Wanneer jou maat die dag byna weggeruk word, besef jy wat ’n lewe werklik beteken
DIS
met die dankbaarste van harte dat ek vandag hierdie brief skryf.
Stel jou voor watter angswekkende ervaring dit is om halfdrie die oggend wakker te skrik en te besef jou man hier langs jou in die bed veg om elke asemteug. Jou metgesel en vennoot in 34 jaar van lief en leed groet jou, oortuig dat hy gaan sterf, en sê dankie vir al die goeie jare saam. “Sê vir die kinders en kleinkinders ek is lief vir hulle,” vra hy.
Die wonderlike paramedici kom en teen vieruur daardie oggend stabiliseer hulle hom en red sy lewe. Die diagnose: ernstige hartversaking.
Ná 10 dae van intense behandeling in ’n wonderlike staatshospitaal kom hy huis toe, maar mag nie werk of swaar dinge optel nie. Hy moet werk om die pot aan die kook te hou; ons is pensioentrekkers met ’n karige inkomste.
Drie weke trotseer ek Johannesburg se druk verkeer om hom werk toe en terug te neem. My toeter werk oortyd, maar ek leer simpatie aan vir mense wat elke dag so moet pendel.
Daagliks pak ek vir hom ’n piekniekmandjie met die gesonde kos wat die hospitaaldieetkundige voorgeskryf het. In die bloedige son, wind en slegte weer wag ek vir hom terwyl hy op boupersele waarneem of aan sy kantoor rapporteer.
Ek hanteer alle aspekte van ons huishouding en stel my eie gesondheid vir eers tweede. Maar dis als 1 000 maal die moeite werd, want my man is weer 80% gesond. Ek is dankbaar dat hy nog leef en het waardering vir ons kinders, familie en vriende wat ons met tuisbesoeke en in die sosiale media bygestaan het.
Vandeesmaand word my man 65. Ons beplan om sy lewe te vier met ’n lekker braai saam met familie en vriende. E. DE VILLIERS, ROODEPOORT