Fiksie: Die Voorspelling
Sonja hou van somme en vinnige motors, maar nie van mans en insekte nie. Het die fortuinverteller twak gepraat?
SONJA het in 2001 haar fortuin laat lees.
Isabeau, Sonja se muggiesifter van ’n suster wat grammatikaal gevoelig is, sê dis nie hoe jy dit stel nie. Sy is teleurgesteld dat haar 15-jarige suster haar toekoms laat voorspel het deur ’n sigeunervrou met ’ n twyfelagtige herkoms in ’n mankoliekige woonwa versier met sterre en ’n onderstebo maan, en dié voorspelling nou reeds jare lank glo.
Agterna beskou is die waarsêery-idee vir Sonja ’n verleentheid. Sy het uit die staanspoor geweet ’n boerseun skuil onder die kopdoek wat die “sigeunervrou” op die Novemberoggend erg laat sweet het. “Sy” het Sonja se handpalm sugtend betrag: moeilikheid, donkerte, lastige insekte en motorenjins. Net so.
Sonja sou op ’n dag ’n donker wolk bo haar kop sien hang. Sy sou soos ’n Lilliputter uit Gulliver Se Reise in die wolk rondval tot ’n reuse-insek haar in sy pote beetkry en met haar na ’n woud vlieg wat met laventelbosse beplant is. Iewers op dié vlug sou Sonja liefde vind.
Het sy geweet haar lewe sou die afgelope 15 jaar so wolkloos en voorspelbaar wees, sou Sonja in die kar bly sit en nooit ’n onsinnige vrees vir insekte ontwikkel het nie. Het sy dit maar alles gelos, want nou bly sy soek na donker wolke wat iewers tussen die silwer randjies van haar lewe skuil.
Vandat Sonja haar ouers vertel het sy wil niks met seuns te doen hê nie, sy stel meer belang in renmotors en syfers en haar kop staan Frankryk toe, probeer sy wolke vermy. Dis ’n ongelukkige fase, het haar ma, die spanningsromanskryfster, gelamenteer toe Sonja die gesin van haar planne vertel.
Dis van die nonsens wat jou oupa (die renjaer) in jou kop prop, het haar pa, ’n operasanger, gekweel.
Haar ouma, die hooggeregshofregter, het die een kêrel ná die ander uit ’n streep jong prokureurs na Sonja se deur beduie. Dit is darem so ’n vermorsing: die mooi lyfie, die dromerige grys oë. Het Sonja dan geen paringsdrang nie?
Isabeau se bydrae was sy wens hul pa wil bykom, en Sonja se flou paringsdrang het niks met motorenjins te make nie. Sonja was alternatief. Sonja hou van spoed, sy hou van Frankryk en sy hou van vroue. “Dis haar saak.”
Op die vooraand van haar 30ste verjaardag het Sonja geen korttermynvooruitsigte op watter front ook al nie. Skaars ’n kwesplek van die paar kortstondige verhoudings wat nêrens heen gelei het nie.
“Ek’s moeg, man. Ek moet môre ’ n groep Chinese op ’n staptoer deur die aanleg neem,” het Sonja wal gegooi toe Isabeau sê ouma Jana wil graag ’n vleisbraai hou.
“Ons kan vroeg ry, Ouma verlang, en ma-hulle sit nog in Wene,” het Isabeau geneul.
WAARAAN dink jy?” vra Isabeau terwyl sy parkeerplek soek voor ouma Jana se huis. Die straat voor die huis is vol parkeer, ook die oprit. Isabeau het Sonja gaan oplaai, want die verjaardagmeisie moet kan vonkelwyn drink en dan mag sy nie bestuur nie.
“Ek wonder sommer,” antwoord Sonja rusteloos, haar liggaam ongemaklik met die idee van ’ n stuurwiel in iemand anders se hande. “Waaroor?” “Of Herman al geland het.” Isabeau hou laer in die straat stil, gevaarlik naby ’n ander motor.
“Jy jok. Herman sal ’n WhatsApp stuur wanneer hy land en jy kwel jou nie regtig
Toe hul hande aan mekaar raak, ruk Sonja hare weg. Antonie lag
oor my man se veiligheid nie.”
“Nee, eerder my eie,” sê Sonja droog, haar oë op die aanboordrekenaar se raakpaneel. “Dit is waarom ingenieurs parkeerhulp vir moderne karre inbou.” “Kom nou, ek sien uit na die aand.” Isabeau gryp haar baadjie. “My man en sy konferensie kan wag. Ouma het ’n lekker klomp bymekaar.”
Dis wat haar pla, dink Sonja. Monoloë oor die regstelsel en die samelewing, Meningsgedrewe, oor alles – dis haar ouma se vriende om ’n vleisbraaivuur.
Ná haar oupa se dood braai niemand meer nie. Het Ouma intussen as braaier ontpop? Wat het haar besiel om te kom? Seker die verlange om haar ouma weer te sien. Melankolie oor haar 30ste verjaardag? Dalk moet sy na Isabeau luister en meer ontspan.
Byna ’n jaar gelede het Sonja se werkgewer, ’n Franse motormaatskappy, laat weet hul hoofkantoor kort ’n nuwe baas in Suid-Afrika. Die MSC-motorgroep se verliese van miljoene euro’s het die groep op die punt van ’n oorname gebring. Wou Sonja haar loopbaan as toetsbestuurder op ys sit en haar kennis van motorenjins met haar opleiding as geoktrooieerde rekenmeester kombineer?
Sy het die aanbod aanvaar. Motorsport bly ’n tydverdryf en haar mededingende streep op die renbaan syfer stadig deur na die maatskappy se prestasie op die aandelebeurs. Pas tuis het Sonja gehoop sy sal haar familie meer te siene kry. Weldra het die dae maande van vergaderings en sake-etes geword, die plaaslike werknemers vies oor die “Franse” vrou wat produksie “op koers probeer kry”.
WELKOM!” roep ouma Jana terwyl die motorhek oopskuif. Met die groetslag gryp sy Sonja styf vas. “Hoekom moet ek vir Isabeau op jou sit? Jy werk jou gedaan. Kom, ontmoet . . .”
Die woordevloed spoel oor Sonja. Haar kop is terug by die werk. Kostebesnoeiings het winste verstewig, maar tot arbeidsgeskille gelei. Sy het besef te veel tyd op hoofkantoor en te min tyd op die fabrieksvloer is gif vir besigheid, en dié benadering werp vrugte af. Sy moet nog die volle beleggingsmoontlikhede aan die Chinese verduidelik.
Isabeau por Sonja aan tot op die agterstoep, waar mense met drankies in die hand rondstaan. Sy merk heel eerste die figuur van ’n vrou wat heen en weer voor die braaiplek loop. Selfoon in die hand. Seker ’n prokureursvriendin van haar ouma, want sy kan die woorde “geskille” en “hofdatums” uitmaak.
“Adv. Antonie Jooste,” sê ouma Jana, “werk saam met die Groen Skerpioene.”
Sonja frons. Sy het nie krag vir gifangels nie.
“Ouma moet die tuin laat skoonmaak. Die bosse lok gediertes.” “Die girl is ’n slimme.” “Watter girl, Ouma?” “Antonie. Die een wat die skoorsteen patrolleer. Spesialiseer in omgewingsake.” Jana se oog vang dié van die advokaat en sy knik liggies vir haar.
’n Sfinksagtige vrou met dramaties omlynde ooglede sweef op die advokaat af. Isabeau fluister die sfinks is ’n “aktrize” en die advokaat is vrek aantreklik op ’n gay manier. Die aktrise drapeer haar oor die advokaat se skouer. Sonja verloor belangstelling in albei.
“Stel julself voor, asseblief? Ek gaan die braaijel soek,” sê ouma Jana.
Sonja en Isabeau ontmoet ’n pianis met ’n Oos-Europese verlede, ’n uitsmyter by ’n klub, ’n paar regsgeleerdes en lektore. Daar is niemand wat in motorsport belangstel nie. Haar maag grom. Dit lyk of haar ouma vergeet het om eetgoed te maak.
Hulle kry ouma Jana in die kombuis. “Het Ouma iets gemaak om aan te peusel?” vra Isabeau.
Ouma Jana ignoreer die vraag. “Die uitsmyter is ’n informant,” antwoord sy geheimsinnig.
“Ek sal iets maak,” sê Isabeau. “Gaan kry julle gou die vuur aan die gang.”
Sonja en ouma Jana loop stoep toe. “Gaan die uitsmyter vir ons braai?” vra Sonja tussen die gegons van stemme.
“Antonie lyk of sy kan braai,” besluit ouma Jana. “Kom, ek vat vir haar die aansteekgoed.”
Sy pyl af op die advokaat, wat voor die toegerankte skoorsteen staan en vroetel. Dit sal ongeskik wees om nou ’n ander rigting in te slaan, besluit Sonja.
Antonie probeer die braaiplek met ’n verslete borseltjie skoonkrap. Langs haar lê ’n streepsak vol swartwattelhout. Sy haal ’n paar stukke uit. “Ons sal moet fynhout kry. Jou hout is nat, Jana.”
Ouma Jana grinnik. “Ontmoet vir Sonja,” sê sy vir Antonie. “Dè, gebruik die braaijel. Dis omgewingsvriendelik.” Sy knipoog vir Sonja. “Julle moenie tyd ver- spil met onnodige praatjies nie. Die vuur moet aan die gang kom, die mense is honger. Gay girls hou mos van braai.”
“Verskoon my?” sê Antonie, maar ouma Jana het klaar weggeglip.
“Bly te kenne,” prewel Sonja bedremmeld. Ouma Jana is miskien ’ n regsgeleerde, maar haar braaier lyk voorwaar beroerd, en Antonie het ’n vreemde uitwerking op haar.
“Die element van gevaar maak jou sport seker opwindend,” sê Antonie.
Eindelik iemand wat die adrenalienstuwing van motorrenne verstaan? “Dit moet seker gevaarlik bly; dis wat mense na motorrenne aantrek.”
“Hmm,” antwoord Antonie. “As jy daardie bestanddeel verloor, sal mense nie dink dis iets buite hul bereik nie. ’n Rekenmeester se lewe kan vervelig raak.” Sy gee vir Sonja ’ n stuk hout aan. Droë takkies van ’n laventelbos. Toe hul hande aan mekaar raak, ruk Sonja hare weg. Antonie lag.
Sonja gryp die braaijel. Rekenmeester, nogal. Vervelig? Se voet. Sy druk ’n klomp jel oor die hout uit. Kry die vuurhoutjies beet en steek die spul aan die brand. Die vlamme spring teen die skoorsteen op.
Dan breek ’n woedende donker wolk uit die skoorsteen los en sak op Sonja en Antonie toe. “Ons moet hardloop,” wys Antonie in die chaos. Sy sleep Sonja stoep toe. “Julle moet ingaan!” gil sy vir die ander. “Daar’s bye in die skoorsteen.”
Sonja skree. Die bye kruip voor by haar bloes in, agter oor haar kraag. Antonie pluk die bloes oor haar kop en hou Sonja teen haar vas tot sy die glasdeur agter hulle kan toekry. Mense klap na verdwaalde bye in die rookwolk wat saam by die deur ingewarrel het.
“Haal seblief die angels uit? Dis blerrie seer,” sê Sonja.
“Hou stil,” sê Antonie. Sy haal haar beursie uit haar sak en glip ’n kredietkaart uit. “Jy trek nie die angels uit nie, anders brand dit meer. Jy krap dit skuins uit met die kant van die kaart.”
Sy trek Sonja se kraag eenkant toe. “So,” sê sy saggies.
Uit die rookwolk sweef die aktrise met ’n selfoon in die hand nader. Aan die ander arm verskyn die uitsmyter. “Die nooddienste is op pad. Nooit ’n vervelige oomblik wanneer Jana partytjie hou nie.”
Sonja voel lighoofdig, soos die Lilliputter in die sigeuner se wolk.