WAT GEBEUR IN ’N GEVAL VAN TEENSTRYDIGE TESTAMENTE?
Twee mense wat binne gemeenskap van goed getroud is, het die reg om elkeen hul helfte van die boedel te bemaak soos hulle wil, sê Francois du Toit, ’n professor in erfreg aan die Universiteit van WesKaapland.
Selfs al het die egpaar ’n gesamentlike testament opgestel, soos in Joost van der Westhuizen en Amor Vittone se geval, het elkeen steeds die reg om “enige tyd” daarna alleen ’n nuwe testament op te stel, sonder om die ander een daarvan in kennis te stel.
“Dit beteken jou deel van die gesamentlike testament verval en word deur die nuwe testament vervang. Die ander een se deel van die gesamentlike testament bly nog staande,” verduidelik Francois.
’n Testament is net geldig as al die vereistes nagekom word, soos dat die testateur (die een wie se testament dit is) en twee bevoegde getuies dit in mekaar se teenwoordigheid onderteken. Jy kan wel iemand aanwys om jou testament namens jou te onderteken, soos Joost sy regsverteenwoordiger, Ferdinand Hartzenberg, gevra het.
Maar dan moet ’n kommissaris van ede die testament sertifiseer, sê Francois. Die persoon wat die testament namens die testateur onderteken en die kommissaris van ede moet twee verskillende mense wees.
As Joost se regspan hof toe gaan oor sy testament wat in 2015 opgestel is en wat die meester van die hooggeregshof luidens berigte weier om te aanvaar, kan hulle óf die meester se besluit betwis en die hof probeer oortuig die testament is wel geldig óf om ’n kondonasie aansoek doen.
Dit beteken hulle erken die testament is nie geldig nie, maar “hulle vra dat die bedoeling van die oorledene uitgevoer word” en dat die meester steeds die testament aanvaar, verduidelik Francois.
Hy meen in Joost se geval is ’n kondonasie onwaarskynlik omdat sy handtekening nie op die testament van 2015 verskyn nie en hy dit ook nie self opgestel het nie. Joost het dit wel saam met Ferdinand opgestel, het dié in ’n vorige onderhoud aan Huisgenoot gesê.
As die hof beslis dié testament is ongeldig, sal die meester eers moet besluit of sy vorige testament wat hy en Amor saam onderteken het geldig is. As dit ongeldig bevind word, het Joost intestaat (sonder ’n testament) gesterf. Wetgewing hieroor sal bepaal hoe die boedel dan verdeel word. Dan is die langslewende huweliksmaat en die oorledene se kinders gewoonlik die erfgename.
Omdat Joost en Amor binne gemeenskap van goed getroud was, is sy geregtig op die helfte van hul gesamentlike boedel, sê Francois. Sy erf dit nie; sy kry dit. Joost se testament kan net beskik oor die bates wat sy helfte van die gemeenskaplike boedel uitmaak.