Ministersvrou se lewe nie net glansryk
Norma se glansbestaan is welbekend, maar nou vertel sy van die swaar wat haar man, die nuwe finansminister, se beroep meebring
IN DIE sosiale media maak sy geen geheim daarvan dat sy ’n glansryke lewe lei nie. Jy kan Norma Gigaba altyd deur ’n ring trek. Wanneer sy nie saam met vriende uiteet nie, meng sy met die wie’s wie. En haar reise neem haar na bestemmings soos New York, Doebai, Rome en Londen. Maar deesdae is Norma, eintlik Nomachule, veral bekend as die vrou van Suid-Afrika se nuwe minister van finansies, Malusi Gigaba (Man van glans en vele vroue, 13 April). Hy het Pravin Gordhan opgevolg ná ’n kabinetskommeling wat skokgolwe deur die land gestuur het (Op ons rug weens magsug, 13 April).
Ook vir haar en haar man (45) was die aankondiging “’n skok”, sê Norma (36) waar sy kruisbeen en elegant in ’n geblomde somerrok op ’n wit leerbank in die woonvertrek van hul ampswoning in Centurion sit. Oral in die oopplanvertrek is troufoto’s waarop sy breed glimlag.
Hulle was by ’n modevertoning in Kaapstad toe pres. Jacob Zuma Malusi bel. Dit was teen tienuur die aand van 30 Maart, onthou Norma. “Eers het die president gesê: ‘Baie dankie dat jy binnelandse sake so goed gedien het, maar dit kom nou tot ’n einde. Ek wil jou graag na finansies skuif.’ ”
Norma sê Malusi was geskok en veral bekommerd oor die departement wat hy moet agterlaat. “En hy het gedink hulle maak ’n grap.”
Die Gigabas is dadelik by die vertoning weg. Toe hulle by die huis kom, was dit reeds groot nuus op TV. “Hy het gedink oor hoe mense dit sou ontvang,” vertel Norma van haar man se reaksie.
Die volgende dag is Malusi saam met nege ander nuwe ministers en 10 adjunkministers ingehuldig. Kort daarna het die graderingsagentskap Standard & Poor’s Suid-Afrika tot rommelstatus afgradeer, en nog ’n agentskap, Fitch, het ’n paar dae later hul voorbeeld gevolg (Die lewe op die rommelhoop, 20 April). Dit het ’n rits protesoptogte ontketen waarin ontevrede Suid-Afrikaners Zuma se bedanking geëis het.
Tog sê Norma nie veel het verander sedert haar man minister van finansies geword het nie. Sy, Malusi en hul seuns, Nkanyezi (5) en Mvelo (4), woon nog in dieselfde seweslaapkamerhuis as toe hy minister van binnelandse sake was. En haar man werk nog net so hard. Dit verg baie opofferings om die minister se vrou en in die kollig te wees, sê sy. “Ja, mense dink dit is glansryk, maar dit is nie. ”
MET die intrapslag as minister van finansies het Malusi al onder ’n stortvloed kritiek deurgeloop. Van sy kritici het gemeen hy is aangestel om Zuma se ondersteuners, onder wie die omstrede Gupta-familie, se opdragte uit te voer.
Sy steur haar min aan negatiewe mense en dié wat dink haar man is net danksy sy hegte bande met die president aangestel, sê Norma.
As daardie bande so heg was, redeneer sy, sou Zuma haar man minstens ’n week voor sy aanstelling as minister van finan- sies oor sy planne ingelig het.
Malusi laat hom nie maklik van stryk bring nie, sê sy.
“Hy is nie ’n jabroer nie. Dis hoekom niemand bewyse kan toon dat hy korrup is nie. Hy werk baie, baie hard. Jy kan sien hoe hy binnelandse sake omskep het. Hy het navorsing gedoen en ander lande besoek om te verstaan wat hulle doen. By finansies gaan hy dieselfde ding doen,” sê sy. “Mense moet hom tyd gee en hom twee jaar later beoordeel.”
Wanneer negatiewe stories oor haar man die ronde doen, stuur sy dit wel aan hom, maar saam met woorde van
bemoediging. “Ek wil hê hy moet weet hy is nie alleen nie.”
Al is sy duidelik haar man se grootste aanhanger, het Norma al self naam gemaak as ’n suksesvolle sakevrou. Sy werk steeds voltyds as ’n IT-spesialis en het die Noma Gigaba-stigting op die been gebring. Dié spits hulle toe op die jeug, onderwys en vrouebemagtiging.
Op Instagram het sy ’n kwartmiljoen volgelinge, maar die dae is verby dat sy in die sosiale media as “Mrs. Gigabyte” bekend was, sê Norma. Verlede jaar het sy dié bynaam aan haar eie klerereeks verleen. “Nog lank voor ek my Instagram-rekening geskep het, was ek mev. Gigabyte, want ek het toe al in IT gewerk,” verduidelik sy. “Maar ek het daaroor gedink: Wil ek regtig mev. Gigabyte wees wanneer ek 50 of 60 is? Dis nou koel, maar wil ek in ’n naam belê wat ek later gaan laat vaar?
“Mense noem my steeds so, maar ek weet hulle sal mettertyd vergeet. Ek wil hê my naam (Norma Gigaba) moet bekend wees, want dit is wie ek is.”
Norma is ook bekend vir haar elegante maar duur klere. Sy steun plaaslike ontwerpers en 90 persent van haar klere word in Suid-Afrika ontwerp, sê Norma. Gert-Johan Coetzee is een van haar geliefkoosde ontwerpers. Sy het ook ’n voorliefde vir Gucci en Chanel en is mal oor Louis Vuitton-handsakke en Valentino-skoene.
Sy sorg ook dat haar man genoeg pakke – gewoonlik snyerspakke – en informele klere het, want hy het te min tyd om self inkopies te doen.
“Soms kom hy saans by die huis en sê net ‘hallo’ voor hy studeerkamer toe gaan,” vertel Norma.
Malusi gaan slaap gewoonlik teen middernag nadat hy vir die volgende dag voorberei het. Soggens staan hy om vieruur op om te studeer, want hy het aan die Universiteit van die Witwatersrand vir ’n doktorsgraad ingeskryf.
Hy geniet dit om Saterdae saam met sy seuns te gaan vierperd-of wielmotorfiets ry, maar kan dikwels nie skoolbyeenkomste soos ’n pa-en-seun-krieketwedstryd bywoon nie.
Malusi is ook die pa van ’n 17-jarige dogter, Lerato, uit sy eerste huwelik. Sy is in Kaapstad op kosskool. Vir haar kon hy verduidelik hoe druk sy werkprogram is, maar Nkanyezi en Mvelo is nog te klein om dit te verstaan.
“Soms huil hulle en vra: ‘Pappa, hoe- kom gaan jy weg van ons?’ Hulle sê: ‘Mamma werk, maar sy is saans hier,’ ” vertel Norma. “Soms sê hy vir hulle: ‘Mkhulu (oupa) Zuma het gesê ek moet Kaapstad of Londen toe gaan.’ ”
Met haar verjaardag onlangs kon haar man ook nie by haar wees nie. “Toe ek wakker word, was hy nie daar nie. Teen sesuur die oggend was hy weg. Hy het mense gevra om vir my ’n geskenk te reël. Dit was ’n kamera,” vertel Norma. “Dis moeilik, maar ons verstaan.”
Tuis wil sy nie onnodige druk op haar man plaas of eise stel wat hom in die versoeking kan stel om iets onbesonne aan te vang nie, sê Norma.
“Ek het nog nooit gesê: ‘Koop asseblief vir ons ’n Bentley en vat ons Miami toe’ nie, want ek wil nie hê hy moet by die huis onder druk wees nie. Ek wil hê hy moet weet ons kan leef met wat hy ons ook al gee. Hy verdien nog dieselfde salaris, en ons gaan nie geld steel – soos mense dink – nie.
“Daardie geld moet vir onderwys gebruik word en om toelaes en ander dinge te betaal. Ek sê heeltyd vir hom: ‘ jy moet nooit met mense se geld speel nie.’
“Ek bid ook vir hom, want soms kan status, mag en geld mense verander.
“My rol is om my nie te bekommer nie, maar om hom as sy vrou by te staan,” voeg Norma by. “En ek los die politiek vir die politici.”