VERWERKING
Nadat die vrugte geoes is, is die volgende stap in die produksieproses die verwerking daarvan tot kakao, wat die grondslag van sjokolade vorm. Eers word die vrugte vyf tot ses dae lank in die son gelaat om te gis. Die suiker in die pulp waarin die pitte is, verander in alkohol en vloeistof wat wegdreineer. Dit verbeter die bone se geur. Die bone word daarna gedroog en in sakke verpak om na die fabriek vervoer te word. In die fabriek word die kakaobone gesorteer en skoongemaak. Die masjiene breek en verwyder die bone se doppe. Dan word die bone in kleiner stukke gebreek en by ’n temperatuur van 135 ºC gerooster. Dit laat die kakaostukkies verdonker en gee dit daardie tipiese sjokoladegeur. Die gebreekte kakaobone word gemaal tot ’n dik sjokoladekleurige vloeistof wat as ’n “massa” bekendstaan. Die massa bevat meer as 50% kakaobotter en stol wanneer dit afkoel. Dit vorm die grondslag van alle sjokolade- en kakaoprodukte. Kakaopoeier word gemaak deur sowat die helfte van die kakaobotter te verwyder. Die oorblywende kakao word dan tot die fyn kakao verpoeier wat ons in warm drankies of vir kookdoeleindes gebruik. Die kakaobotter word gebruik om ’n groot verskeidenheid sjokolade van te maak. Wanneer jy weer ’n sjokoladestafie eet of warmsjokolade drink, sal jy weet waar daardie lekkerte vandaan kom.