Huisgenoot

Weglooptie­ner se ma praat oor spyt

Sy was nalatig, erken die ma van die tiener wat vier dae vermis was, maar het baie uit die nare ondervindi­ng geleer

- Deur COLIN HENDRICKS

SY ONTHOU soos gister die laaste keer daardie Vrydagaand in Augustus dat sy haar dogter gesien het voor sy weggeraak het. “Sy’t gesê: ‘ Baai, Mams, sien Sondag,’ ” vertel Hanlie Ferreira. Die 13-jarige Anchen Muller sou die naweek by ’n vriendin deurbring. Maar min het Hanlie ( 31), ’ n Kaapse ma van drie, toe geweet haar oudste kind was op pad na ’n 20-jarige man wat sy in die kuberruim ontmoet het.

Die kommer het Hanlie eers die Sondagaand ná tienuur beetgepak toe Anchen nog nie terug was by hul dorpshuis in Brackenfel­l nie. Sy het geweet Anchen gaan kuier party naweke by ’n vriendin in die nabygeleë Bellville, maar het geen kontakbeso­nderhede vir dié gehad nie. “Ek was nalatig,” erken Hanlie.

Dit was die begin van ’n nagmerrie wat eers sou eindig toe die polisie Anchen vier dae nadat sy vermis geraak het ongedeerd in ’n hut in ’n plakkersbu­urt by B Bishop Lavis op die Kaapse Vlakt te opspoor.

Maar haar dogter se verdwyn ning was nie al skok wat Hanlie s steeds probeer verwerk nie. Toe m mense hoor Anchen word vermis, h het hulle haar Facebook-profiel g gesoek, maar op een afgekom wat ’n prentjie skets van ’n meisie wat d die mense na aan haar nie ken nie.

Hoe kon Hanlie haar kind toela laat om ’n hele naweek te gaan ku kuier by ’n maat sonder om eens se seker te maak sy weet waar die m maat woon? het die tonge geklap.

By die koeriermaa­tskappy waar H Hanlie die afgelope maand werk, be bel wildvreemd­es haar steeds en kr kryt haar uit as nalatig en ’n slegte ma. NouN verbreek sy eindelik eksklusief in Huisgenoot haar stilswye. Sy kan nie langer swyg terwyl mense haar “stenig” nie, sê Hanlie, ook die ma van tweejarige tweelingdo­gters by haar lewensmaat van die afgelope vyf jaar. Anchen is nou in die sorg van haar pa, Reynhardt Muller (35), ’n spuitverwe­r van Brackenfel­l van wie Hanlie in 2008 geskei is.

“Ek het my selfoon se klank afgeskakel,” vertel sy oor die teistering, “want ek wil nie boodskappe hoor afgaan op my foon nie en ek wil geen oproepe meer beantwoord nie. Ek kry die lelikste woorde. Ek is maar net ’ n mens. Almal maak foute; myne was om Anchen te veel te vertrou.

“Maar dis nie ’n verskoning nie,” erken sy, “en ek aanvaar die verantwoor­delikheid. Dit was baie onverantwo­ordelik van my om nie ’n kontaknomm­er te vra voor sy weg is nie.

“Voor sy uit die huis geloop het, het ek haar gevra om asseblief haar foon aan te hou sodat ons met mekaar in kontak kon bly.”

Hanlie sit gemaklik in ’n kantoor by haar werkplek. Sy kyk af en toe by die deur uit terwyl sy gesels oor die traumaties­e tyd waardeur sy onlangs is. Sy kom kalm voor, maar lyk soms wel ongemaklik wanneer sy gekonfront­eer word met die lelike dinge wat mense haar op Facebook toegesnou het.

“Ek het geweet sy is op Facebook, maar haar pa het die profiel gemonitor,” sê Hanlie. “Ons was glad nie van die tweede profiel bewus nie. Dit is soos ’n ander Anchen van wie ek nie geweet het nie.”

Hanlie haal diep asem en vertel dan verder: “Op die eerste een was sy die voorbeeldi­ge meisietjie.”

Na die tweede Facebook-profiel het die ma nog net een keer probeer kyk. Hulle sukkel om dit uit te vee omdat Anchen sê sy het die wagwoord vergeet.

“Ek was die afgelope drie jaar ’n tuisblyma en in daardie tyd het Anchen my nooit rede tot kommer gegee nie. Maar nou weet ek baie goed is weggesteek.”

IN DIE afgelope paar weke vandat Anchen weggeraak en terugkeer het, slaap Hanlie sleg, eet min en het sy 4 kg weens stres verloor. Sy onthou elke besonderhe­id van daardie Vrydag dat haar tienerdogt­er by die huis weg is.

“Anchen was die middag by Butterfly World op Klapmuts by ’n Bybelvasvr­a. Toe sy tuiskom, het sy gevra of sy by haar vriendin kan gaan kuier,” vertel Hanlie.

Haar ma het nie saam met Anchen hek toe gestap waar die vriendin se ouers haar gewoonlik kom oplaai het nie.

“Ek kon nie uitloop nie, want met die tweeling het dit dol gegaan in die huis. En dit was steeds lig buite en ons woon in ’n veilige omgewing,” verduideli­k Hanlie.

Min het sy geweet haar dogter haal ’n Uber om ’n wildvreemd­eling te gaan ontmoet.

Die Saterdagog­gend het sy Anchen probeer bel, maar haar selfoon was afgeskakel. Hanlie het gedink die battery het dalk pap geraak en haar nie verder daaroor bekommer tot die Sondagaand tienuur nie.

“Ek was maar heeltyd bekommerd, maar dit was nie bekommerd in die sin van ‘sy is weg’ nie; dit het eers die Sondagaand ingeskop.”

Dwarsdeur daardie lang, slapelose Sondagnag het sy opgestaan en gaan kyk of Anchen nie dalk by die woonstelko­mpleks se hek staan en wag nie. “Sy moes na ons woonstel bel sodat ek die hek kon oopmaak, maar ek het gedink haar foon se battery was pap,” verduideli­k sy.

Hanlie het eers drieuur die oggend gaan slaap. Toe sy vyfuur opstaan, was haar dogter se kamer steeds leeg. “Ek was bekommerd, want sy moes skool toe gaan en ek het geweet sy het daardie Vrydag niks skoolklere saamgevat nie.”

Van haar werk af het Hanlie die Maandagogg­end die polisie gebel, maar toe sy hoor sy moet na die polisiekan­toor kom om Anchen as vermis aan te meld, het sy haar eksman gebel. Sy het hom al die vorige aand laat weet sy is bekommerd oor Anchen. Reynhardt is toe polisie toe.

’n Reusesoekt­og is van stapel gestuur. Hanlie se suster, Mariette van Lille (44), het ’n foto van Anchen in die sosiale media begin versprei. Die bekommerde ma het ook die plaaslike buurtwag genader en Pink Ladies, ’n organisasi­e wat na vermistes help soek. Sy het ’n WhatsAppgr­oep begin en vervaard boodskappe rondgestuu­r na elke nommer wat sy in die hande kon kry. En tussen alles deur het die kommer aan haar bly knaag. “Ek het die ergste verwag,” erken sy. Anchen se selfoonsei­n het die polisie na ’n 20-jarige man in Bishop Lavis gelei. Dié het aan die koerant Son op Sondag gesê hulle het mekaar op Facebook ontmoet en hy was onder die indruk Anchen is 19.

Hulle het daardie naweek by sy huis “afgekoel” (rustig gekuier), het hy vertel. Hy het haar glo daarna uitgeskop, maar haar selfoon, baadjie, persoonlik­e besittings en tekkies is in sy besit gevind. Hy is later deur die polisie ondervra.

Ná ’ n soektog in die omgewing is Anchen in ’ n plakkershu­t opgespoor waar twee barmhartig­e Samaritane, Marco Manuel (29) en sy ma, Carol (48), haar slaapplek aangebied het.

Dit was nadat Beugon Walker (24) en sy meisie, Malikah Engelbrech­t (20),

haar in die informele nedersetti­ng sien ronddwaal en haar na die Manuels geneem het.

“Ek het (’n foto van) die plakkershu­t in die koerant gesien. Ek was ontsteld en hartseer,” sê Hanlie.

Anchen se pa het haar die Dinsdagnag by die polisiekan­toor gaan haal en na sy huis geneem. Hanlie het haar dogter eers die volgende oggend weer te sien gekry – die eerste keer sedert haar verdwyning.

“Daar was niks kwaad of skel nie, net blydskap sy is orraait en ons sal dit uitwerk. Almal was te geskok; ons het nie baie gepraat oor wat gebeur het nie. En Anchen het nie veel gesê nie.

“Dit was drukkies en trane. Ek het vir haar gesê alles gaan orraait wees en ek is lief vir haar. Ek het haar laat verstaan ek en haar pa is baie lief vir haar en sal dié ding uitwerk, wat ook al fout is.”

Hanlie en Reynhardt het saamgestaa­n en nie onderling gestry nie; hulle was net te bly sy is veilig.

Sy meen haar dogter het ’n knou weg toe haar geliefde ouma aan moederskan­t, Marie Ferreira (65), skielik verlede November weens kanker sterf. Marie het Anchen tot in die afgrond bederf, sê Hanlie. “As Anchen nou ’n paar duur tekkies wou hê, het sy dit gekry.

‘‘Sy het ook vir Anchen baie nuwe klere gekoop.

“Ná haar dood het Anchen byna oornag verander. Sy was baie meer op haar selfoon, maar sy het altyd gesê sy speel speletjies daarop en neem selfies.”

Hoekom haar dogter weggeloop het, weet sy nie, sê Hanlie. “Dis duidelik iets pla Anchen.”

Hanlie en Anchen se pa was sewe jaar saam voor hul huwelik op die rotse geloop het.

“Sy was die enigste kind,” vertel Hanlie. “Toe die tweeling kom, het sy gevoel sy word afgeskeep. Maar ek het dit nie opsetlik gedoen nie. Ek probeer my in drie skeur vir my tweeling en vir Anchen, maar dis onmoontlik.”

In van die inskrywing­s op haar tweede Facebook-profiel praat Anchen kras van haar ma.

“Ek en Anchen skel af en toe soos ouers en dogters maar maak, maar niks ernstigs nie. Anchen is hardkoppig, maar het nog nooit ’n pak slae gekry nie. Ek is ’n streng ma; dalk nie streng genoeg nie,” vertel sy.

Oor die bewering dat Anchen haar as ’n19-jarige voorgedoen het teenoor die man by wie sy die naweek deurgebrin­g het, sê Hanlie: “Sy is lank, 1,72 m. Sy lyk ouer as 13, maar wanneer sy praat, sal jy hoor sy is maar nog net ’n 13-jarige kind.”

Nadat Anchen met haar ouers herenig is, het hulle saam besluit dat sy ’n ruk lank by haar pa gaan woon. ’n Maatskapli­ke werker wat die voorval ondersoek, het aan die ouers verduideli­k Anchen moet vir 90 dae in iemand anders as haar ma se sorg geplaas word.

“Ons het besluit dit sal minder ontwrigten­d wees as sy by haar pa bly as by iemand vreemds. Sy het nou ’ n pafiguur in haar lewe nodig.”

Hanlie se kêrel en Anchen het ’n goeie verhouding en hy hanteer haar soos sy eie dogter, voeg sy by.

Omdat sy nie ’n motor het nie, sien sy Anchen nou min; net een of twee keer per week wanneer sy saam met haar pa by haar kom inloer, sê Hanlie.

Anchen is terug in die skool, waar sy in gr. 7 is, en dit gaan goed met haar. Albei haar ouers het haar nou verbied om die sosiale media te gebruik en haar selfoon wat sy van 10-jarige ouderdom gehad het, is afgevat, vertel haar ma.

Sy mag ook nie meer by maats gaan oorslaap nie.

“Ek is spyt oor baie goed,” sê Hanlie. “Dit was ’n groot leerproses vir my. Ek weet nou watter gevaarteke­ns om voor uit te kyk en wat om nie mis te kyk nie.”

Sy sal beslis leer uit die voorval en haar tweeling anders grootmaak, sê sy. “Wanneer hulle (eendag) wil uitslaap, sal ek eers die ouers van die ander kinders se kontaknomm­ers kry.”

Haar groot droom vir haar oudste dogter is dat sy verder sal studeer. Anchen wil ’n sjef word, vertel Hanlie blinkoog.

Haar raad aan ander ouers? Doen net jou bes.

“En moenie jouself kruisig wanneer dinge skeefloop nie. Tieners sal tieners bly en jou teleurstel. Maar let op na die sosiale media.

“Ek het op die harde manier uitgevind wat ’n onding dit is.”

 ??  ?? LINKS: Hanlie Ferreira is as ’n slegte ma uitgekryt, maar sê sy doen haar bes. BO: Die pamflet met Anchen se foto wat oral in die sosiale media versprei is.
LINKS: Hanlie Ferreira is as ’n slegte ma uitgekryt, maar sê sy doen haar bes. BO: Die pamflet met Anchen se foto wat oral in die sosiale media versprei is.
 ??  ??
 ??  ?? Die plakkershu­t op die Kaapse Vlakte waar Anchen gevind is. Haar selfoonsei­n het die polisie na ’n 20-jarige man in Bishop Lavis gelei wat sy op Facebook ontmoet het.
Die plakkershu­t op die Kaapse Vlakte waar Anchen gevind is. Haar selfoonsei­n het die polisie na ’n 20-jarige man in Bishop Lavis gelei wat sy op Facebook ontmoet het.
 ??  ?? REGS: Anchen toe sy jonger was. Sy was nog altyd haar ouers se oogappel. HEEL REGS: Haar ma was geskok om uit te vind van haar tweede Facebookpr­ofiel. “Dit is soos ’n ander Anchen van wie ek nie geweet het nie.”
REGS: Anchen toe sy jonger was. Sy was nog altyd haar ouers se oogappel. HEEL REGS: Haar ma was geskok om uit te vind van haar tweede Facebookpr­ofiel. “Dit is soos ’n ander Anchen van wie ek nie geweet het nie.”
 ??  ??
 ??  ?? ‘Ek het vir haar gesê alles gaan orraait wees’
‘Ek het vir haar gesê alles gaan orraait wees’
 ??  ?? Marco Manuel en sy ma, Carol, het Anchen slaapplek aangebied nadat die kêrel by wie sy in Bishop Lavis gekuier het haar glo uitgeskop het. Die meisie se selfoon, baadjie, persoonlik­e besittings en tekkies is in sy besit gevind.
Marco Manuel en sy ma, Carol, het Anchen slaapplek aangebied nadat die kêrel by wie sy in Bishop Lavis gekuier het haar glo uitgeskop het. Die meisie se selfoon, baadjie, persoonlik­e besittings en tekkies is in sy besit gevind.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa