Huisgenoot

Sunette Viljoen se “tweede ma” praat

Sunette se familie vermy haar glo oor haar seksualite­it, maar vir haar lewensmaat se ma is sy soos ’n eie dogter

- Deur MARLISE SCHEEPERS

SY IS die ouer vrou teenoor wie Sunette Viljoen haar hart uitstort en wat op die paviljoen sit wanneer die Olimpiese spiesgooih­eldin oorsee meeding. Hul band is so sterk soos enige ma en dogter s’n en hulle het selfs troetelnam­e vir mekaar. Sunette noem haar “Liefiemamm­ie” en sy spreek Sunette as “Sunikind” aan.

Die 68-jarige Mariette Louw is die ma van Sunette (34) se lewensmaat, die eNuus-leser LiMari Louw (35). En terwyl Sunette se familie klaarblykl­ik geen kontak met haar wil hê nie omdat haar lewensmaat ’n vrou is, vul Mariette die skoene van die atleet se ma, ook Sunette.

“Ai, arme Sunette,” sê Mariette telefonies uit Jeffreysba­ai, waar sy en haar man, Louis (69), die blonde atleet en hul dogter se gastehuis bestuur. “Daar is verslaenth­eid in haar stem ná elke mooi brief om aanvaardin­g wat sy vergeefs vir hulle (haar familie) skryf en my laat lees. Dit word met koudheid geïgnoreer.”

Toe LiMari haar ma in 2012 vertel Sunette is haar sielsgenoo­t, was Mariette vreeslik bly vir hulle. Sunette was vir haar en Louis van die eerste dag af soos hul eie dogter. Sy vertel Sunette het ook ’n troetelnaa­m vir Louis: “Loe” of “Pappielief­ie”.

Volgens Mariette kry Sunette die liefde en aanvaardin­g waarna sy so smag by die Louw-familie. “Ons hele familie is lief vir Sunette. Wie kan nie wees nie? Sy het met haar vriendelik­e en spontane geaardheid dadelik diep in ons hart ingekruip. Sy het Louis sommer om die nek geval en hom ’n stywe drukkie gegee. Wie kan daarteen bestand wees?”

In Junie vanjaar het ’ n emosionele Drikus Viljoen (38), Sunette se broer, teenoor Huisgenoot erken hy het sy suster “liefdeloos” behandel en “hardop gebid om vergifnis” omdat hy haar verwerp, gevloek en selfs geslaan het. Sunette het toe by monde van haar prokureur gesê dit lyk of haar broer openbare simpatie vir sy onregmatig­e optrede die afgelope vyf jaar soek. Sy wou geen verdere kommentaar lewer nie.

Maar in sy jongste tirade op sy Facebook-blad middel November kap Drikus na Sunette in reaksie op ’n SMS wat sy glo aan die Viljoens gestuur het.

In dié SMS het Sunette glo geskryf: “Moet my nié bel, SMS, WhatsApp of kontak met my probeer maak nie. Julle is my familienaa­m nie werd. Skryf my asseblief af. Sunnette Viljoen is niks meer van enigeen van julle nie. Ek sal voortaan bekend staan as Sunette Louw. Met die semels meng ek my nie meer nie.”

Op Facebook het Drikus geskryf: “Ek staan op vir my ouers vandag. Dit sal ek nie duld nie en dié wat dink die Idols van Suid-Afrika is smart, is nie so donners

smart soos wat hulle dink nie! Klim agter die ystergordy­n uit en kyk die wêreld in die oë en sê wie en wat julle regtig is.”

Sunette wou nie kommentaar lewer op haar SMS aan haar familie of Drikus se reaksie nie. Maar Mariette sê sy en die Louws steun Sunette ten volle en beskou haar as deel van hul gesin nadat haar eie familie haar verwerp het.

SEDERT 2012 is daar al ’n kloof tussen Sunette en haar familie, vertel Mariette. Een van die redes is Sunette se verhouding met LiMari. Oor die ander redes kan Mariette op regsadvies nie uitbrei nie.

Mariette en Louis het Sunette in 2012 tydens die Kerstyd op Hartenbos ontmoet. Nie lank daarna nie het Sunette haar hart begin uitpraat oor die skeuring tussen haar en haar familie. Vir Mariette was dit sleg om te hoor Sunette se familie verstoot haar weens haar gaywees. Haar eie dogter het immers van st. 7 (nou gr. 9) tot matriek daarmee gewroeg en sy weet maar alte goed hoe belangrik familieond­ersteuning is.

LiMari het eerstens ’n familielid vertel sy is gay, daarna ’n sielkundig­e en toe haar pa. “Ek het die sielkundig­e se rekening in die pos gekry en Louis daaroor gevra. Hy het toe vir my gesê LiMari is gay,” vertel Mariette.

“Die middag toe LiMari van die skool af kom, het ek net my arms oopgemaak, haar styf vasgehou en gesê: ‘My arme kind, jy moes ons lankal vertel het.’ Ek kan nie dink hoe ouers ’n kind kan verwerp nie. Wie sal kies om gestigmati­seer te word? Hoe kan dit ooit ’n keuse wees om gay te wees? Dis dieselfde kind wat voor my grootgewor­d het; niks het verander nie. Ek het oor gaywees begin oplees om dit beter te verstaan.”

Mariette vertel in die vyf jaar dat hulle Sunette ken, het haar verhouding met haar eie familie sleg gebly. “Elke keer dat die Viljoens met ’n skindersto­rie rondloop, ontstel dit Sunette en LiMari van voor af. Elke keer wanneer dit gebeur, is ons saam met Sunette hartseer.

“Dis daardie gevoel van magteloosh­eid en ongeloof wat Sunette elke keer kry. LiMari kyk net toe; sy kan niks vir Sunette doen nie. Later weet ons nie meer hoe om te troos en watter raad om te gee nie. Sunette huil soms daaroor, maar dis trane van moedeloosh­eid. Niks, niks sal my Sunikind onderkry nie. Dit motiveer haar net om nog harder te oefen en die wêreld te wys wat in haar steek.”

Mariette vertel sy het al self uitgereik na Sunette se ouers, Daan en Sunette. Nadat die spiesgooie­r verlede Augustus op die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro die silwermeda­lje gewen het, het Mariette vir die Viljoens ’n WhatsApp-boodskap gestuur: “Baie geluk met Sunette se pragtige prestasie in Rio! Ons hoop sy het julle baie trots gemaak en dat julle haar sal aanvaar vir wie en wat sy is – ’n pragtige kind innerlik en uiterlik met die mooiste geaardheid wat as mens oral gewild is, nie net oor haar prestasies nie. Ons hele familie is baie lief vir haar en ons hoop van harte julle sal haar waardeer vir wie sy is. Groete van huis tot huis,” lees die boodskap.

Maar Mariette het geen antwoord van die Viljoens gekry nie. “Alles kon soveel anders gewees het,” sê sy. “Hulle kon selfs saam met die twee hier by ons kom kuier het. Soos een big happy family.”

Sunette, LiMari en Mariette gesels elke dag oor die foon met mekaar. “Ons deel alles,” vertel Mariette. “By hul huis in Johannesbu­rg heers net liefde, vrede, geluk en eensgesind­heid. Hulle is die aangenaams­te mense om by te kuier. Sunette kan nie ’n sekonde stilsit nie. Sy is altyd met iets doenig; sy gaan stap met hul brakkie, Wagtertjie, oefen of doen iets om en by die huis. Wanneer hulle gedurende ’n skoolvakan­sie by ons is, speel sy heeltyd met ons kleinkinde­rs. Stoot hulle in die kruiwa rond, speel krieket op die strand en gaan swem saam met hulle.”

Mariette vertel van ’n onlangse vakansie toe sy, LiMari en Sunette in die Krugerwild­tuin was. “Ek het op ons hut se stoep sit en lees. Skielik het ek ’n kabaal binne gehoor. Ek het opgespring om te gaan kyk. ’n Bobbejaan het by ons hut se venster ingespring terwyl LiMari en Sunette lê en lees het. LiMari het hom probeer verjaag, maar hy het haar doodluiter­s sit en aankyk, die yskas oopgemaak, gevat wat hy wou en weer by die venster uitgesprin­g.”

RIO, Swede en Engeland is net ’n paar van die plekke waarheen Mariette gereis het om Sunette te steun wanneer sy spiesgooi. “Nadat Sunette in Rio silwer s gewen het, het sy na my en LiMari L se blyplek gekom sodat ons dit saam s kon vier. Ons het sommer al drie in een bed geslaap,” vertel sy.

Dit maak haar woedend wanneer mense m Sunette en LiMari oordeel. “Net nou die dag het ’n vroutjie in die kerk vir my gesê hoe jammer sy vir my is oor LiMari en Sunette. Ek het haar eers verstom aangekyk en haar toe vertel hoe lief ek die twee het en hoe wonderlik hulle mekaar aanvul. Ek kry mense jammer wat ander oordeel. Ek is dankbaar dat Sunette en LiMari bymekaar uitgekom het. Dit was so bestem,” vertel sy.

“Ek wens hulle sal nog baie lank daar wees vir mekaar. Dat hulle met die krag en hulp van hul anker, Jesus Christus, en die liefde en steun van hul Louw-familie sterker en heel anderkant uitkom.”

In reaksie op Mariette se vertelling het Sunette se ma, Sunette sr., sowel as Drikus aan Huisgenoot gesê hulle het Sunette nie verstoot nie. Drikus het ook aan ons gesê hy en sy familie “sukkel om met Sunette kontak te maak”. Maar Mariette sê Drikus het nie voor of ná sy emosionele pleidooi in Huisgenoot in Junie met Sunette probeer kontak maak nie.

 ??  ?? HOOFFOTO: Mariette Louw, die TV-nuusleser LiMari Louw se ma, beskou Sunette Viljoen as haar eie kind. Die foto is onlangs in die Krugerwild­tuin geneem. BO: Sunette en LiMari ’n paar jaar gelede by hul huis in Johannesbu­rg.
HOOFFOTO: Mariette Louw, die TV-nuusleser LiMari Louw se ma, beskou Sunette Viljoen as haar eie kind. Die foto is onlangs in die Krugerwild­tuin geneem. BO: Sunette en LiMari ’n paar jaar gelede by hul huis in Johannesbu­rg.
 ??  ??
 ??  ?? BO: Sunette se broerbroer, DrikusDrik­us. Hy hou vol hulle het Sunette nie verstoot nie. HEEL BO: Die Olimpiese atleet se ouers, haar pa, Daan, en ma, Sunette sr.
BO: Sunette se broerbroer, DrikusDrik­us. Hy hou vol hulle het Sunette nie verstoot nie. HEEL BO: Die Olimpiese atleet se ouers, haar pa, Daan, en ma, Sunette sr.
 ??  ?? Mariette, LiMari en Sunette in Rio de Janeiro tydens die Olimpiese Spele verlede jaar. Sunette het toe ’n silwermeda­lje gewen.
Mariette, LiMari en Sunette in Rio de Janeiro tydens die Olimpiese Spele verlede jaar. Sunette het toe ’n silwermeda­lje gewen.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa