EWE VERLIEF – SONDER DRAMA
Nes sy Erfsondes-karakter gedy Emmanuel se liefdeslewe, dalk veral omdat sy Sharlene sy visse aanvaar!
IN DIE dramareeks Erfsondes weet kykers al jare lank van Chris Spencer se liefde vir sy vrou, Kate. In die werklike lewe is die akteur Emmanuel Castis (41) net so verlief soos sy karakter, maar daar is ’n paar groot verskille. Anders as sy donkerkopvrou in die SABC2-drama (gespeel deur Jana Strydom), is Emmanuel se liefde van die afgelope twee jaar blond. Die 34-jarige Sharlene Economou, ’n uitvoerende assistent by ’n konsultasiemaatskappy, is die ma van ’n sesjarige dogtertjie. En, die belangrikste van alles: Hul verhouding is nie so vol drama soos sy karakter s’n op TV nie, sê Emmanuel.
Emmanuel was eintlik op ’n romantiese afspraak met ’n ander vrou toe hy en Sharlene mekaar in Desember 2015 ontmoet. “Ons sou vir aandete uitgaan, maar een van my vriende is oorlede en ons het besluit om eerder as ’n groep vriende saam na ’n kuierplek te gaan om ons vriend se lewe te vier,” vertel hy.
“Toe ons daar aankom, was Sharlene saam met ’n gemeenskaplike vriendin daar. Ek het dadelik gedink sy is beeldskoon.”
Die vriendin het Sharlene gevra of sy “Emmanuel van Isidingo” ken (sy eerste groot rol was dié van Steve Stethakis in Isidingo 17 jaar gelede). Maar Sharlene het hom nie herken nie. Sy het wel later die aand besef sy het Emmanuel, wat ook ’n sanger is, twee jaar tevore in die musiekspel Jersey Boys sien optree.
Die vrou saam met wie hy op die afspraak was, het intussen haar ekskêrel raakgeloop, en toe Emmanuel weer sien, is hulle twee saam daar weg. “Ek het dit as ’n geleentheid beskou om met Sharlene te gesels.”
Sy het hom gevra om vir haar van sy Jersey Boys-liedjies te sing.
Sharlene vertel sy het in 2013 na die musiekspel gaan kyk toe sy besig was om te skei. “Toe Emmanuel op die verhoog kom, het my ma na my gedraai en gesê: ‘Dis nou die soort man saam met wie jy moet wees.’ ”
HUL romanse het vinnig vlam gevat. “Ons het vir ons eerste afspraak die musiekriller Sweeney Todd gaan kyk,” sê Sharlene. “Dis toe dat ons ’n ernstige gesprek het.” Emmanuel het reeds voor Sharlene sy lewe binnegestap het, beplan om 10 maande lank geleenthede in Ameri- ka te verken. “Ek het gesê dis reg met my, maar as hy my steeds wil sien, moet dit eksklusief wees,” vertel Sharlene.
“Ons het soggens en saans (’n uur lank) deur WhatsApp-oproepe gekommunikeer en FaceTime gebruik.”
Sy het ook een keer vir hom in Amerika gaan kuier.
Vir Emmanuel was sy Amerikaanse ervaring ’n tyd van persoonlike groei. Hy het in ’n musiekgroep, teaterproduksies en kortflieks gespeel, en die rol van ’n Griekse boef in die Amerikaanse sepie General Hospital losgeslaan. Emmanuel is immers van Griekse afkoms.
“’n Mens het ’n bepaalde idee van Hollywood, maar dis heeltemal anders as op televisie en in flieks. Dis nie maklik op jou eie in ’n ander land nie, maar dit was ’n ervaring wat my perspektief gegee en baie oor myself geleer het. Ek het goeie kontakte opgebou.”
Sedert sy terugkeer 'n jaar gelede woon hy by Sharlene en haar dogter, Anthea, in Douglasdale in Johannesburg.
Vir Sharlene was dit aanvanklik 'n aanpassing om gewoond te raak aan Emmanuel se onvoorspelbare werkure. Hy het byvoorbeeld begin vanjaar gelyktydig aan drie TV-reekse gewerk en was byna dag en nag doenig. En tussendeur is optredes saam met sy musiekgroep, Dalliance.
“Sy het gou die bedryf leer ken en steun my ongelooflik baie,” sê Emmanuel.
Met eksmeisies soos die model Tanya van Graan en die sangeres Louise Carver was Emmanuel se liefdeslewe al in die kollig. Maar nou is dit vir hom lekker om 'n verhouding te hê wat nie heeltyd in die openbare oog is nie.
Sharlene vergeet partykeer mense weet wie hy is. “Wanneer mense hom in die openbaar nader, moet ek myself herinner hy is bekend. Ek het hom nog nooit in daardie lig gesien nie.”
Ondanks hul uiteenlopende loopbane en werkure maak hulle tyd vir mekaar. “Ons het nogal ' n roetine. Maandae speel Emmanuel kegelbal; dan het ek en Anthea 'n girls' night. Dinsdae sal ons gewoonlik ' n gesinsete hê en Woensdae is date night.”
Wanneer Emmanuel nie naweke musiekoptredes het nie, braai hulle graag saam met familie en vriende of gaan Bosveld toe.
Erfsondes het in September teruggekeer na die kassie en hou kykers nou weekliks vasgenael. In die sesde seisoen word Chris soos die man wat hy nooit wou nadoen nie: sy oorlede pa, Anthony Spencer. “Dis juis waarteen hy sy lewe lank baklei het,” sê Emmanuel oor die plek waar sy karakter hom tans bevind. Nes die Spencer-patriarg is Chris nou streng met sy kinders en doen hy sy bes om die Spencer- naam te beskerm, sê Emmanuel. Veral Chris se seun, die jong Anthony (gespeel deur Ruan Wessels), ontgeld dit.
“Dis moeilik om hom hieroor te veroordeel omdat hy sy gesin die beste wil gee met die raamwerk wat hy het.”
Chris en Kate is nog gelukkig getroud in die reeks en het kinders.
Emmanuel was vroeër vanjaar ook te sien in die SABC3-reeks Thula's Vine, waarin hy Jaco, 'n sjef met stukkende drome, gespeel het. In die e.tv-reeks Broken Vows vertolk hy die rol van Chris Myburgh, 'n sokkerster wie se loopbaan deur 'n besering kortgeknip is. “In 'n stadium is al drie die reekse gelyk verfilm. Ek het gelyk twee Chriskarakters vertolk en 'n Jaco. Boonop is Kate in Erfsondes se buite-egtelike kind se naam ook Jaco. Ek moes dus kophou tussen: Jaco, Chris, Chris en Jaco.”
EMMANUEL het nog ' n passie: sy visse van alle vorms en groottes. “Die visse is jou eerste liefde,” lie terg Sharlene en rol ro haar oë laggend na Emmanuel Em se kant toe.
Sy vertel toe sy verlede led jaar van 'n oorsese sakebesoek terugkeer, het hy die hele huis met blomme versier.
“Dit was ongelooflik,” vertel sy. “Maar toe sê hy: ‘Kom kyk wat ek gebou het terwyl jy weg was.' Hy het 'n hele kamer vol vistenks ingerig.”
Tog erken sy hul huis sou nie volmaak gewees het sonder die visse nie. “Dis vir my lekker om te sien hoe passievol hy daaroor is. Ek het self ook 'n paar gekies.”
Emmanuel kom ook goed oor die weg met klein Anthea. “Ek is soos haar speelmaat,” vertel hy.
“Sy maak die lewe ook soms vir hom moeilik,” vertel Sharlene. “Maar hy doen baie moeite met haar, en sy is baie lief vir hom.”
Emmanuel en Anthea is lief vir voëlskyk. “In die Bosveld sal ons letterlik vir elke voël stilhou,” vertel Sharlene. “Ons was nou die dag in die Krugerwildtuin en ek het die karsitplekke platgeslaan om vir haar 'n bed agter te maak. Maar toe word ek agtertoe gestuur om happies en koeldrank aan te gee.
“En voor in die kar? Daar sit die twee veldwagters.”
Kan ons binnekort 'n groot, vet Griekse troue verwag? Sharlene vertel haar eksman is ook van Griekse afkoms; dus is dit juis hoe hul troue was. Sy en Emmanuel oorweeg iets meer intiems.
“Maar ek het baie tannies en ooms,” onderbreek Emmanuel haar.
‘Toe ons daar aankom, was Sharlene daar. Ek het dadelik gedink sy is beeldskoon’