WAT MAAL DEUR HENRI SE KOP?
Hoe is dit om ’n beskuldigde in ’n opspraakwekkende saak te wees; watter worsteling vind plaas by ’n vermeende moordenaar?
Dis moeilik om bloot op grond van iemand se optrede te bepaal hoe hy die spanning en druk hanteer, sê prof. Dap Louw, buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, wat as forensiese sielkundige en kriminoloog by verskeie hoëprofielsake in SuidAfrika betrokke was. (Hy is nie by Henri van Breda se saak betrokke nie.)
Dap meen op sekere mense sal die druk geen verskil maak nie. “Die grootste fout wat ons kan maak, is om onsself as vertrekpunt te gebruik. Die meeste beskuldigdes is juis (in die hof) weens die dade wat hulle gepleeg het; omdat hulle anders as die res van ons is,” sê Dap.
“Jy sal nie kan weet of die emosie of gebrek daaraan ’n weerspieëling is van wat in sy kop aangaan voor jy hom geëvalueer het nie.”
Spanning kan maak dat ’n beskuldigde baie gewig aansit of verloor, maar dit bly bespiegeling, sê Dap.
“Elke mens is uniek en dit is onmoontlik om te voorspel hoe iemand (in ’n verhoor) sal reageer,” beaam prof. Christiaan Bezuidenhout, ’n kriminoloog aan Tukkies.
Hy verduidelik ’n beskuldigde in so ’n verhoor gaan deur verskeie fases. “Eerstens ervaar ’n beskuldigde enorme skok. Daarna volg ontkenning en later rebellie, woede en selfs depressie.” Party beskuldigdes hanteer die spanning deur meer te eet; ander sukkel om te eet of te slaap.
“Oscar Pistorius het byna die hele saak lank snot en trane gehuil, terwyl Don Steenkamp in die Griekwastad-saak strykdeur geen emosie getoon het nie. Elke ou is anders,” sê hy.
Hy voeg by: “Beskuldigdes dink beslis aan die moontlikheid van tronkstraf. Dis veral angswekkend vir ’n beskuldigde wanneer die getuienis teen hom begin toeneem. Gewoonlik is dit eers wanneer die beskuldigde die saak verloor of gevonnis word dat die werklikheid insink.” –JANA VAN DER MERWE en MARIZKA COETZER