Vriend vertel van Winnie se ruim hart
’n Byna 40 jaar lange vriend en eertydse assistent van die ontslape politieke aktivis vertel van die vreeslose vrou met die ruim hart
HY IS nie gewoond aan onderhoude met die media nie, maar sedert die dood van sy vorige werkgewer en jare lange vriendin val die kollig nou fel op hom.
Opnuut onthou hy hoe Winnie Madikizela-Mandela destyds deur al wat ’n internasionale mediareus is, genader is vir onderhoude.
Dit was in die geskiedkundige dae nadat haar man, die vryheidsikoon Nelson Mandela, in Februarie 1990 by die Victor Verster-gevangenis in die Paarl uitgestap het nadat hy 27 jaar lank deur die staat aangehou is.
“Sy het destyds selfs vir Oprah Winfrey nee gesê,” onthou Alan van ZuydamReynolds.
“Maar toe Huisgenoot haar in 1995 vir ’n onderhoud nader, het sy ja gesê.”
Vir haar was dit nie oor internasionale roem nie, onthou Alan (56). “Sy was ’n slim politikus. Sy het geweet die tydskrif het ’n groot plaaslike reikwydte.”
Ons gesels vyf dae nadat die nuus van die 81-jarige Winnie se dood op Paasmaandag skokgolwe deur die land gestuur het. Vir hom was dit besonder hartseer nuus, want hy was amper 40 jaar haar vriend en ook in ’n stadium haar persoonlike assistent.
Twee weke voor haar dood het sy hom gebel om te hoor hoe dit gaan en wat in die parlement aangaan. Ons gesels juis in die parlement se begrotingskantore in die Kaapse middestad waar hy as projekkoördineerder werk.
Hy glimlag toe hy vertel hoe hy nog die gekloek van die hoenders by haar huis in Soweto, Gauteng, tydens hul foonoproep op die agtergrond kon hoor.
Die laaste keer dat hy haar gesien het, was met die viering van haar 80ste verjaardag in Kaapstad. “Daarna het sy weens gesondheidsredes nie veel Kaap toe gekom nie.”
IN 1980 was dié boorling van Oudtshoorn, wat deesdae in Groenpunt woon, ’n sosialewetenskapstudent aan die destydse Universiteit van Natal. Sy sosiologiedosent was die bekroonde Suid-Afrikaanse skrywer Fatima Meer, wat in 2010 op 81 oorlede is. Sy het hom op ’n dag vertel van haar vriendin wat sedert 1977 in ballingskap op die afgeleë dorpie Brandfort in die Vrystaat woon. Fatima, wat toe in Durban gewoon het, was ’n jare lange vriendin van die Mandelas.
Eendag vra sy die jong Alan om saam met haar Brandfort toe te gaan om Winnie te besoek. Die twee het op ’n bitterkoue winterdag die pad gevat met ’n motor gelaai met kerrie. “Fatima se huishulp, Irene, het die kerrie gemaak en ingepak. Winnie was baie lief vir enige soort kerrie,” vertel Alan.
Toe hulle daardie oggend voor Winnie se huis stop, was hy in vervoering oor die “pragtige vrou” wat sy asem weggeslaan
het. “Ek het later jare aanstoot geneem wanneer die media so berig het oor haar voorkoms. Sy was nooit ’n vroueleier nie; sy was ’n leier.”
Ná daardie eerste ontmoeting het hulle in noue kontak met mekaar gebly en ’n vriendskap het ontstaan. Teen 1994 het Alan in die Kaap gewoon en was Winnie adjunkminister van kuns, kultuur, wetenskap en tegnologie. Hy vertel sy het hom gebel en gevra om haar persoonlike assistent te wees. Hy het die pos net twee jaar lank beklee, want sy het in 1996 uitgetree, maar van toe tot die einde het hy haar nieamptelike en vrywillige persoonlike assistent gebly.
HY HET haar in al haar fasette leer ken, veral as ’n sterk vrou wat toegewy was aan die land se politiek en ekonomie. Selfs tot op die laaste, voor sy haar stryd teen diabetes verloor het, het sy “nie vir een oomblik” rustiger geword nie.
“Winnie was ’n vreeslose vrou. Sy was bang vir niks en niemand.” Sy het in ’n verskriklike tyd in die land se geskiedenis alles in haar vermoë gedoen om die apartheidsregime te bestry, onthou Alan. Maar niemand het in die 1980’s geglo apartheid sou ooit tot ’n einde kom nie. “Baie mense het vir haar gesê sy voer ’n verlore stryd en moet liewer tou opgooi.”
Hy het Winnie ook geken as ’n vrou en ma met ’n ruim hart, en hoewel sy en Nelson in 1996 ná ’n huwelik van 38 jaar geskei is, was sy tot op die laaste lief vir hom, glo Alan. “Ek dink nie Winnie het ooit iemand anders ná hom liefgehad nie.
“Selfs jare ná hul egskeiding het sy nooit lelik van hom gepraat nie. Sy het ook nie toegelaat dat enigeen lelik of met minagting oor hom praat nie.”
Sy het swaar gedra aan die feit dat hul twee dogters, Zindziswa (57) en Zenani (59), moeilike grootwordjare beleef het. “Sy was ontsteld oor die lyding van haar twee kinders in die apartheidsjare en wat hulle later moes deurmaak omdat hul ouers Nelson en Winnie Mandela was. Ek dink dit het haar tot die einde van haar lewe ontstel.”
Maar sy was ’n goeie ma en ’n liefdevolle ouma vir haar nege kleinkinders, onthou Alan. “Haar kleinkinders het vir haar baie vreugde gebring.”
Daar is een bewys van Winnie se sagte kant wat hy nooit vergeet het nie. Alan onthou die Sizzlers-moorde op 20 Januarie 2003 toe Adam Woest en Trevor Theys nege mans in ’n salon in Seepunt, Kaapstad, vermoor het. Winnie was baie bekommerd oor die families van die slagoffers wat nie almal geldelik welaf was nie. Sy het gereël dat die liggaam van een van die slagoffers opgevlieg word na sy familie in Johannesburg. “Sy het my gevra om vir niemand te sê sy gaan na die begrafnis nie. In die kerk het die man se ma na haar gehardloop, haar omhels en in trane uitgebars.
“Sy het ook almal geken en almal wou haar ken. Die Amerikaanse sangeres Whitney Houston het tydens haar 1994toer by haar woonstel in Kaapstad kom kuier nadat sy gevra het om haar te ontmoet. Winnie het selfs vir Whitney gekook.”
NÁ HAAR dood het baie teenstanders van die ontslape vryheidsvegter weer die Stompie Seipei-sage opgerakel. Die 14-jarige Stompie was ’n aktivis van die Verenigde Demokratiese Front van Parys, Vrystaat. Winnie se lyfwagte, bekend as die Mandela United Football Club, het op 29 Desember 1988 vier seuns, onder wie Stompie, ontvoer. Hy is op 1 Januarie 1989 vermoor.
Winnie is in 1991 skuldig bevind aan ontvoering; haar ses jaar tronkstraf is op appèl tot ’n boete verminder.
“Almal na aan haar weet sy het niks met Stompie se moord te doen gehad nie,” sê Alan. Hy vertel dit het haar baie bekommer dat mense dit van haar gedink het. “Maar sy kon niks daaraan doen nie. Dié wat dit geglo het, kon nie anders oortuig word nie.”
Net soos Winnie geen beheer gehad het oor wat mense van haar dink en glo nie, kon sy niks doen aan hoe sy in die vele rolprente oor haar lewe uitgebeeld is nie.
Hy weet nie of sy dit gekyk het en of sy daarvan gehou het nie, sê Alan. “Ek het haar oor een van die flieks gevra. Daarin het die aktrise wat haar speel, gehuil.
“Sy het vir my gesê: ‘Die veiligheidspolisie het my nooit sien huil nie.’ ”