Rekord-orkaan Irma se verwoesting
Lewensverlies, vernietigde geboue en reuseontruimings – Orkaan Irma se pad van verwoesting laat die rekords spat
KORT op die hakke van die vernietigende orkaan Harvey het die skrikwekkende Irma gevolg. Dié kategorie 5-orkaan het die rekords laat spat met ’n pad van verwoesting, eers oor die Karibiese Eilande, waarna dit weswaarts gedraai en koers gekies het na Florida. Irma het teen druktyd minstens 33 lewens geëis en een van die grootste ontruimings in die geskiedenis van die Bahama-eilande en moontlik Amerika genoodsaak.
Die owerheid het nie doekies omgedraai nie, veral vir inwoners van die kwesbare Florida Keys: Gee pad of sien maar self en kom klaar.
Die hewige storm het dreigend oor die Atlantiese Oseaan beweeg en geswel tot ’n gebied groter as Frankryk. Dis aangeblaas deur die warm seestrome. Die eilande in sy pad het nie ’n kans gehad nie en talle is in puin gelê.
Megan Grundling, oorspronklik van die Wes-Kaap, is een van sowat 280 SuidAfrikaners op die Britse Maagde-eilande wat om hulp gesmeek het. Sy woon in Cane Garden Bay in Tortola, wat deur sterk winde geteister is. “Dis werklik skrikwekkend,” het sy aan HeraldLIVE gesê. “Daar is geen elektrisiteit nie en die paaie is onbegaanbaar. Ek is dankbaar ek leef. Ons het dringend hulp nodig,” het Megan, ’n finansiële kontroleur, gesê.
Teen druktyd was dit vier dae sedert Madeleen Rabie (52) van Pearly Beach in die Overstrand laas kontak gemaak het met haar seun, Alex de Villiers (24), en sy vrou, Nicole (22), wat sedert Januarie in Tortola woon. Alex werk vir ’n motorhandelaar en Nicole in ’n restaurant.
Nadat Irma dié eiland op Woensdag 6 September getref het, kon Madeleen nie kontak met die paartjie maak nie omdat hulle van die buitewêreld afgesny is. Sy het 31 uur angstig gewag. Toe flits ’n teksboodskap van ’n vreemde nommer op haar selfoonskerm: “Haai, Ma. Dis Alex. Ons is oukei. Geen sein. Eiland is ’n ramp,” vertel Madeleen aan Huisgenoot.
“Ek het dadelik die nommer gebel. ’n Vreemdeling het geantwoord en Alex geroep. Hy kon nie lank praat nie. Hy het net vir my gesê hulle was ses mense wat ses uur lank in ’n badkamer geskuil het.”
Orkaan Jose, wat die eiland na verwagting kort ná Irma sou tref, het net-net by Tortola verbygehou. “Dis die heel eerste orkaan wat hulle beleef het,” vertel Madeleen. “My seun is net gewoond aan Pretoria se donderstorms.”
Tallose eilandbewoners het hul woonplek verloor; die Britse biljoenêr sir Richard Branson se huis op Necker-eiland in die Britse Maagde-eilande is ook verwoes. Die magnaat (67) het hom in sy wynkelder toegesluit tot die storm bedaar het. Hy het toe na Puerto Rico gereis om ’n herbouplan vir sy huis te koördineer en te help met rampverligting.
Dramatiese foto’s van voor en ná die orkaan wys die omvang van die skade en die herstelwerk wat voorlê. Sommige eilande het onder plundery deurgeloop en al die belangrike dienste – water, telefone en elektrisiteit – sou teen druktyd onbepaald buite werking wees.
Hoekom was Irma so sterk?
Dis die eerste aangetekende storm wat winde van byna 300 km/h 37 uur aaneenlopend gehandhaaf het en was die sterkste storm wat al aangeteken is in die Atlantiese Oseaan, buiten op die Karibiese Eilande en in die Golf van Mexiko. Die orkaan was so kragtig, dit het die see tydelik weggesuig van strande in Florida en die Bahamas, en visse agtergelaat.
Ontruimde inwoners is gewaarsku om eers terug te keer huis toe nadat die wind bedaar het, want stormbranders van tot 4,5 m is om die kus van Florida verwag.
Nes nog talle orkane in die Atlantiese Oseaan het Irma naby Kaap Verde aan die noordweskus van Afrika ontstaan. Kaap Verdiese storms kan superkragtig word weens die lang afstand wat dit oor die ekwatoriale Atlantiese Oseaan aflê voor dit die land bereik en verswak, verduidelik Neal Dorst, ’n meteoroloog by die Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Administrasie in Amerika.
Die volmaakte sameloop van omstandighede het Irma omskep in die monster wat sy geword het. The Washington Post berig ’n kombinasie van swak winde in die Atlantiese Oseaan, baie warm seetemperature en die feit dat die kern van die storm oor die oop water kon bly sonder dat dit ’n groot kus bereik het, het tot die orkaan se katastrofiese krag gelei.
Die “windverskuiwing” oor die Atlantiese Oseaan was vanjaar laag vergeleke met vorige jare. Windverskuiwing, ’n verandering in windsnelheid of -rigting met hoogte, is geneig om ’n orkaan uitmekaar te skeur en sy krag te versprei. In kalm toestande kan “siklogenese” voorkom, wat beteken ’n orkaan kan vorm.
Met buitengewoon lae windverskuiwing oor die Atlantiese Oseaan en Karibiese See was ’n aktiewe orkaanseisoen dus al maande aan die broei.