Vroeggebore wonder bring vreugde
Ná vyf miskrame en twee doodgeboortes was die Van Zyls verheug toe klein Anja gebore word, al was dit op net 24 weke
SY WAS sewe keer swanger; twee keer sou sy binne enkele weke ’ n dogtertjie vashou. Met een van dié swangerskappe sou dit sommer twee dogtertjies met een slag wees, want ’ n tweeling was immers op pad. Maar vyf keer het Marissa van Zyl se droom om ma te word in ’n vroeë miskraam geëindig.
En twee keer is haar dogtertjies doodgebore: haar eersteling op 23 weke, en die tweeling, byna vier jaar later, weer op 23 weke.
Vyf jaar lank het Marissa ( 33) en haar man, Coenraad (37), se hart keer op keer gevoel of dit in duisend stukke breek.
Sou hulle dan nooit ’n bababondeltjie kon huis toe neem nie?
En toe, eindelik, is hul gebede verlede jaar beantwoord met die blye tyding dat sy weer swanger is.
Toe klein Anja, hul wonderwerkbaba, op 28 Desember verlede jaar gebore word, was sy volmaak geskape. En sy het geleef.
Maar weer was dit nie maklik nie; sy is vroeggebore toe Marissa net 24 weke swanger was en het met geboorte net 580 g geweeg.
Waar pasgebore babas dikwels sowat 50 cm lank is, was Anja net 30 cm lank, die lengte van ’n liniaal.
Toe Huisgenoot die Van Zyls byna drie maande ná Anja se geboorte by die Unitas-hospitaal in Centurion ontmoet, is hul piepklein baba al 83 dae in ’n broeikas in die neonatale hoësorgeenheid van die hospitaal.
Sy het intussen gerek tot 39 cm en weeg nou 1,5 kg, minder as ’n 2 L-bottel water.
Al weet Marissa, ’n voorraadbeheerder by ’n opsporingsmaatskappy, en Coenraad, ’n nutsman, nie hoe lank hul babadogter nog in die hospitaal sal moet aansterk nie, is hulle ná hul jare lange stryd om ouers te word net verheug dat sy hier is.
Hulle is so bly oor haar koms dat hulle nie omgee om nou ’n ekstra paar maande te wag voor hulle haar kan huis toe neem nie.
Wanneer hulle elke dag van hul huis in Roseville, Pretoria, by die hospitaal vir haar kom kuier, vertel hulle vir hul dogtertjie wat tuis op haar wag.
“Ons vertel haar van haar babakamer se splinternuwe ligpienk mure, en van al die teddiebere en honde wat by die huis wag,” sê Coenraad.
“En ek vertel haar ook van al die oumas wat vir haar groete stuur,” voeg Marissa by.
Coenraad sê trots hy het reeds vir sy dogter ’n motor belowe vir wanneer sy eendag groot is.
Nou stry hy en Marissa nog net grappenderwys of haar eerste ryding ’n Volkswagen of ’n Audi gaan wees.
MARISSA rou jaarliks op die geboortedatum van elk van die drie dogtertjies wat sy verloor het. “Ek bêre hul verjaardae op my selfoon,” vertel sy hier in die hospitaal se sitkamer, vir ’n oomblik weer hartseer ondanks die kindjie wat elders in die hospitaal elke dag sterker word.
Sy en Coenraad is so vol vreugde oor hul gesonde baba dat hulle vandag
meestal stry en skerts met die gemaklike intimiteit van ou getroudes, maar wanneer hulle praat oor die jare lange stryd om ’n kind te kry, hou hulle mekaar se hande vas.
“Ons was al hoeveel keer swanger. Elke keer met ’n dogtertjie. Ek het drie van die dogtertjies in my arms vasgehou en het daarbenewens nog vyf miskrame gehad,” rits Marissa die feite af.
Sy erken die swaarste oomblik was toe haar eerste dogtertjie einde 2013 doodgebore word.
Nadat sy die dag ’n natuurlike bevalling in die hospitaal gehad het, het Marissa die piepklein lewelose dogtertjie eers in haar arms vasgehou voor sy die liggaampie aan die verpleegsuster oorhandig het.
Vir haar eersgeborene het sy nooit ’n naam gegee nie.
In die jare daarna het vyf vroeë miskrame gevolg.
En toe, in Maart verlede jaar, is die egpaar se tweelingdogtertjies ook in die 23ste week van Marissa se swangerskap gebore nadat sy gehospitaliseer is.
“Hul name was Amory en Mia-Lynn,” sê Marissa, haar gesig byna strak oor die pynlike herinnering.
“Met geboorte het Amory 390 g geweeg en Mia-Lynn 475 g.
Sy is toegelaat om hulle vlugtig langs mekaar op haar borskas vas te hou, maar Mia-Lynn is net ná geboorte dood en Amory, toe al in ’n broeikas, 11 uur later.
Oor daardie hartseer dag sê Coenraad: “Ek het nie woorde om dit te beskryf nie.”
Marissa sê sy het met elke swangerskap vir haar maandelikse sonartoetse gegaan en dat geen van die dokters by wie sy was vir haar kon verduidelik hoekom haar swangerskappe in miskrame of vroeë geboortes eindig nie.
Sy sê nadat hul eerste baba doodgebore is, het sy en Coenraad mekaar verwyt. “Ons het mekaar en onsself blameer.
“Maar later het ons oor dinge begin praat en ons geloof het ook sterker geword.”
En telkens het hulle bly hoop.
TOE Marissa verlede jaar ná die tweeling se dood gou weer swanger raak, het sy en Coenraad vir die soveelste keer moed geskep.
“Deur die hele swangerskap met Anja het ek geen waarskuwingstekens of probleme gehad nie. Ons was positief,” onthou Marissa.
Maar op 26 Desember het sy skielik be- gin voel “iets is nie lekker nie” en toe kontraksies ontwikkel.
Coenraad het daardie aand met haar na Unitas gejaag en Marissa het ’n skietgebed opgestuur: “Here, dit is alles in U hande. Dit is nou jou liewe Heer.”
“Daar was nie tyd om te dink nie,” sê Coenraad. Toe voeg hy by: “Ek het net aanvaar as dit nou gebeur, gebeur dit. Ek moes ook vir my vrou sterk wees.”
In die vroeë oggendure van 28 Desember, om ses minute oor vier, het Anja haar opwagting gemaak deur ’n natuurlike geboorte in die hospitaal.
“Ons het nie op daardie oomblik tyd gehad vir ‘oe en aa’ nie. Ek was meer verlig as enigiets anders,” vertel Marissa.
Die verpleegpersoneel het Anja onmiddellik in ’n broeikas geplaas.
Hier waar sy nou aan haar dogter se geboorte terugdink, is Marissa opnuut so verlig, sy giggel sommer oor haar grappie: “’n Mens het net arms en bene sien swaai toe die suster Anja daar wegvat!”
Die Van Zyls besef die pad vorentoe sal nie noodwendig maklik wees nie. Anja moes reeds ’n operasie aan haar hart ondergaan. “Ons probeer om nie te dink aan alles wat kan skeefloop nie,” sê Coenraad, en Marissa knik instemmend. En droom hulle van ’n boetie of sussie vir hul klein Anja? “Nee!” antwoord Coenraad. “Ons het al te veel deurgemaak. Ek weet nie of ek dit weer deur so iets sal maak nie.” Marissa se ginekoloog, dr. Ryno Scribante, bevestig sy is sy pasiënt en dat hy betrokke was by haar swangerskap met Anja en met die tweeling. Hy sê haar vorige miskrame is aangeteken. Oor hoekom haar swangerskappe telkens in ’n miskraam of vroeë geboorte geëindig het, sê hy: “Niemand weet werklik hoekom nie.” Hy sê dit was waarskynlik weens servikale onbevoegdheid. Volgens hom is servikale onbevoegdheid wanneer die serviks tydens die swangerskap vergroot voor die 40 weke van die swangerskapstydperk voltooi is. Dit kan moontlik weens ’n afwyking wees waarmee die ma gebore is waar die serviks of baarmoeder misvorm is.