Kapenaar tem taaiste veldwedlope
Armand is een van die wêreld se min mylers – avonturiers wat veldwedlope van 160 km of langer in moordende toestande aanpak
DIE man hardloop deur die stikdonker nag en probeer sin maak van wat aan die gebeur is. Hoe kom ek hier in die Amasone? En hoekom het ek ’ n motorfietshelm op my kop? Ek het nie eens ’n motorfiets nie . . . Dan strompel ’n sopnat hardloper met ’n wedloopnommer sy gesigsveld binne en onthou Armand du Plessis: “Ek’s nie in die Amasone nie; ek hardloop in die Grand Raid-wedloop oor die eiland Réunion. In die donker en reën het my reënbaadjiekap en koplamp dit laat voel of ek ’n valhelm dra. Ek’s nie mal nie!”
Ja, ultra-veldwedlope van 160 km, oftewel “100 milers”, kan met jou kop smokkel. Die Grand Raid heet in Frans La Diagonale des Fous: “die waansinniges se wedloop”.
Sulke drogbeelde tydens die allertaaiste uithouwedlope is nie ongewoon nie, vertel die 38-jarige Armand. Dis hoofsaaklik weens deelnemers se geweldige uitputting en slaaptekort.
En dié Kaapse IT-slimkop behoort te weet: Hy is ’n gesoute myler: een van ’n betreklik klein groep avonturiers wat liggaam en siel tot breekpunt beproef tydens sulke lang wedlope, oor bergagtige terrein en in uiterste weerstoestande.
Hoekom word hulle mylers genoem? Omdat ultra-veldwedlope van 100 km baie algemener is. Die mylers is die taaistes onder die taaistes.
Armand, oorspronklik van Pretoria, vertel sy landloopafrigter aan die Hoër- skool Waterkloof, André “Jakkals” Raath, het hom destyds geleer dit gaan nie oor wie jy is nie, maar oor wie jy kan wees. Vyf jaar gelede, met vyf Comradesmarathons voltooi, besluit hy toe hy kan ’n myler wees. Hy mik nou na sy 10de 100-myler, “maar ek is nie seker hoeveel 100 km-wedlope ek al gedoen het nie”.
Sy hoogtepunte? Verlede jaar was hy eerste in sy ouderdomskategorie (30-39) en derde algeheel in die Ultra Fiordwedloop in die Chileense Patagonië. Die uitmergelende 160 km is in ysige stormweer en talle fjords (skeurvalleie gevorm deur gletsers) afgelê. Hy is die eerste Suid-Afrikaner wat dit voltooi het.
En die Ultra Trail Mont Blanc: 170 km ver met 10 000 m se klim deur die Alpe in Frankryk, Switserland en Italië. Die laaste 10 km het hy saam met ’n ander Suid-Afrikaanse myler, Alana Doyle, gehardloop en saam is hulle met die SuidAfrikaanse vlag oor die eindstreep.
Hy het ook al ultra-veldwedlope in Andorra, Mauritius, Australië, Marokko en Amerika voltooi. Maar die Chileense Ultra Fiord en Tor des Géants in Italië is die monsters om te oorwin.
ULTRA FIORD
“Jy vlieg tot aan die einde van die aarde om oor ’n gletser te gaan hardloop,” sê Armand en grinnik.
’n Mens steek ysige riviere en sneeuvelde oor en beur kilometers ver deur die modder. As jy in die hardloop insluimer, kan jy in skeure aftuimel. Soveel dinge kan skeefloop en jy is net op jouself aangewese, en dis juis die aantrekkingskrag daarvan.
Weer wat in ’n oogwink drasties versleg, is ’n groot risiko in wedlope soos die Fiord. “In verlede jaar se resies het ons ’n verskriklike storm gehad toe ons die gletser oorsteek. Jy sien letterlik die water in jou fles vries en jou horlosie wil nie meer lekker werk nie. Jy kan natuurlik ook verdwaal. Daar’s roetemerkers, maar soms is dit ver uit mekaar.
“En wanneer jy slaperig raak, is die versoeking groot om ’n bietjie te gaan sit. Hipotermie kan vinnig intree, en dit kan ure duur voor iemand verbykom. Dus moet jy net probeer skerp bly en aanhou eet. Kry net kilojoules in, al voel jy naar; kom net eers oor die gletser.”
Toerusting soos handskoene en cram-
pons (metaaltandjies aan jou skoensole vir ys) is noodsaaklik. “As jou vingers ophou werk, raak alles moeilik, soos om jou hidrasiepak (vir drinkwater) en rugsak oop te kry en jou koplamp en batterye te hanteer. Jy moet so droog moontlik bly. Nat raak in ysige weer is baie gevaarlik.”
Tydens verlede jaar se Ultra Fiord was drie deelnemers ná die spertyd vermis. Twee vroue is met ’n helikopter van die gletser opgepik, vertel Armand, wat die wedloop in 20 uur en 40 minute voltooi het. Die Mexikaan Arturo Martinez het verkluim. “Die laaste deelnemer wat hom lewend gesien het, vertel hy het hom sonder sy mus sien sit.”
TOR DES GÉANTS
“Die nimmereindigende op en af deur die Alpe” is een van die grootste uitdagings van die “Toer van die Reuse”, vertel Armand. Hy was verlede jaar die enigste hardloper uit Afrika wat dit voltooi het. Dit strek oor 338 km deur die noordwestelike uithoek van Italië net duskant sy grense met Switserland en Frankryk, en jy klim meer as 24 000 m.
“Die moeilikste was om wakker en gefokus te bly,” vertel hy. “As jy gly en val, kan dit doodsake wees. Oor die hele afstand het ek omtrent twee uur beplande en twee uur onbeplande slaap ingekry.”
Plek-plek is “lewenstasies”, maar deelnemers slaap dikwels net waar hulle op die grond langs die roete neersak.
Hy het die wedloop met sy afsnypunt van 150 uur in net 110 uur voltooi.
Oor 160 en 300 km verduur jou voete groot straf. Vaseline of teenskaafroom aan jou voete, kleefpleister en koperverweefde sokkies (teen nattigheid) help net tot op ’n punt. “Jou voete swel so dat dit beter is om jou skoene ietwat te groot te koop,” vertel Armand.
ULTRA-veldwedlope en veldwedlope kom nou op dreef in Suid-Afrika, sê Armand. “Die eerste Ultra Trail Cape Town (UTCT) drie jaar gelede het ons op die wêreldkaart geplaas.” Die UTCT, met sy vlagskip-uitdaging van 100 km, is een van die wedlope op die Ultra Trail-wêreldtoer.
Daar is sprake dat die Ultra Trail Drakensberg, tans 100 km, aanstaande jaar ook vir ’n 160 km-roete voorsiening sal maak. Die 100 km-roete van die UTCT strek van Vlaeberg en Leeukop oor onder meer Tafelberg, Karbonkelberg, Houtbaai, Constantia, deur die Nuwelandbos en oor Duiwelspiek.
Die lekker ding van veldwedlope, meen Armand, is dat enigiemand dit kan aandurf. Jy het nie hope geld nodig nie en kan met die kortste afstande begin.
Vir hom is dit ’n stokperdjie. Hy doen dit vir “die ongelooflike ongerepte, afgesonderde landskappe wat jy sien. Die hele ervaring, die kameraderie met ander in die natuur, is goed vir die gees.”
‘Die moeilikste was om wakker en gefokus te bly. As jy gly en val, kan dit doodsake wees’