Huisgenoot

Honderde poppe haar geselskap

Lynette se huis is van hoek tot kant vol van haar honderde poppe – elk met sy eie naam – wat haar geselskap hou

- Deur JOANIE BERGH Foto’s: CORRIE HANSEN

STAP jy by die trap op van ’n siersteenb­lok woonstelle op Hartenbos, hoef jy nie te wonder in watter een die plaaslike “poppetanni­e” woon nie. ’n Mens sien Lynette Avenant se kombuisven­ster onmiddelli­k raak. Vier plastiekpo­ppies, ’n rooie, bloue, groene en gele, pryk op die vensterban­k, so reg uit die gewilde kinderprog­ram Teletubbie­s.

Wanneer ’n mens, soos vele besoekers voor jou, aan no. 302 se groot houtdeur klop, maak die koningin van die poppekonin­kryk oop. ’n Hartlike glimlag sprei om haar rooi lippe.

“Julle is hier,” sê die 66-jarige weduwee en staan opsy sodat jy haar knus tweeslaapk­amerwoonst­el kan binnestap.

Dan bevind ’n mens jou in ’n ander wêreld. Reg rondom jou, van die vloer tot teen die dak, op elke bed en op elke kas, in die stort en selfs in die bad, is poppe. Poppe van plastiek, porselein, lap, glas en rubber, in alle groottes en kleure.

Elkeen is netjies uitgevat. Tientalle teddiebere maak hulle tussen die poppe tuis.

“Dis my poppies dié. Ons gesels elke dag lekker met mekaar,” stel Lynette haar poppegesin aan jou voor. Hoeveel poppe het sy? “Ek tel nie my kinders nie; ek pas hulle net op,” sê sy en lag. Later skat sy daar moet meer as 400 wees.

Elke pop het ’n naam, maar sy het te veel om elkeen se naam te onthou. Dis dié dat sy hul naam op ’ n papiertjie geskryf en aan elkeen vasgemaak het.

Stap ’n mens by die poppe verby, voel dit asof elkeen se oë op jou rus.

Lynette lag. “As jy nou poppetaal kon verstaan, sou jy dit vreeslik geniet het,” laat sy hoor. “Terwyl jy by hulle verbystap, sê elkeen vir jou hallo.”

HIER op die Suid- Kaapse kusdorp is sy bekend as die “poppetanni­e” van Hartenbos. Mense kom van heinde en ver om na Lynette se poppewêrel­d te kyk. Op die koffietafe­l is ’n baksteen met ’n gesig van papier daarop geplak en ’n hoed op die kop.

“Daardie baksteen was my eerste pop,” sê sy en skuif versigtig die poppe op haar rusbank eenkant toe om sitplek te maak.

In haar jeugjare in Durban het hul gesin finansieel noustrop getrek. Haar pa, wat by die spoorweë gewerk het, kon nie poppe vir al vyf sy dogters bekostig nie. Hulle het ook ’n ouer broer gehad.

“Wanneer ons niggies kom kuier het, het hulle altyd hul grênd poppe vir ons gewys. Dan wou ons so graag ons eie hê,” onthou Lynette.

“Ek was seker so sewe jaar oud, toe maak ons ons eie poppe uit bakstene. Later het ons mangopitte gevat, die hare skoon gewas en gesiggies daarop gesit.”

Hul ma het wel twee poppe gehad, maar daaraan mag geen kinderhand geraak het nie.

Die dag toe Lynette met skool klaarmaak en as bloemis begin werk, het sy self haar eerste “regte” pop gekoop.

Haar oorlede ma se twee poppe, Sheila en Martinette, is ook nou deel van haar versamelin­g. Dié twee rubberpopp­e wat uit 1948 dateer, kry spesiale behandelin­g. Hulle is die enigste poppe wat sy elke dag buite op die balkon sit sodat hulle vars lug en sonlig kry.

So geheg was haar ma aan Sheila dat dié pop saam met haar hospitaal toe is toe sy as bejaarde ernstig siek word. Hoe oud haar ma toe was, kan Lynette nie onthou nie.

“Op haar sterfbed in die hospitaal in Oos-Londen het sy Sheila vasgehou en my laat belowe ek sal altyd na haar kyk en dat sy nooit mag koud kry nie.

“Ek het mammie belowe, en toe haar oë toegaan, het ek Sheila by haar gevat. Nou kyk ek ekstra mooi na haar en maak seker sy kry nie koud nie.”

Lynette wys na Sheila wat oorkant die

vertrek in ’n waentjie saam met ander poppe sit. Sy is in ’n dik, oorgroot wit-enligblou japon toegewikke­l, het ’n blou kappie op haar kop en ’n kombersie oor haar skoot.

“Al my sussies dink natuurlik ek is koekoes en nie reg hier bo nie,” sê Lynette van haar vier susters en tik met haar vinger teen haar wit kop.

Teen die muur bo haar hang ou geraamde foto’s van haar 44-jarige seun, Kobus van Wyk, en sy vrou, Heidi, wat ook op Hartenbos woon. Hy is Lynette se enigste kind. Sy het geen kleinkinde­rs nie.

Kobus, wat uit die eerste van haar drie huwelike gebore is, is eintlik ’n wonderkind, sê Lynette en vertel van die drie miskrame wat sy gehad het.

Op ’n ander foto is ’n vrolike gryskopman wat ’n glasie klink saam met ’n veel jonger Lynette.

“Ai, dit was Dennis,” sê die poppevrou, nou ooglopend hartseer oor haar derde man.

“Hy is agt jaar gelede op Bethal oorlede, waar ons toe gebly het. Hy is aan sy hart dood.”

Lynette was twee keer getroud en geskei toe sy Dennis ontmoet.

“Kyk, al die mans het my poppe aanvaar. Die eerste een het nie veel van my poppies gehou nie, maar hy het vir my nog gekoop. Die tweede een het die meeste poppe vir my gekoop. Omdat Dennis self nie kinders gehad het nie, het hy met my poppe saamgeleef. Hy het elke aand vir hulle good night gesê, net om my te please.”

Ná Dennis se dood het sy nog nooit weer in hul dubbelbed geslaap nie.

“Dennis was ’n groot, fris man. Die bed is te leeg sonder hom. Snags sê ek vir elkeen van my dollies nag en kom lê hier op die sitkamerba­nk voor die televisie tot ek aan die slaap raak.

“Dit is darem nie so alleen hier nie.”

In albei slaapkamer­s sit die “dollies” ’n dubbelbed so vol dat daar geen lêplek vir ’n mens is nie.

“Nee, ek slaap nie saam met my poppe nie,” sê Lynette. “Netnou rol ek oor hulle en kry hulle seer.”

DIE herfs is ’n tyd van groot opwinding in haar tuiste vol poppe.

“Elke somer en winter trek ek vir elke pop ander klere aan. Dit word nou winter; elkeen moet warmer aangetrek word.” Die popliefheb­ber gaan haal ’n groot bruin tas vol babaklere uit een van die slaapkamer­s.

“Die klere gaan koop ek sommer by Pep, of mense gee vir my hul kinders se ou babaklere,” vertel sy.

Bedags wanneer Lynette nie met haar poppe gesels of die stof met ’n lap van hul gesiggies afvee nie, is sy die opsigter van die woonstelbl­ok waar sy woon.

Wat gaan van haar poppekinde­rs word as sy die dag nie meer daar is nie?

Soos ’ n sorgsame ma het sy reeds planne daarvoor gemaak. ’ n Goeie vriendin en haar man wat ook op Hartenbos woon, het ingestem om na al haar poppe te kyk. “En hulle sal mooi na Sheila kyk,” verseker Lynette.

Dan gaan sit die withaarpop­pevrou met die bloedrooi lippe op die bank waar sy elke aand tussen haar dollies aan die slaap raak.

Sy vee liggies oor haar wit broek en kyk na die gryskopman op die foto wat altyd so lekker saam met haar gelag het en sê: “Die mens se lewe kom maar tot ’n einde. Ek dink net ’n mens is nooit alleen as jy iets soos my poppe het nie.

“Ja, talle mense raak mal as hulle alleen is. Maar as jy jouself so kan besig hou, is jy nooit werklik alleen nie.”

 ??  ?? HOOFFOTO: Lynette Avenant, Hartenbos se “poppetanni­e”, by van haar honderde poppe. LINKS ONDER: By Sheila, wat haar oorlede ma se pop was.
HOOFFOTO: Lynette Avenant, Hartenbos se “poppetanni­e”, by van haar honderde poppe. LINKS ONDER: By Sheila, wat haar oorlede ma se pop was.
 ??  ??
 ??  ?? LINKS: Lynette se hele slaapkamer is vol teddiebere en poppe. NAASLINKS: As jong kind het sy poppe uit bakstene en later uit mangopitte gemaak.
LINKS: Lynette se hele slaapkamer is vol teddiebere en poppe. NAASLINKS: As jong kind het sy poppe uit bakstene en later uit mangopitte gemaak.
 ??  ??
 ??  ?? LINKS: Elke vertrek in Lynette se woonstel is vol poppe gepak. Sy glo ’n mens moet nooit poppe in ’n boks bêre nie.
LINKS: Elke vertrek in Lynette se woonstel is vol poppe gepak. Sy glo ’n mens moet nooit poppe in ’n boks bêre nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa