GERAAMTES VAN ’N ‘BOSE’ PA ‘Die familie voel Errol se gedrag jeens Jana moet ontbloot word’
Ná die skoknuus dat Elon Musk se pa ’n kind by sy stiefdogter verwek het, volg bewerings oor ’n selfs donkerder geheim
SY NAAM word in dieselfde asem as dié van die tegnologiereuse Bill Gates en Steve Jobs genoem. Die Suid-Afrikaans gebore biljoenêr is aan die spits van die privaat ruimtebedryf en die man agter die gevorderdste elektriese motorvoertuie. Maar onlangs was Elon Musk se naam om ’n heel ander rede in die nuus nadat berig is sy pa, Errol (72), het ’n baba verwek by sy eie stiefdogter, Jana Bezuidenhout, ’n hele vier dekades jonger as hy. Errol het self erken dit is sy baba.
Vandag kan Huisgenoot bekendmaak Errol is glo betrokke by ’n selfs donkerder familiegeheim. ’n Paar ingeligte bronne na aan die Musk-familie beaam dieselfde refrein: Errol het Jana “gebreek”.
Errol se bruin dubbelverdiepinghuis op die Weskus-dorpie Langebaan is luuks, maar tog ligjare verwyder van die eksklusiewe Kaliforniese woonbuurt Bel Air, waar Elon woon. Binne blêr ’n radio hard toe Huisgenoot aanklop.
’n Gryskopman kom te voorskyn en kyk met skrefiesoë deur die veiligheidshek na ons. Dis Errol en hy wil niks van die media weet nie, want sy seuns het volgens hom gesê hulle gaan bande met hom verbreek as hy onderhoude toestaan. “Ek het mos gesê ek wil nie ’n onderhoud doen nie,” sê hy.
In dié huis is ook ’n kamer waar Jana (30) woon wanneer sy kom kuier, vergesel van haar en Errol se seuntjie van 10 maande.
Dit was nadat die Britse koerant Dai ly Mai l op 23 Maart berig het Errol het sy stiefdogter swanger gemaak dat ’n ingeligte bron na aan die Musk-familie Huisgenoot genader het. Daarna het nog bronne na aan die familie ingestem om oor Errol te praat.
Die verhaal wat hulle vertel, is van ’n beweerde jare lange “onstabiele” verhouding tussen Errol en Jana.
Jana is die dogter van HeideMarie (53), een van die vroue met wie Errol getroud was nadat hy en Elon se ma geskei is.
Lede van die uitgebreide familie het Jana glo talle kere in die verlede uit Errol se sorg of geselskap probeer verwyder. Ons bronne doen ’n rits ontstellende onthullings, maar op regsadvies mag Huisgenoot dit nie publiseer nie. Ook amptelike dokumente steun van die bewerings wat deur ons bronne gemaak is, maar ook dit mag op regsadvies nie gepubliseer word nie.
Een van die bronne beweer: “Errol het die mooie Jana se lewe verwoes.” Die ander beaam dit.
“Die familie voel Errol se gedrag jeens Jana moet ontbloot word,” sê een bron.
Errol het teenoor Huisgenoot ontken hy het ooit onbehoorlik teenoor Jana opgetree. Jana en Heide-Marie wou nie met Huisgenoot praat nie. En kort voor ons
druktyd het Elon self nog nie gereageer op e-posse wat ons na sy maatskappye SpaceX en Tesla gestuur het nie.
ELON se geraamde fortuin bedra vandag sowat R224 biljoen. Hy het by sy uitgebreide SuidAfrikaanse familie betrokke gebly, vertel ons bron.
Hy help die Musks geldelik waar hy kan. “Hulle is so trots op hom en is juis daarom so kwaad en hartseer dat hierdie donker wolk nou oor die familie hang,” vertel ’n bron.
Elon was nog jonk toe sy ma, Maye, en Errol skei. Sy was Errol se eerste vrou, en hulle het benewens Elon ook ’n seun, Kimbal (45), en dogter, Tosca (42).
Maye woon nou al jare in Kanada, waar sy as ’n ouer model, oftewel ’n “silwer swaan”, werk.
Ná hul egskeiding is Errol met HeideMarie getroud, by wie hy later twee dogters, Alexandra (24) en Rose (18), gehad het.
Heide-Marie en Errol het mekaar ontmoet ’n paar maande nadat haar eerste man, Jacques Bezuidenhout, in ’n motorongeluk in Pretoria dood is. Haar en Jacques se drie kinders, Herman, Jana en Jacques jr., was toe onderskeidelik ses jaar, twee jaar en drie maande oud.
“Heide-Marie was kwesbaar,” vertel ’n bron. Sy was toe in haar 20’s en hy in sy 40’s. “Hulle het mekaar by die gewilde nagklub Jacqueline’s in Pretoria ontmoet. Hy het haar en haar vriendin na sy spoggerige Waterkloof-huis genooi. Hy het haar die son, maan en sterre beloof.”
Heide-Marie se familie het Errol aangenaam gevind, maar hulle was bekommerd oor die ouderdomsverskil. Hy was toe al ’n suksesvolle ingenieur en het glo aandele in ’n smaragmyn elders in Afrika gehad.
In haar kleintyd het Jana dikwels vir lang tydperke by haar tantes aan moederskant gebly.
Nou vertel ons bron dit breek die familie se hart om daardie “jong, onskuldige meisietjie vol potensiaal” te onthou.
’n Ander bron onthou haar as ’n langbeenmeisie wat ná haar verjaardagpartytjie tussen ballonne lê en slaap.
Maar van kleins af is sy stelselmatig afgetakel, beweer ons bronne.
In 2003 het Elon, toe al ’n suksesvolle ondernemer in Kalifornië, vir Errol, Heide-Marie en hul kinders, onder wie Jana, ’n huis naby syne in Bel Air, Los Angeles, gekoop “om hulle uit hul situasie in Suid-Afrika te kry”, vertel ons bron.
Maar Errol-hulle het net sowat ses maande daar gewoon voor hy glo inderhaas na Suid-Afrika teruggekeer het. Die res van die gesin het later gevolg.
OP Langebaan is talle inwoners onbewus daarvan dat die beroemde Elon Musk se pa onder hul neus woon.
Errol se buurman weet min van sy doen en late, maar is bewus daarvan dat sy seun die beroemde baas van SpaceX en Tesla is. “Dis mos sy seun wat nou die dag ’n motor in die ruimte opgestuur het. Ja, hy woon hier, maar ’n mens sien hom min.”
Huisgenoot het hier na Errol se huis op Langebaan gekom omdat hy ’n dag tevore ingestem het tot ’n onderhoud nadat die storm oor sy baba by sy stiefdogter losgebars het.
Ons lui die klokkie. Geen antwoord nie. Ons ry ’n draai, kom weer terug, lui weer. Toe Errol verskyn, benadruk hy hy wil nie met die media praat nie.
Later kry ons ’n e-pos waarin hy ontken dat hy ’n onbehoorlike verhouding met Jana gehad het.
Maar op sy Facebook-blad klets Errol en ’n jare lange vriend van Pretoria intussen oor die sogenaamde “Errolsindroom”.
“In ons 60 jaar lange vriendskap is ek in verwondering oor jou omstrede prestasies. Ek sien uit na nog jare van skandale, berugtheid en onkonvensionele gedrag,” skryf die vriend.
Errol bedank hom vir sy ondersteuning en antwoord: “Dit beteken die vroue met wie ek in die 1980’s getroud was, is die kinders se stiefma’s, en hul kinders is my stiefkinders. En die man wat met Jana se ma trou . . . is ook Jana se stiefpa.”
En Elon? Hoewel hy nie op ons navrae gereageer het nie, het hy al in 2017 aan die tydskrif Rolling Stone vertel sy pa was “’n briljante ingenieur”, maar “’n aaklige mens”.
“Hy was betrokke by omtrent elke bose ding wat jy jou kan voorstel,” het hy gesê.
In dié artikel het Errol die bewerings ontken en gesê hy het “nog nooit doelbewus enigiemand gedreig of leed aangedoen nie”.
Elon het aan Rolling Stone gesê hy kan niks doen om sy pa te verander nie.
“Ek het al alles probeer. Ek het gedreig; beloon; intellektuele en emosionele woordewisselings met hom gehad. Alles om my pa ten goede te verander. Sonder welslae; dit het net erger geword.”