Huisgenoot

WORSTEL OOR AFFAIR SE SKIELIKE EINDE

-

Ek het as getroude vrou 12 jaar lank ’n intieme verhouding met ’n getroude man gehad. Ons het saam as paartjie vakansie gehou. Hy het my die maan en sterre beloof. Hy het my altyd met respek behandel en selfs elke dag ’n selfoonboo­dskap gestuur.

Toe sterf sy vrou en twee jaar later my man. Skielik ontmoet hy toe ’n ander vrou en is hulle binne vyf maande getroud. Hy het nooit weer van hom laat hoor nie. Ek mis sy vriendskap en intimiteit baie.

Het ek 12 jaar lank ’n leuen geleef? AM op KL Dis reg dat jy antwoorde soek, want as ons verstaan wat met ons gebeur, kan die genesing dikwels begin. Daar kan vele redes wees waarom hy alles so skielik beëindig het.

Skuldgevoe­lens is een van die mensdom se sterkste dryfvere. Ná sy vrou se afsterwe het die tydsduur en details van jul affair hom dalk so skuldig laat voel, hy kon nie ’n pad saam met jou sien nie. Kontak met jou herinner hom dalk aan sy optrede waarvan hy wil vergeet.

In die twee jaar toe jy nog getroud en hy ’n alleenlope­r was, het dinge moontlik gebeur (soos ontmoeting­s met enkellopen­de verhouding­smaats) wat hom oortuig het hy moet die verlede agterlaat en wegkom van ’n vals lewe.

Soms is die geheimhoud­ing van ’n verbode verhouding juis die vlam wat die gevoelens warm hou. Ná albei jul huweliksma­ats se dood is die vuur dalk aan sy kant geblus.

’n Nuwe fase het ook nou in jou lewe aangebreek. Deur hom en jouself te vergewe en te aanvaar jul verhouding is verby, kan jy aanpas en die verlede agterlaat. Maak vir eers net vriende en verwerk jou eie rou sodat jy ook afsluiting oor jou man se dood en jou lewe saam met hom kan kry.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa