DIE SOET KAASBORD VIR NÁ ETE
KAAS white rock, stilton of simonzola; crottin, camembert; boerenkaas of gouda; gruyère of pecorino; beleë cheddar
BYKOMSTIGHEDE bessievrugte, appelliefies, granate, vye, vrugtepiekel, dadels, rosyntjies; gepreserveerde gemmerstukke, heelstukkonfyt, koekheuning; verskeidenheid neute (gekaramelliseer indien verkies); rogbrood, biscotti, mosbolletjies, dadelbrood, wortelkoek of vrugtekoek
1 BLOUKAASFONDUE
Rogbrood is ideaal om in dié fondue te doop. Mosbolletjies sal ook werk. Geniet dit ook saam met bessies, appelliefies, dadels en granaatpitte.
2 GEKARAMELLISEERDE NEUTE
Sprinkel sowat 60 ml (¼ k)
bruinsuiker saam met ’n knippie komyn of kaneel oor ’n verskeidenheid neute soos Brasiliaanse, pekan- en okkerneute of amandels en verhit terwyl geroer word tot die suiker gesmelt het. Sprinkel ’n knippie sumak oor indien verkies. Sit voor saam met sagte kase, vrugte, white rock en bloukaas.
3 GEMMER-BISCOTTI
Piekelvrugte, oondgebraaide druiwetakkies of rosyne saam met harde en sagte romerige kase is lekker hierby. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n bakplaat. Klits 3 eiers en 160 ml ( ²⁄₃ k) strooisuiker tot lig en romerig. Klits 5 ml (1 t) vanieljegeursel by. Sif 500 ml (2 k) koekmeel, ’n knippie sout en 5 ml (1 t) bakpoeier by en meng goed deur die eiermengsel. Voeg 150 g gekapte, gepreserveerde gemmerstukke en 70 g gekapte pekanneute by en meng deur. Vorm in ’n bol en plaas op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is. Werk met klam hande, want die deeg kan effens taai raak. Verdeel die deeg in twee gelyke dele en vorm in twee lang, ovaalvormige broodjies. Plaas op die gesmeerde bakplaat.
Bak 25 min. tot effens bruin, ferm en gaar. Laat 10 min. op die bakplaat afkoel. Sny met ’n riffeltandmes in dun, diagonale skyfies van omtrent 5 mm.
Verlaag die oondtemperatuur tot 160 °C. Pak die biscottiskyfies in ’n enkellaag op ’n draadrak op ’n bakplaat. Bak 10 min. aan elke kant tot droog. Laat goed afkoel en bêre in ’n lugdigte houer.
4 PIEKELVRUGTE 5 GEROOSTERDE DRUIWETAKKIES
Bedruip trossies druiwe liggies met olyfolie en sprinkel ’n hand vol gekapte roosmaryn oor. Oondbraai sowat 20 min. by 190 °C tot effens uitgedroog en laat afkoel.
Doen dieselfde met taktamaties en sit voor op die soutige kaasbord.