Huisgenoot

DATADIEWE SE VUIL HANDE IN KIESSTRYD

Facebook is onder toenemende druk ná die nuus dat ’n verdagte maatskappy onder meer inligting van gebruikers ingewin het om hulle te manipuleer om vir Trump te stem

- Saamgestel deur JANE VORSTER

HULLE klink na ’n klompie skadelose rekenaarbl­eeksiele. Op hul webtuiste verkondig hulle trots “data is die dryfveer vir alles wat ons doen”. Dit klink nogal vervelig; dalk dié dat die bleeksiele by ’n Britse konsultasi­efirma, Cambridge Analytica, jare lank ongesiens en ongestoord met hul konkelwerk kon voortgaan.

Terwyl hulle onder die radar gevlieg het, het hulle op miljoene Facebookge­bruikers gespioenee­r. Die inligting wat hulle ingewin het, het hulle gebruik om advertensi­es en nuusberigt­e – baie daarvan vals – so te formuleer dat dit die ontvangers daarvan sou beïnvloed om op ’n bepaalde manier in ’n verkiesing te stem.

Hul onwettige bedrywighe­de het vermoedeli­k die uitkoms van twee belangrike verkiesing­s, albei in 2016, beïnvloed: die Britse referendum oor Brexit (Brittanje se besluit om uit die Europese Unie te tree), en die Amerikaans­e presidents­verkiesing waarin Donald Trump teen alle verwagting in geseëvier het.

Die strik waarin niksvermoe­dende Facebook-gebruikers getrap het, was ’n skynbaar onskuldige aanlyn persoonlik­heidstoets. Hulle kon dit gratis voltooi, maar dit het daartoe gelei dat Analytica se IT-ghoeroes toegang tot hul Face- book-rekeninge en dié van hul vriende gekry het, altesaam sowat 50 miljoen rekeninge.

“Ons het Facebook uitgebuit om miljoene mense se profiele te ‘oes’,” het ’n oudwerknem­er van Analytica, Christophe­r Wylie, nou onthul. Die inligting wat die kuberspioe­ne ingesamel het, het hulle op die “innerlike demone” gemik van die ontvangers van hul boodskappe, bieg hy

ie hele debakel het Facebook se aandeelpry­s laat tuimel: Dit het R590 biljoen se markwaarde verloor. Intussen wend ontstoke Facebook-gebruikers hulle tot Twitter om gal te braak onder die hutsfrase #DeleteFace­book.

Miljoene Amerikaans­e kiesers tot wie se Facebook-profiel Cambridge Analytica toegang gekry het, kom nou voor ’n ongemaklik­e vraag te staan: Het hulle uit eie, vrye keuse vir Trump gestem of is hulle gemanipule­er – byna soos marionette in die hande van ’n onsigbare poppemeest­er wat hul toutjies van agter die skerms getrek het?

WAT IS CAMBRIDGE ANALYTICA?

Dié privaat konsultasi­efirma bied navorsings­dienste aan korporatie­we en politieke kliënte. Op hul webtuiste maak hulle daarop aanspraak dat hulle al in meer as 100 verkiesing­sveldtogte op vyf vastelande gehelp het deur data te gebruik “om die gehoor se gedrag te verander”. Maar Christophe­r bestempel hul bedrywighe­de as niks anders nie as “sielkundig­e oorlogvoer­ing”.

HOE SMOKKEL HULLE MET KIESERS SE KOP?

Analytica het die data wat hulle van Facebook-gebruikers ingewin het aanvanklik in die Amerikaans­e voorverkie­sing gebruik. om Ted Cruz se veldtog te Dsteun om die Republikei­nse Party se kandidaat in die wedloop na die Withuis te word. Maar toe die senator van Texas uit die bus val, het hulle hul gewig agter die Trump-veldtog ingegooi.

Alexander Nix, hul uitvoerend­e hoof wat intussen geskors is, het in ’n Britse parlementê­re ondersoek plegtig verklaar die maatskappy het geen toegang tot Facebook-data gehad nie. Christophe­r sê dis ’n leuen.

“Ons het geweet vir watter soort boodskappe ’n mens ontvanklik is en waar jy hulle sou ontvang. Ook hoeveel keer ons jou daaraan moes blootstel om jou denkwyse oor iets te verander. Dit is uit en uit ’n propaganda­masjien.”

Analytica het amptelik hul rol in die Amerikaans­e verkiesing­s as onbelangri­k afgemaak, maar Alexander en sy kollegas het ’n ander deuntjie gesing in onderhoude met die Britse televisien­etwerk Channel 4. Die verslaggew­ers het hulle

voorgedoen as skatryk sakelui wat verkiesing­s in Sri Lanka wou beïnvloed om Analytica se manne aan die praat te kry.

Voor die TV-kameras spog hulle toe dat hulle met hul digitale pogings Trump se oorwinning beklink het. Alexander het verduideli­k hulle het valse aktivisteg­roepe geskep om boodskappe op Facebook te plaas wat op spesifieke gebruikers gemik was.

Hy het ook toegegee talle van hierdie boodskappe was leuens waarmee hulle mense wou oortuig om nie vir die Demokratie­se Party se kandidaat, Hillary Clinton, te stem nie.

“Dit klink vreeslik, maar sulke (boodskappe) hoef nie noodwendig waar te wees nie; solank dit net geglo word,” het Alexander gesê in ’n onderhoud wat in Maart uitgesaai is.

Hy het bygevoeg Analytica is bereid om geraamtes in ’n politieke teenstande­r se kas te soek of foonsnolle uit Oekraïne as lokaas te gebruik om ’n politikus in ’n seksskanda­al te laat beland.

FACEBOOK SE REAKSIE

Die sosiale netwerk wou eers nie kommentaar lewer nie, maar toe ál meer verdoemend­e getuienis opduik, het die stigter Mark Zuckerberg sy stilswye verbreek. “Dit was ’n reuse-vertrouens­breuk en ek is baie jammer dit het gebeur,” het hy in ’n onderhoud met CNN gesê.

Facebook het sedert 2014 die hoeveelhei­d data beperk wat aan derde partye beskikbaar gestel word, het Mark probeer wal gooi. Hy het beloof die maatskappy sal ondersoek instel na apps wat toegang tot “groot hoeveelhed­e inligting” gehad het voor Facebook in 2014 sy nuwe maatreëls ingestel het. Hy het ook onderneem hulle sal gebruikers inlig wie se data “misbruik” is – ook dié wat Analytica in hul visier gekry het.

Maar vir talle is dit mosterd ná die maal. Mark is nou voor die Amerikaans­e kongres gedaag, waar hy in ’n verhoor nog kwelvrae sal moet beantwoord. BRONNE: GUARDIAN.CO.UK, TELEGRAPH.CO.UK, CNBC.COM

 ??  ??
 ??  ?? LINKS: Die Facebook-stigter Mark Zuckerberg het ná ’n lang stilswye gesê hy is jammer dat dié sosiale netwerk se data misbruik is. BO: Van dié data is glo gebruik om pres. Donald Trump te help wen.
LINKS: Die Facebook-stigter Mark Zuckerberg het ná ’n lang stilswye gesê hy is jammer dat dié sosiale netwerk se data misbruik is. BO: Van dié data is glo gebruik om pres. Donald Trump te help wen.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa