Ons goue jare hoef g’n wag-op-die-dood-jare te wees nie. ’n Leser vertel as senior burger leef sy elke dag ten volle – vir haar én die gemeenskap
EKis skoon jaloers wanneer ek op Facebook sien hoe baie vroue van my ouderdom foto’s van hul kunstige handewerk plaas.
Dis kwiltwerk, hekelwonderwerke, fyngebak uit die boonste rakke en alles wat met bekwame hande opgetower kan word.
Ure word bestee aan allerhande skeppende werk om die senior jare die moeite werd te maak.
Gelukkig hoef die res van ons, wie se hande om watter rede ook al nie meer so gewillig is of so goed raak vat nie, darem nie bedremmeld langs die kantlyn te sit nie.
As jy nog enigsins ’n pen kan vashou, kan jy die ledigheid snoeker met fantastiese inkleurboeke vir volwassenes, blokraaisels, verbind-die- nommerprentjies . . . en lees, lees, lees – wat ook al jou voorkeur is. Want ’n mens is nooit te oud om te leer en die fynkos van die geskrewe woord te geniet nie.
As jou bene en voete jou nog kan dra, stap deur jou woonbuurt, al is dit maar so skuifel-skuifel. En laat jou oë tot nut wees van ander terwyl jy stap. As jy waterpype sien wat lek of straatligte wat helder oordag brand, meld dit aan by jou plaaslike munisipaliteit. So lewer jy nog ’n diens aan jou gemeenskap.
Kan jy soos baie bejaardes nog bestuur? Ry jou kleinkinders rond, besoek ander bejaardes wat meer verswak as jy is of help ander wat nie vervoer het nie hul inkopies doen of by die dokter kom.
Een ding wat jy nie moet doen nie, my mede- senior burger, is om net te sit en wag vir die doodsengel.
Maak ’n plan! Jou lewe het nog waarde vir jou en jou naaste.