Nuut op die rakke
Vier Karel Schoeman-boeke
SLOT VAN DIE DAG – GEDAGTES (Protea Boekhuis, R250)
Jy word gestig én beledig deur Karel Schoeman in sy Slot van die Dag.
Die stigting kom vir my deur sy weloorwoë beskrywings van hoe dit is om oud te word. Dit ondanks Antjie Krog se opmerking in ’n onderhoud in Die Burger dat mans nie oor die “pre-dood” dig of skryf nie: “Wanneer manskrywers in prosa wél daaroor skryf, dan maak hulle hulself ou vrouens – sowel (J.M.) Coetzee as Karel Schoeman; die karakters is ou vrouens wat sterwend is,” het sy aan Murray La Vita gesê.
Schoeman beskryf uitvoerig sy “sukkelgang” oor die aftreeoord waar hy woon se ongelyk plaveisel (verwens trouens die argitek wat hom net oor die kleur van die stene besorg het). “Selfs die eenvoudigste beweging” verg beplanning.
Nie net die liggaam word afgetakel nie.
Schoeman skryf dat ook die gees sy buigsaamheid verloor en die oue kan nie meer vinnig reageer of by onvoorsiene ontwikkelinge aanpas nie – “met die gevolg dat bejaardes vir jongeres dikwels star, onaanpasbaar, onredelik, koppig, humeurig of sonder meer onbeskof voorkom.”
Om die uiters privaat, kluisenaaragtige Schoeman deur homself so blootgestel te sien wil die leser by tye laat wegdeins. En dan weer na die asem laat snak wanneer hy houe in die wind uitdeel.
Hy skryf hoe hy gou geleer het om nie resensies oor sy werk te lees nie. Volgens hom skryf resensente bloot flaptekste oor en sluit dan af met persoonlike oordeel in die trant van: “Dit was vir my ’n baie mooi boek, net die beskrywing van die begrafnis was vir my vervelig.”
Hy verwys ook na ’ n resensie deur ’n akademikus van ’n roman waarvan hy nie gehou het nie, wat “by wyse van spreke uit ’n enkele kreet van verontwaardigde verwerping bestaan” het. “Maar akademici het in hul eie oë natuurlik ook geen bewysvoering nodig nie.”
Schoeman skryf dat hy in alle billikheid nie van ’n “goed opgevoede Afrikaanse boekbespreker” kan verwag om soos hy al ooit te gehoor het van “Gluck, Dante of Klaus Mann” nie, want hulle het nie soos hy ’n groot verwysingsveld of die vermoë om uit Nederlands, Duits en Frans aan te haal nie.
Hierop wil ’n mens net sê: “!”