‘EK’T MET MY BESTE VRIEND GETROU’ – MANDY HUDSON
HY IS daaraan gewoond dat duisende pare oë in die skare elke beweging van hom op die krieketveld dophou. Dalk is dit dié dat die Proteas se ervare naatbouler Vernon Philander op ’n snikhete somermiddag komkommerkoel lyk waar hy in sy blou troupak op sy bruid wag.
Agterna sou hy erken hy het nie juis naels gekou voor die plegtigheid nie. Om eindelik ewige trou te beloof aan die vrou van sy drome is vir hom ’n blote formali- teit, verduidelik die 32-jarige bruidegom. “Want die liefde was altyd daar . . .”
Toe hulle mekaar 12 jaar gelede ontmoet, het Mandy Hudson (nou 33) hom so uitgeboul dat Vernon dadelik geweet het sy gaan eendag sy trouvrou word.
En vandag hier op die prentjiemooi wynlandgoed Brenaissance by Stellenbosch het daardie dag eindelik aangebreek.
“Best day ever,” staan die woorde in goud op die papierwaaiers gedruk waarmee die sowat 120 gaste hulself koel waai terwyl hulle op wit houtbanke in die kapel op die bruid se aankoms wag. Onder hulle is Vernon se Proteaspanmaat JP Duminy en Justin Ontong, deesdae veldwerkafrigter van die Proteas. Justin het voorheen nes Vernon en JP vir die Cape Cobras gespeel.
’n Oud-Proteaspanlid, Stiaan van Zyl, is strooijonker saam met Brandon Philander ( 28), een van Vernon se drie broers.
In marsalarooi rokke uitgevat, stap Mandy se twee strooimeisies, haar vriendinne Angela Blumeris en Delray Zeeman, eerste die kapel binne. Dan verskyn die bruid in ’ n laerugskepping in die meerminstyl van die Kaapse ontwerper Robyn Roberts. Die bostuk van die nousluitende rok is van kant, en onder klok dit in sagte tulle uit.
Aan haar pa, Nigel, se arm stap Mandy haar bruidegom tegemoet oor ’ n wit tapyt waaroor wit en pienk roosblare ge-
Hstrooi is, terwyl Johnnyswim se liedjie Touching Heaven speel. Nadat past. Grant Banwell van die Joshua Generationkerk die plegtigheid met gebed geopen het, sing die gaste twee gesange wat die bruidspaar self gekies het, Power of Love en Hosanna.
Die huwelik is soos ’n kombinasieslot, sê Grant in sy boodskap. “As jy die nommers ken, sal jy die slot kan oopmaak. As jy nie die kombinasie ken nie, sal dit tot frustrasie in die huwelik lei.”
Die paartjie glimlag vir mekaar terwyl hulle hul troubeloftes aflê en soen mekaar innig toe Grant hulle tot man en vrou verklaar. Eensklaps het Vernon ’n kitsgesin, want Mandy het ’n seun, Kenzo (7), uit ’n vorige verhouding.
Terwyl die gaste ná die plegtigheid buite die kapel saamdrom, zoem ’n hommeltuig oor hul kop om die toneel te kiek toe die bruidspaar uitgestap kom en die gaste roosblare op hulle laat neerreën.
Mandy hou haar ruiker van rose, tulpe en dahlias styf vas terwyl ons in die koelte van ’n boom lafenis soek teen die versengende hitte van 31 °C. Stralend sê die bruid aan Huisgenoot: “Ek het vandag met my beste vriend getrou.” Y HET dadelik geweet Mandy is “die een” toe hul paaie die eerste keer in 2006 kruis by ’n vriend se huis waar hulle albei gekuier het, vertel Vernon. Maar kort
daarna het sy krieketloopbaan vlam gevat.
“Die lewe het ons eers in ander rigtings gestuur, maar ek het geweet ons gaan weer op mekaar se pad kom,” sê Vernon, ’n boorling van Ravensmead op die Kaapse Vlakte.
“Ons was steeds goeie vriende deur die jare,” vertel Mandy op haar beurt.
Drie en ’n half jaar gelede het dié vriendskap in ’n romanse ontluik. Hul eerste afspraak was in die Kaapstadse Waterfront.
“Dit was vir koffie en daarna aandete in Vernon se geliefkoosde restaurant, Bukhara,” onthou Mandy.
“Ek het gedink hy is snaaks en sjarmant; hy het my altyd laat glimlag. Dit het my tot hom aangetrek.”
Dan vertel sy hoe hy haar onkant gevang het toe hy haar in September 2016 in haar woonstel in Kaapstad die jawoord vra.
“Hy het die ring in ’n oogroomhouer gesit; ek het gedink dit is ’n produk wat hy vir my wou gee. Toe ek weer sien, sak hy op sy knie neer en vra my om te trou.
“Ek was moeg en het soos die dood gelyk,” spot sy. Maar dit het haar nie gekeer om dadelik ja te sê nie. Weens Vernon se druk krieketprogram moes die troue eers wag. “Ons was twee jaar lank verloof, want hy was baie met kriekettoere van die huis af weg,” vertel Mandy.
Sy en Kenzo het tot voor hul troue by haar pa in Wynberg in die suidelike voorstede van Kaapstad gewoon, maar nou gaan hulle by Vernon se huis in Kuilsrivier intrek. Mandy behartig die administratiewe werk vir die Vernon Philanderstigting, waarmee hy opheffingswerk onder die jeug doen.
Terwyl die paartjie vir hul troufoto’s poseer, neem die gaste hul sitplekke in die onthaalsaal in. Daar, onder glimmende kandelare, staan lang tafels keurig gedek met pienk tafeldoeke waarop blommerangskikkings met wit, pienk en dieprooi rose pryk.
“Die paartjie wou die saal eenvoudig hê, maar ek wou hê dit moet soos ’n troue lyk,” sê die troukoördineerder, Annegret Fabricius. “Die dekor is baie sag en romanties, maar nie oordadig nie.”
Op maat van Robin Thicke, Pharrell Williams en T.I. se liedjie Blurred Lines kom die bruidspaar die onthaalsaal binne. Toe Stiaan ’n heildronk op hulle instel, beskryf hy Vernon as “’n man van gehalte en ’n hardwerkende mens wat ’n goeie man vir Mandy gaan wees”.
As voorgereg is daar ’n reeks canapés met “Asiatiese, Thaise en plaaslike invloede”, volgens die spyskaart. Hierna sit die sjefs André Schoeman en Herman Hanekom die hoofgereg voor: ’n lamskenkel- en- sampioenpotpastei met geglasuurde babawortels, gebraaide knoffel, roosmarynkapokaartappels en ’n jus met fyn kruie.
Vir nagereg is daar ’n verskeidenheid tertjies, crème brûlée, malvapoeding en gesoute karamelsjokoladebrownies.
Die gaste lê ook aan die drielaagtroukoek weg. Die bakker, Cindy Solomon van Constantia, Kaapstad, het die geure vir elke laag gekies: suurlemoen en bloubessie bo, sjokolade in die middel en onder vier dun lagies vanielje en botterkaramel op mekaar gestapel. Al drie lae van die troukoek is met roomkaas- versiersel bedek en met rose, tulpe en dahlias versier.
“Sy was ’n droom om voor te bak. Glad nie ’n bridezilla nie,” sê Cindy laggend oor Mandy, ’n goeie vriendin van haar.
In sy toespraak verwelkom Nigel sy nuwe skoonseun in die familie. “Dit is ’n nuwe hoofstuk in jul lewe. Hanteer mekaar altyd met liefde en deernis,” gee hy raad.
Vernon se oupa Mitchell Philander vertel in sy toespraak hy het Vernon grootgemaak en hoop die paartjie sal hul huwelik met God as hul fondament bou.
Daarna open die bruidspaar die dansbaan op Stevie Wonder se Ribbon in the Sky.
Nes hul troue eers moes wag, sal hul wittebrood ook moet wag tot Vernon weer van die krieketveld kan wegbreek.
“Vernon gaan nou tot begin April teen die toerende Australië speel. Daarna gaan ons met ’n eilandvakansie,” vertel Mandy.
“Ek sien uit na ons toekoms saam,” sê Vernon. “Die pad vorentoe lyk opwindend en ons gaan natuurlik kinders hê. Ons moet net nog besluit hoeveel.”
Die opwinding is hoorbaar in Vernon se stem toe hy met die groetslag vir Huisgenoot sê: “En hier is ons nou, mnr. en mev. Philander.”