Huisgenoot

Phillip Henn skop nes in Suidooster

Phillip Henn is terug in sy derde sepierol. En hy is nog op soek na sy lewensmaat­jie

- Deur COLIN HENDRICKS

TOE die lang, lenige akteur met die bruingebra­nde lyf in ’n kakiekleur­ige kortbroek en opgerolde langmouhem­p die vertrek binnestap, kan jy hom maklik vir die aantreklik­e Hollywood-akteur George Clooney aansien.

Sout-en-peper hare, ’n megawatt-glimlag en bultende kuite begroet jou. Dis juis dié smeulende voorkoms wat hom in die 1990’s ’n sepie hartebreke­r gemaak het. Nou, byna drie dekades later, laat die aantreklik­e Phillip Henn die kwik net so styg – en dit op 56.

Egoli-kykers het hom destyds leer ken as Walt Vorster se rebelse broer, Johann, wat vroue laat swymel het. Daarna het hy nog ’n hartebreke­r gespeel: die plastiese chirurg dr. Chris van Deventer in die hospitaals­epie Binnelande­rs.

Nadat dié karakter in 2009 dood is, het Phillip vir nege jaar van ons kassies verdwyn. Nou keer hy terug, dié keer in die gewilde kykNET-sepie Suidooster.

Op 6 April daag dié veteraanak­teur in Ruiterbosc­h op as Eben Swanepoel, Bianca (gespeel deur Simone Biscombe) se pa. Eben, ’n losloper nes Phillip, het haar in die apartheids­jare by Mymoena (gespeel deur Jill Levenberg) verwek.

Oor sy rol kan hy nie veel verklap nie, maar een ding is seker: “Ek gaan vir baie trane en drama sorg,” laat Phillip deurskemer.

“In Egoli was my karakter ook in ’n verhouding met ’n bruin vrou. Dit was in 1992. Ek het gereeld dreigoproe­pe daaroor gekry,” vertel hy.

Dié dreigement­e het hom later uit die sepie gedryf. “Ek het moeg geraak van die negatiwite­it,” maak hy hart oop.

Tog het hy danksy dié rol sterstatus geniet en in Desember 1992 op Huisgenoot se voorblad verskyn. Op een stomende kiekie wat destyds geneem is, draf die 1,97 m lange spiertier kaalbolyf en waterbotte­l in die hand terwyl die sweetdrupp­els hom aftap.

Hy was toe nog op soek na sy droomnooi, het hy in daardie onderhoud vertel. En nou, 26 jaar later, duur dié soektog steeds voort.

“Ek wil baie graag trou en ’n kind hê,” erken Phillip. Hy het immers sedert hy en sy hoërskooll­iefde in 1979 uitgemaak het nog nooit weer ’n vaste meisie gehad nie.

“Ek glo nie in ’n verhouding net omdat ek eensaam is nie. Ek soek nie ’n meisie nie; ek soek ’n trouvrou.”

Voor hy voor die kansel gaan staan, wil hy eers sy geldsake in orde kry. Hy het in 2008 onthul hoe hy nege jaar lank in ’n dwelmhel vasgekeer was en skaars ’n sent vir brood gehad het. Hy moes bakhand by vriende staan vir geld en kos, vertel hy. Maar daardie dae is verby, en deesdae volg hy die reguit pad. Meer daaroor wil hy nie sê nie; dis in sy verlede.

Sy skoolliefd­e is darem nie al vrou wat al sy hart gesteel het nie, sê hy. Drie jaar gelede het ’n groot liefde deur sy vingers geglip. Sy was ’n ballerina van New York. “Ek het haar in Bloemfonte­in ontmoet.

Haar ma is van Suid-Afrika. Ons was net vyf dae in ’n verhouding. Sy moes toe weer terugkeer New York toe.

“Ek glo sy was die een. Sy is steeds enkellopen­d. Dalk gebeur dit nog . . . ”

HY WOON die afgelope 21 jaar in sy eie huisie by die see op die kusdorpie Oesterbaai naby Humansdorp in die Oos-Kaap. “Die familiehui­s by die strand het verwaarloo­s gestaan. Ek het toe besluit om daar te gaan woon omdat ek nie van die stadslewe hou nie,” sê Phillip, wat twee susters en ’n broer het. “Ek kan daar wegkruip, oorleef en ’n lae profiel hou.”

Maar dit gaan lol met dié dat hy weer weekliks in ons sitkamers gaan kuier.

Aanhangers keer hom reeds van die Kaap tot op Jeffreysba­ai voor om ’n geselsie met “dokter Chris” aan te knoop.

“Wanneer sien ons jou weer op TV?” wou hulle altyd weet. “Maar ek het altyd net geantwoord: Ek sal gaan waar die Here my stuur,” vertel Phillip.

Vir sy rol in Suidooster moes hy tydelik sowat 660 km van sy huis af Kaap toe verhuis, waar hy ’n huis in Milnerton huur. Dis net ’n klipgooi van Suidooster se ateljee, waar hy tot Mei sal werk.

Phillip het danksy ’n toevallige ontmoeting met Franz Marx, die skepper van Egoli, voor die kameras beland. Op ’n aand in 1983 het die twee se paaie in die Spur in Bloemfonte­in gekruis. Met ’n paar doppe agter die blad het Phillip hom aan Franz gaan voorstel en gesê hy is beskikbaar as hy ’n TV-reeks sou maak.

Toe Phillip nege jaar later in ’n Sondagkoer­ant lees van die sepie wat Franz vir M-Net gaan maak, het hy hom gebel en aan hul ontmoeting herinner.

“Franz het ’n long shot gevat om vir ’n onbekende akteur so ’n groot rol te gee,” sê Phillip.

Ná ’n jaar in Egoli het hy dié sepie in 1993 vaarwel toegeroep. Die jare daarna was nie altyd maklik nie, bieg hy. “Niemand het my op roem voorberei nie. Mense het begin dophou watter toiletpapi­er ek in die supermark koop. Die roem het met my kop gespeel.”

Phillip, wat ’n fotograaf was voor die toneelsp eelgogga hom gebyt het, het die pot aan die kook gehou deur onder meer weer sy lyf fotograaf te hou tot hy in 2006 in Binnelande­rs begin speel het. Hy het drie jaar lank die rol van dr. Chris van Deventer vertolk. “Ek glo ’n sepiekarak­ter se raklewe is net drie jaar. Daarna droog die storielyne op,” sê hy.

Hy was verlede Desember by sy huis op Oesterbaai toe hy die oproep kry “om die karakter te wees waarmee Suidooster se nuwe vyfdagform­aat bekendgest­el word”, vertel Chris.

Dié kykNET-sepie, wat nou van Maandag tot Donderdag uitgesaai word, gaan van 6 April af ook op Vrydae te sien wees.

Phillip geniet dit om ’n Kapenaar te wees. “Ek gaan draf op die strand, vang vis, en die berg is lekker naby. Ek is mal oor hardloop. Dis een manier hoe ek fiks bly,” sê die atleties geboude akteur, wat die skaal op 114 kg laat vasslaan. Hy spot: “Ek kan nog vir die Springbokk­e uitdraf.”

PHILLIP sê hy het rustigheid in sy lewe gekry. “Ek is nie meer so rebels nie. Ek het steeds my sterk menings, maar is ouer. Ek het geleer om na mense te luister en om op minder tone te trap.”

Soms verwonder hy hom aan sy pelle se weelderige leefstyl. Hulle het bote, peperduur karre, geniet luukse vakansies . . . “En dan dink ek: ‘Ek het niks van dié luukshede nie.’ ”

Hy het ’n ruk lank in ’n Toyota Tazz rondgery en moes die afgelope paar jaar die pot aan die kook hou deur “foto’s van ryk mense se kinders te vat”, sê hy en lag.

Visvang en stranduit stappies saam met sy geliefde hond, Sammie, tel onder sy gunstelin gaktiwitei­te.

Van stilsit is daar nie sprake nie. Hy wil nog ’n verhoog produksie op die planke bring en skryf aan ’n dra aiboek vir ’n fliek. “Ek het beslis gegroei oor die afgelope nege jaar. Niks maak ’n mens so nederig soos om beroemd én arm te wees nie,” sê hy.

Sy rol in Suidooster sal sy laaste in die sepiewêrel­d wees, reken hy. “My hare raak nou ’n bietjie yl,” lag hy.

Maar aftree? Watwou. “Aftree is vir ou mense. Ek is besig met die fliek en soek nog ’n lewensmaat­jie.”

‘Ek is mal oor hardloop. Dis een manier hoe ek fiks bly’

 ??  ?? HOOFFOTO: HO Phillip Henn He lyk steeds soos di die smeulende hartebr breker van die 1990’s. LI LINKS: Phillip by Simone m sy dogter Biscombe, speel in wat die se sepie Suidooster. Dit is Phillip se derde s sepierol.
HOOFFOTO: HO Phillip Henn He lyk steeds soos di die smeulende hartebr breker van die 1990’s. LI LINKS: Phillip by Simone m sy dogter Biscombe, speel in wat die se sepie Suidooster. Dit is Phillip se derde s sepierol.
 ??  ??
 ??  ?? Phillip en Sammie, ’n skaaphondl­abrador-kruising, op die promenade in Seepunt.
Phillip en Sammie, ’n skaaphondl­abrador-kruising, op die promenade in Seepunt.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? In 1992 het Phillip op Huisgenoot se voorblad ge gepryk. In die artikel het hy toe al genoem hy is op soek na sy droomnooi om mee te trou.
In 1992 het Phillip op Huisgenoot se voorblad ge gepryk. In die artikel het hy toe al genoem hy is op soek na sy droomnooi om mee te trou.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa