SY GELIEFDE ALTYD NET ’N HANETREE VER
Al wys Henri feitlik geen emosie in die hof nie, lyk hy daarbuite gelukkig, byna sorgeloos. Net nadat die hof op sy verjaardag verdaag het, is hy sonder baadjie of das opgemerk waar hy en sy meisie van die afgelope byna twee jaar, Daniellé Janse van Rensburg (22), hand aan hand in Kaapstad se strate stap.
Hy glimlag, maar tog was dit vir hom ’n besonder moeilike dag in die hof, die derde dag dat hy self getuig het. Daarby moes hy kort voor middagete demonstreer hoe hy ’n aanvaller sy broer en pa sien doodkap het.
In die getuiebank het hy op aandrang van die aanklaer die houtreplika van die byl wat hy beweer sy aanvaller gebruik het in sy regterhand geneem en die houe in die lug geslaan.
Met die middagpouse het hy soos gewoonlik vinnig uit die hof verdwyn. Dan gaan hy na die een plek waar hy waarskynlik veilig voel: sy advokaat se kantoor oorkant die hof- gebou, waar Daniellé vir hom wag. Op sy verjaardag het sy vir hulle ’n groot pizza bestel. Hulle het dit nie opgeëet nie, want toe die hof later die middag verdaag, het Henri met die boks by sy advokaat se kantoor uitgeloop. Hy het kalm, gelukkig en ontspanne gelyk toe hy en Daniellé na sy motor loop. ’n Mens sou maklik kon dink dis net nog ’n verliefde paartjie op ’n Kaapse lentedag . . .
Al het Daniellé tot dusver in die hofsaal in haar afwesigheid geskitter, ry sy elke dag saam met Henri hof toe. Dan kyk sy in sy regspan se kantoor na die uitsending van die verhoor, vertel ’n bron.
Henri verkies dit so, want hy wil haar teen die media-aandag beskerm, verduidelik die bron. Daniellé glo onwrikbaar in haar kêrel se onskuld, het sy tevore aan Huisgenoot gesê.