gee om hulle te bedank dat hulle bestaan.
“Want ek dank die Here dat hulle bestaan omdat ek bestaan. My gebed is dat geen van hulle ooit moet wens dat ek nie moes bestaan het nie.
“As dit nie vir die liefde van vriende en familie was nie, het ek verval in vereensaming wat die dood aantreklik sou gemaak het,” erken Pik.
Hy verwoord sy gevoelens met die gemak van ’n digter en skrywer. Hy skryf al sedert hy in sy 20’s was. “Ek het net hierdie behoefte gehad om iets in woorde aan die leser oor te dra wat ’n mens as diepsinnig beskou,” verduidelik hy.
Wat is sy wenresep vir ’n kortverhaal? Jy moet jou leser se aandag in die eerste paar reëls vasgryp sodat hy nie wil ophou lees nie, jy moet sy nuuskierigheid prikkel en jou einde moet so wees dat ’n mens dit nooit sou verwag nie, antwoord hy. “Daar is soveel onverklaarbare dinge in die lewe. Ons moet net ons lesers daaraan laat dink.”
Hy bly ’n oomblik stil. Dan sê hy: “As ek nou terugkyk, sou ek graag meer stories wou geskryf het.”