AGTER DIE MASKER
Henri staan sterk, al slaap hy saans sleg, vertel ’n kennis. Maar wat gaan deur sy kop terwyl die hofsaak ontvou?
HY ROL die blink ring heen en weer. Vinnig, moeiteloos beweeg die metaalring van sy een vinger na die volgende terwyl Henri van Breda stip na regter Siraj Desai kyk – die man in die rooi toga wat binnekort sy lot sal bepaal. Met elke hofsitting staar die moordbeskuldigde (22) oënskynlik emosieloos voor hom uit. ’n Mens wonder onwillekeurig: Wat dink die jong man?
In een van die land se opspraakwekkendste moordsake wil almal weet of Henri skuldig bevind sal word aan die moord op sy ouers en broer.
Of sal die hof glo iemand was wel op die oggend van 27 Januarie 2015 in hul gesinshuis op die De Zalze-landgoed by Stellenbosch, soos Henri beweer?
Volgens hom het iemand anders sy pa, Martin (54), ma, Teresa (55), en ouer broer, Rudi (22), doodgekap. Sy suster, Marli (toe 16), het die aanval oorleef.
Soos altyd kyk Henri vandag strak voor hom uit. Toe hy alleen by die beskuldigdebank inskuif,insk glimlag hy skrams vir regter regterD Desai.
Die voo voorkoms van die eens skoonges skoongeskeerde jong man met die kort h hare het die laaste p paar maande, sedert die begin van die altesaam vyf weke lange hofverrigtings, heelwat verander. Die moegheid lê ál duideliker in Henri se gesig, hy het heelwat gewig aangesit en sy hare het langer geword. Die lang baard wat hy vroeër gekweek het, is weer afgeskeer.
Toe die ordonnans hofstukke met foto’s van sy vermoorde gesinslede en die bebloede huis uitdeel, toon Henri steeds geen emosie nie.
Vinniger en vinniger beweeg die ring, asof dit skaars aan sy vingers raak.
Henri blaai om en kyk na die bebloede byl en die mes. Dan val die ring.
Die knalgeluid van metaal wat die houtvloer tref, weerklink tot agter bo in die galery. Sy regsverteenwoordiger, adv. Pieter Botha, hou skielik op praat en in die grafstil hof kan gehoor word hoe die ring aanhou rol tot dit eindelik iewers onder die hofbanke tot stilstand kom.
Adv. Botha draai om en kyk stip oor sy bril na sy kliënt. Henri glimlag effens en buk onder die beskuldigdebank in, voelvoel met sy hand op die vloer en tel dan sy ring op. Hy steek dit aan sy vinger en keer terug na die foto’s voor hom.
Die grufoto’s laat ’n wrang smaak in jou mond en ’n naarheid in jou maag opwel, en jy wonder waaraan Henri dink toe hy na die lyke van sy gesinslede staar.
Worstel hy met homself wanneer hy alleen is? Hoe voel dit om te hoor hoe die grusame besonderhede van die moordnag waarin jou familie uitgewis is, beskryf word? En hoe voel dit om te weet jou gesigsuitdrukking en liggaamshouding word voortdurend bestudeer?
Wat gaan aan in die gedagtes van die beskuldigde in die opspraakwekkendste moordverhoor van die jaar?
OP DIE 38ste dag van die verhoor, net voor hy sy gewone plek in die beskuldigdebank inneem, draai Henri om en groet ’n onbekende man in die openbare galery. “Ek het Henri van kleins af geken, toe hulle in Pretoria gewoon het; dit was net voor die gesin Australië toe getrek het,” vertel die gryskop later tydens die etensuur buite op die hof se trap.
Hy wil nie sy naam noem nie, want dit is nie sy plek om uit te praat nie, sê hy.
Maar hy staan vierkant agter Henri en glo onwrikbaar in sy onskuld. Hy beskryf Henri se gelukkige kinderjare.
“Onder die omstandighede gaan dit goed met Henri. Hy staan sterk en probeer positief wees. Hy glo sy onskuld sal nog in die hof bewys word,” sê die man.
“Ja, hy sukkel om snags te slaap, maar hy hou aan glo. Dink jy nie dit is wonderlik nie?” sêvra hy. Glo Henri in iets spesifieks? Beslis, ja, sê die man: “Henri is nie gelowig nie, maar hy is baie spiritueel. Sy meisie, Daniellé . . . ken jy haar? Ag, sy is ’n wonderlike, saggeaarde meisie. Sy ondersteun hom ook geweldig.”
In ’n eksklusiewe onderhoud met Huisgenoot het die 21-jarige Daniellé Janse van Rensburg verlede jaar gesê Henri is die liefde van haar lewe en sy sal hom deurentyd ondersteun.
“Mense moet weet dat Henri, wat so ’n sagte hart het, nooit daartoe in staat sal wees om sy ouers en broer dood te maak nie,” het sy toe vertel.
OP DIE 39ste dag het iets verander. Toe Henri sy gewone plek in die beskuldigdebank inneem, wil-wil dit vir die eerste keer vandat hy van die moorde aangekla is, lyk asof hy ’n bietjie regopper sit.
Hy luister aandagtiger na die hofverrigtings en maak meer aantekeninge op die papier voor hom; af en toe groet hy selfs van die fotograwe voor hulle hom afneem. Wat het verander? Sy regspan baklei terug. Die staat het hul saak afgesluit. Nou wil sy span met alle mening bewys daar steek wel waarheid in sy weergawe van wat die moordnag gebeur het.
“Hoop. Dit is al wat Henri in dié stadium het,” vertel die man buite die hof.
“Ek hoop saam met hom hy stap binnekort by hierdie einste trap af as ’n vry man.”