HOERA, EK ROEP EN HULLE HOOR!
MENS kan jou dit skaars indink: Jou twee jong kinders kan nie jou stem hoor of met jou praat nie. Jy het hulle nog nooit “mammie” hoor sê nie. En jy kan nie verwondering of vreugde op hul gesiggies sien nie, want jy is feitlik heeltemal blind.
Vir die meeste mense is dit ondenkbaar, maar vir die Venters van Pretoria was dit lank hul normale, liefdevolle gesinswêreld.
Dis eers ’n paar maande gelede dat ’n nuwe wonderwêreld vir die kinders begin oopgaan het. Danksy hul onlangse kogleêre inplantings het die negejarige Samantha tot haar groot verbasing vir die eerste keer ’n hond hoor blaf. Haar 11-jarige boetie, Corban, put nuwe genot uit sy videospeletjies, want hy kan nou vir die eerste keer die aksiegeluide hoor.
En omdat die kinders nou kan hoor, kan hulle eindelik leer praat. “Mammie” was die eerste woordjie wat Samantha gesê het, vertel hul ma, Tanya (33): “Dit was wonderlik om te hoor.” Een van die eerste dinge wat Corban leer sê het, was sy sussie, Samantha, se naam.
Corban en Samantha is Tanya se kinders uit haar eerste huwelik. Sy en haar tweede man, Johan (31), het net 4% sig. “Ons kan nie gesigte of detail sien nie. Dis soos om permanent ’n donkerbril te dra waarvan die lense met dik petroleumjellie toegesmeer is,” verduidelik Johan. Buite bekende ruimtes soos die huis gebruik hulle ’n loopstok en hul gidshond. Die twee het ook ’ n dogtertjie saam, Micyla (2), wat geen gestremdhede het nie. (Sien die kassie regs bo.)
Omdat Corban en Samantha sedert hul kogleêre inplantings nog maar min woorde geleer het, gebruik die Venters nog hul ou “huistaal” wat hulle self ontwikkel het. Dis hoofsaaklik gewone gebaretaal, maar die kinders vorm die tekens met hul vingerpunte teen hul blinde ouers se oop handpalms.
“Ek het jare lank gewonder hoe die kinders sou reageer wanneer hulle vir die eerste keer geluide hoor,” vertel Tanya. En al kan hulle nie die kinders se gesigsuitdrukkings sien nie, beleef hulle tog die nuwe ervaring saam met die tweetjies.
Tanya verduidelik dat Corban en Samantha van kleins af geluidjies gemaak het, al kon hulle nie woorde vorm nie. “Ek kan hoor aan die geluidjies of hulle Deur bang of opgewonde is.” Die kinders dra ook hul emosies met hul handdruktaal oor. “Toe Samantha haar eerste geluid hoor, het sy net geglimlag. Corban was oorweldig van vreugde.”
Sy verpoos ’n oomblik. “Gaan speel buite,” sê sy dan vir die kinders. Hulle gehoorsaam dadelik, en selfs hierdie alledaagsheid is vir Tanya ’n wonder in die kleine. In die verlede sou sy hulle nie ’n stemopdrag kon gee nie – sy sou eers na hulle moes gaan, hulle aandag trek om na haar te kyk en dan vir hulle sein.
“Die inplantings het ons almal se lewe baie verryk. Om my kinders te kan roep en hulle hoor my, is wonderlik,” vertel sy.
Johan raak emosioneel. “Samantha het my voor die inplantings gevra: ‘As ek eendag ’n groot kind is, sal ek jou kan hoor en met julle praat?’ Dit vat aan ’n mens.”
DFoto’s: IE kogleêre inplantings is op 6 Maart vanjaar danksy die Stigting vir Kinders met Gehoorverlies in SuiderAfrika uitgevoer en die gehoortoestelletjies is op 31 Maart vanjaar aangeskakel. Van toe af was die kinders se dae vol ontdekkings. Samantha was verstom toe sy ’n toilet hoor spoel, sê Tanya. Die voëlsang in die tuin betower die kinders.
“Wanneer hulle ’n nuwe geluid hoor, druk hulle hul vingers teen ons hande en vra: ‘ Wat is dit?’ Wanneer ons met hulle praat, draai hulle nou hul ore na ons. En wanneer hulle musiek hoor, dans hulle.”
Johan beaam dit: “Dit het ons lewe verander. Dit was altyd moeilik om oor ’n afstand te kommunikeer. Hulle moes hier by my wees.”