Huisgenoot

Boek onthul familietwi­s ná bylmoorde

In ’n nuwe boek word onthul hoe een kant van Henri se familie in sy onskuld glo en die ander hom glo versaak het

- Deur JOANIE BERGH

HOE beïnvloed tragiese en verskrikli­ke gebeure die dinamika van ’n familie? Wie staan by wie, en wat bly in die slag? Noudat die moordverho­or van Henri van Breda (23) in die Kaapse hooggeregs­hof einde se kant toe staan, hang dié vrae steeds in die lug. Hoe sal buitestand­ers weet wat in sy binnekring ontvou en hoe sy familie voel oor die skrikwekke­nde dade waarvan hy beskuldig word?

In ’n nuwe boek, Die De Zalze-moorde, onthul die joernalis Julian Jansen vir die eerste keer die tweespalt tussen Henri se familie aan vaders- en moederskan­t – die Van Breda’s en die Du Toits. Die raaiselagt­ige moorde het die familie glo in twee kampe verdeel. Terwyl die een kant onwrikbaar in Henri se onskuld glo, het die ander kant hom glo die rug toegekeer.

Henri word aangekla van die moord op sy ouers, Martin (54) en Teresa (55), en broer, Rudi (22), en die aanval op sy suster, Marli (toe 16). Sy het die aanval oorleef, maar kan na bewering nie onthou wat gebeur het nie.

Henri hou vol ’n inbreker het sy gesin in Januarie 2015 met ’n byl in hul spoghuis op die De Zalze-landgoed buite Stellenbos­ch aangeval, en regter Siraj Desai moet nou oor sy lot beslis.

Terwyl Henri se regspan spook om sy onskuld te bewys, laai die spanning in sy uitgebreid­e familie op oor wie vir sy regskoste moet pa staan.

Martin was ’n suksesvoll­e sakeman en het jare lank in Australië gewoon voor hy en sy gesin middel 2014 teruggetre­k het na Suid- Afrika. Sy rykdom word op R200 miljoen geskat. Omdat hy en Teresa saam gesterf het, is sy tweelingbr­oers, André en Bailey (63) van Breda, en haar broer, André du Toit (61), volgens hul testament die eksekuteur­s van hul gesamentli­ke boedel.

In hierdie verkorte en geredigeer­de uittreksel uit Julian se nuwe boek gee Bailey die eerste keer ’n kykie op die spanning en twispunte in die familie nadat sy broerskind na bewering sy eie ouers en broer afgemaai het.

DIE donner gaan aan met sy lewe, asof niks gebeur het nie. Ons het hom nog nooit gesien nie. Hy kom nie by my en André (van Breda) besoek aflê nie.”

Bailey van Breda was die grootste deel van die oggend in ’n baie gemoedelik­e bui. Sy bitsige woorde is uit die bloute. Hy noem byna nooit die moordbesku­ldigde se naam nie: Dit is “daai een” of net “hy”. Nou klink dit of die damwal bars en sy emosies oor die ronde tafelblad uitloop.

Dit is einde Februarie 2017. In die gewilde restaurant Melissa’s in Dorpstraat, Stellenbos­ch, hang die geure van sterk koffie en varsgebak swaar in die vertrek. Die 63-jarige Bailey het my vroegoggen­d gebel en genooi om saam met hulle te kom koffie drink. Hy en sy vrou, Ida, eet ontbyt. Die twee het die vorige week uit Mbombela (Nelspruit) gereis om hul dogter, Ilicia, wat aan die Universite­it Stellenbos­ch studeer, te besoek.

Die joviale Bailey het ’n groot vriendekri­ng. Sy emosies ry nou baie wipplank, sê sy vriende. Dis al langer as twee jaar dat hulle met die gebeure rondom die moorde en sy stryd teen lewerkanke­r moet saamleef. ’n Klipgooi hiervandaa­n is sy broer, dié se vrou en hul oudste seun met ’n byl doodgekap. Die jongste seun verskyn binnekort in die hof op aanklagte van moord, poging tot moord en regsveryde­ling.

Bailey bal sy hande by tye op die tafelblad. Dit lyk of hy probeer keer dat sy gedagtes en gesprekke teruggly na daardie somernag op die De Zalze-landgoed. Hy stry ’n verbete stryd. By tye raak hy vergeetagt­ig. Ida voltooi soms sy sinne vir hom. Sy harige boarms is vol rooi kolle. Dis die chemo, sê hy. Hy vryf gereeld oor sy arms en kaal kop en sug diep.

“Ons het ’n probleem,” sê Bailey skielik. “Daar is nie geld in die trust (Rudell Holdings Trust) nie. Die meeste geld is in Abacus, die Australies­e trust.”

Dit word bestuur deur Nic Oosthuizen, ’n apteker in Perth en jare lange vriend van Martin. Marguerite de Wet, ’n prokureur in Perth, is ook ’n trustee. Die ver- moorde egpaar se huis in Queensland is deel van dié trust. Die indrukwekk­ende woning se waarde is volgens Australies­e eiendomsag­ente sowat R25 miljoen.

“Ek skat net sowat 10% van die geld lê in Rudell. Die res is in die eiendomme oorsee.” Bailey wys met ’n gapinkie tussen sy duim en wysvinger hoe klein daardie persentasi­e eintlik is.

’n Maand later kry ek onverwags weer ’n oproep van Bailey. “Hoeveel dink jy sal sy advokate vra?” wil hy weet. Senior advokate vra minstens R25 000 per dag, sê ek. Hy bly ’n rukkie stil. “Die advokate is nog nie betaal nie. Ons wil nie betaal nie. Wel, nog nie,” sê hy.

Nog ’n maand later laat weet Bailey: “Hulle wil opereer; die kanker is oral.” Hy sug diep. “So, jy sien . . . Ek sal nie kan afkom Kaap toe vir die verhoor nie.” Dan skielik: “Ons praat nie met hulle nie.”

Later hoor ek die “hulle” is André du Toit en van die trustees van Martin se Australies­e Abacus Trust.

“André (Bailey se tweelingbr­oer) het nou die dag iets oor Henri gesê en toe is daar ongelukkig­heid,” sê Bailey.

MET die aanbreek van die verhoor is daar onenigheid in Henri se familie. Sommige het hulle voor die verhoor van hom gedistansi­eer. Party voel sterk daaroor dat die Van Breda’s se geld nie aangewend behoort te word om sy regskoste te betaal nie. Dié familieled­e meen die regsreël van die bloedige hand (sien die kassie) moet toegepas word.

Bailey se broer André, een van die staat se 114 getuies, sê net: “Die familie distansiee­r hulself van die hofsaak. Ek sal nog sien of ek moet Kaap toe.”

Die Du Toits reageer glad nie eens op navrae nie. Ook nie Teresa se suster, Narita du Toit, nie, ’n vurige ondersteun­er van Henri. Sy het vroeër aan Huisgenoot gesê haar susterskin­d sou nooit so ’n misdaad kon pleeg nie.

Henri se meisie, Daniellé Janse van Rensburg, se ma, Heloise Brown, laat weet: “Ek weet nie veel van Henri of sy familie nie. Al wat ek kan aflei, is dat dit oulike mense is. Hulle kyk mooi na hom. Henri is beleefd en het goeie maniere.”

Die vorige jaar nog het Heloise haar afkeuring en “skok” uitgespree­k oor haar dogter se verhouding met die jong man.

HENRI het intussen sy sjefstudie aan die Capsicum Culinary Studio opgeskort. ’n Klasmaat vertel hy het ook nie die vorige jaar sy praktiese werk by ’n hotel voltooi nie. Daniellé het wel die eindeksame­n geskryf.

Volgens nog ’ n familievri­end woon Henri in ’n huurhuis. “Hy en Daniellé het baie rondgetrek omdat hulle nie geld gehad het vir huur nie. Toe kry hy die geld by mense wat nie eens familie is nie.”

Toe ’n nabye familievri­end twee weke voor die aanvang van die verhoor oor Henri se doen en late uitgevra is, het sy gepleit: “Grawe dieper as die moorde. Kyk wat vooraf gebeur het en hoe hy behandel is. Hy’t hom onttrek aan die samelewing.” Nog ’n familievri­end sê: “As Henri die moorde gepleeg het, kan dit niks anders as ’ n passiemoor­d wees nie.”

‘As Henri die moorde gepleeg het, kan dit niks anders as ’n passiemoor­d wees nie’

 ??  ??
 ??  ?? KLOKSGEWYS, van heel bo: Die identiese tweeling André (links) en Bailey van Breda is twee van die eksekuteur­s van hul broer, Martin, se boedel; Martin en Teresa van Breda is in Januarie 2015 in hul huis op die Stellenbos­se landgoed De Zalze vermoor;...
KLOKSGEWYS, van heel bo: Die identiese tweeling André (links) en Bailey van Breda is twee van die eksekuteur­s van hul broer, Martin, se boedel; Martin en Teresa van Breda is in Januarie 2015 in hul huis op die Stellenbos­se landgoed De Zalze vermoor;...
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Henri van Breda, die beskuldigd­e, en Daniellé Janse van Rensburg, sy meisie.
Henri van Breda, die beskuldigd­e, en Daniellé Janse van Rensburg, sy meisie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa