Vrae ná Wellington-paar doodbrand
Familielede en vriende reageer op gerugte van ’n affair nadat ’n Wellingtonse egpaar tragies in ’n verwoestende brand gesterf het
HY HET vir sy vrou ’n bad water ingetap en haar daarin laat lê en die deur met opgerolde nat handdoeke toegepak. Daarna het hy langs die bad op die vloer gaan lê met sy hond, Skollie, op sy bors en ook hulle met nat handdoeke toegemaak. So het reddingswerkers die oorskot van Jacques en Sunita van Dyk en hul geliefde rifrug aangetref nadat ’n verwoestende brand in hul plaashuis buite Wellington uitgebreek het.
“Hulle was baie heg,” sê Reghard van Dyk (32) van sy broer, Jacques (30), ’n plaasbestuurder, en sy vrou, Sunita (31), ’n onderwyseres aan die Laerskool Paarl Gimnasium. Toe Reghard die tyding kry, het hy vir sy vrou, Annegret, gesê dis goed hulle het saam gesterf.
“Jacques was verby lief vir haar,” vertel hy twee dae nadat die nuus van die paartjie se dood op die plaas Oakdene by Wellington die Bolandse dorp op Woensdagoggend 10 Mei geruk het.
Reghard is ’n sportagent in Pretoria, maar het hom hierheen gehaas om sy ouers, Gerhard en Irene, by te staan. Sy suster, Suret Lloyd (34), het uit Londen gekom vir die begrafnis op 16 Mei.
Terwyl die familie nog die dubbele doodstyding probeer verwerk, het nog ’n skok hulle getref toe Rapport berig Sunita het kort voor hul dood by Jacques oor ’n buite-egtelike verhouding gebieg. In WhatsApp-boodskappe aan ’n vertroueling skryf sy glo sy het Jacques daarvan vertel, en sy lê en huil in ’n aparte kamer.
Die ander man was volgens verskeie bronne ’n kollega. Toe Huisgenoot hom om kommentaar wil nader, het hy agter ’n toe deur gebly en nie op ons boodskappe gereageer nie.
Sy vrou het pas met haar motor by haar werk weggetrek toe Huisgenoot haar voorkeer. Oor die gerugte van ’n verhouding tussen haar man en Sunita het sy gesê: “Dit is heeltemal onwaar.”
Ook die Laerskool Paarl Gimnasium ontken die bewerings van ’n affair. “Ons wil haar graag onthou vir die passie vir ons kinders en skool en die onskatbare bydrae wat sy gelewer het,” lui ’n inskry- wing op die skool se Facebook-blad.
Die polisie wou nie sê of Jacques en Sunita inderdaad die nag van die brand in afsonderlike kamers geslaap het nie, want die saak word steeds ondersoek.
Maar ’n bron na aan die paartjie sê aan Huisgenoot die boodskappe wat in Rapport gepubliseer is, is nie kort voor hul dood gestuur nie. Dit was al in Februarie. Die bron sê ook die twee het daardie nag in dieselfde kamer geslaap.
“Daar was begin vanjaar iets (’n affair), maar Sunita het gekies om by Jacques te wees,” vertel die bron. “Sy het veral die afgelope twee maande hard aan haar huwelik gewerk; sy wou dit laat werk.”
Hoe toegewy Sunita aan hul huwelik was, blyk uit ’n boodskap wat sy in Desember 2015 geskryf het in ’n boek met Christelike dagstukkies vir haar “Dadel”, soos sy Jacques genoem het:
My liefste man Ek is lief vir jou met my hele hart. Dankie vir ALLES wat jy vir my doen en beteken. Jy is my rots en ek is so dankbaar dat Liewe Jesus jou vir my uitgekies het. Ek sal jou ewig dankbaar wees dat jy aanhou baklei het vir my en dat ek
elke dag weet hoe lief jy my het. Mag hierdie boek jou die nodige krag gee vir elke dag. Jy is my ALLES. Jou lelie
HUL romanse het in hul matriekjaar aan die Hugenote Hoërskool op Wellington begin. Sunita was hoofmeisie, maar Jacques was ondeund, vertel Reghard. “Nou die dag het Jacques vertel hy en Sunita het Hugenote se destydse skoolhoof, Wessel Moolman, in ’n sentrum raakgeloop. Hy kom groet Jacques toe. Maar Sunita, wat hoofmeisie was, kon hy nie lekker onthou nie.” Reghard lag. “Dis nou tipies! Hulle sal ons ouens onthou, maar nie dié wat ordentlik was en die
straight en narrow geloop het nie.” Hy raak ernstig toe hy vertel hoe sleg dit vir die familie was toe hulle in die koerant van Sunita se beweerde WhatsAppboodskappe lees. “Ek het net geweet iets het ’n paar maande gelede gebeur en hulle werk daaraan. Maar ek het nie van die verhouding geweet nie,” sê hy.
’n Week of wat voor hul dood het Reghard met Jacques en Sunita gepraat. Dit het glad nie geklink of iets skort nie.
Terwyl ons op die dorp met hom en Sunita se broer, Manus Marais (28), gesels, is daar ’n byt in die lug. Akkerblare dwarrel grond toe, asof die natuur saam met die familie treur.
’n Sagte aanvaarding straal uit Reghard, maar Manus sê hy sukkel om te berus in sy suster en swaer se dood. “Ek weet hulle was bymekaar, maar dis moeilik om te aanvaar hoe dit gebeur het.”
Die Van Dyks was nog altyd ’n hegte familie, vertel Reghard. Al sukkel sy ouers om hul jongste se dood te verwerk, hanteer hulle dit eintlik goed.
Vir Manus en sy ma, Susan Marais, is Sunita se dood ’n nog groter slag omdat sy pa, Rassie, sowat twee jaar gelede oorlede is. Sunita was haar ma, wat ook op Wellington woon, se steunpilaar. “Sy was almal se steunpilaar,” voeg hy by.
Die familie steur hulle nie aan gerugte van ’n plaasaanval nie. “Jacques is die laaste ou wat so iets sou oorgekom het,” meen Manus. “Hy het nooit ’n grief teen enigiemand gehad nie.”
Wat presies daardie nag gebeur het, weet hulle nie. Dit is swaar, sê Regard. “’n Mens wil weet, maar ons aanvaar dit. Hy is oorlede saam met sy beste pel en die vrou vir wie hy lief was.
“Wie wil ’n beter einde hê? As hy of sy alleen was, was dit ’n ander storie. Maar hulle is as ’n eenheid weg.”
OP Oakdene steek die verskroeide oorblyfsels van die huis ’n paar honderd meter van die opstal tussen die wingerde uit.
Op die stoep staan twee kunsproteas in ’n blompot. Die houtskool en glasskerwe op die vloer verkrummel onder ons voete toe ons die huis binnestap. Byna alles is vernietig, behalwe een slaapkamer en ’n linnekas. Tussen die puin kan ’n mens nog plekplek ’n dokument of foto uitmaak.
In die badkamer, waar Jacques en Sunita se lyke aangetref is, is die bad waarin sy gelê het nog vol water.
Die twee venstertjies wat hulle uitkoms sou kon bied, is asvaal van die roet. Waarom hulle nie probeer uitklim het nie, is een van talle onopgeloste raaisels.
Teen druktyd was die oorsaak van die brand nog onbekend. Die plaaseienaar, Neil Ennis, vermoed dit het in die kaggel in die sitkamer ontstaan en deur die huis versprei. Jacques en Sunita sou nie by die voor- of agterdeur kon uitkom sonder om deur die sitkamer te gaan nie.
Neil en sy vrou, Alida, probeer nog self die gebeure verwerk. “Ek het Jacques nooit kwaad gesien nie,” vertel sy. “Hy het altyd gelag.”
Ons stap na die plek duskant die hoofhuis waar hulle en ’n paar plaaswerkers Skollie begrawe het. Die pienk bougainvilleas op sy graf helder die oomblik op, maar dan herinner die vars hopie grond aan die treurspel wat hier afgespeel en twee lewens tragies kortgeknip het.