Musiekspel uit Marc Lottering se pen
Ná 20 jaar op die verhoog skitter Marc Lottering se gewilde alter ego in die eerste musiekblyspel uit sy pen
HY IS omtrént ’n prentjie toe hy windmakerig oor die verhoog stap met sy lang, skraal lyf in ’n rok met hoëhakskoene daar by en sy Afrohaarstyl onder ’n doek. En dan begin hy, of eerder sy, sing en die gehoor raak gaande. Dis Aunty Merle in al haar glorie. En die man wat haar speel, is natuurlik Marc Lottering, een van Suid-Afrika se mees geliefde komediante en die skepper en ster van Aunty Merle – The Musical. Aanhangers van die Kaapse komediant is reeds vertroud met dié aunty van Belgravia Road op die Kaapse Vlakte. Sy maak al jare lank kameeverskynings in Marc se skerpskertsvertonings, maar verlede jaar het hy besluit dis “Merle se tyd om te skitter”, en siedaar, ’n musiekblyspelkomedie is geskep. Dit het ’n span van 14 akteurs en ’n agtmanmusiekgroep en is vanjaar vir vier Fleur du Cap- pryse benoem, waaronder beste oorspronklike agtergrondmusiek en beste manlike akteur in ’n musiekblyspel. “Dit was ’n ongelooflike eer,” sê Marc toe ons mekaar in die Baxter-teater in Kaapstad ontmoet waar ’n tweede seisoen van die vertoning pas begin het ná ’ n suksesvolle seisoen aan die einde van 2017. Dit het deurgaans vol sale gelok. Merle lê hom na aan die hart, sê Marc, wat haar 20 jaar gelede aan die begin van sy verhoogloopbaan geskep het. Is sy op ’n spesifieke mens geskoei? “Merle is eintlik ’n kombinasie van drie vroue, maar hulle weet nie hulle is Aunty Merle nie; dus gaan ek nie hul name noem nie,” sê hy. “My ma, Irene, is wel een van die drie, maar sy is oorlede.” Merle sukkel om die eise van haar moderne familie te hanteer. Haar dogter, Abigail, het aan
Alan, ’n “aantreklike wit man van Bantrybaai”, verloof geraak en Merle moet die troue reël. Intussen luister haar seun, Carl, heeltemal te veel na Beyoncé se musiek saam met sy pel Siya, en dit laat die tonge in die buurt behoorlik klap.
“Dis ’n liefdesverhaal waarmee almal hulle kan vereenselwig,” sê Marc. “Ons het van al die omgangstaal ontslae geraak sodat selfs toeriste dit kan geniet.”
Hy wou lank reeds sy vlerke verder as skryfwerk vir skerpskertsery sprei, maar het geweet dis ’n waagstuk.
“Dis vir my maklik om vir ’n eenmanvertoning te skryf, want ek doen dit al jare lank. Dié is ’n nuwe gebied vir my, maar ek het net in my hart geweet ek moet dit doen.”
Toe skryf hy die draaiboek en werk saam met die plaaslike aktrise en sangeres Tarryn Lamb (sy speel Abigail) aan die musiek.
Die vertoning is die prestasie waarop hy die trotsste is, sê hy. “Ek was bereid om my woonstel, kar, wat ook al, te verkoop om die akteurs se salarisse te betaal. Ons het nie borge gehad nie; dus was daar geen waarborg dit sou werk nie. Mense sien my naam en dink dadelik aan skerpskertsery. Daarom was die vraag: Sou hulle ’n musiekblyspel kom kyk?”
Die antwoord is ’n besliste ja. Kaartjies was binne twee weke uitverkoop, en op die openingsaand het Marc nog meer rede gehad om fees te vier.
“Dit was op 30 November, kort voor my 50ste verjaardag op 4 Desember. Dit was ook 20 jaar sedert ek die eerste keer op die verhoog gestap het om skerpskertsery te doen en Aunty Merle bekendgestel het. Dit was dus ’n uiters spesiale oomblik.
WANNEER ’n mens Marc vra waar hy sy charisma kry, antwoord hy onmiddellik sonder om te huiwer: sy pastoorpa, wyle Sandy Lottering.
“Die kerk is teater, jy weet,” sê hy. “My pa was van die Ou Pinksterkerk. Hy kon ’n gehoor se aandag behou deur slegs oogkontak te maak. In die kerk is heelwat gesing, gepreek en gebid. Ek dink ek het dit daar opgetel.”
Komedie het hom later gevind. Hy het ná skool regte aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer omdat “jy in my huis ’n onderwyser, dokter of prokureur geword het”.
Terwyl hy studeer het, het hy as plekaanwyser by die Baxter-teater gewerk en honderde opvoerings gekyk, onder meer deur komediante soos Soli Philander, Mark Banks en Pieter-Dirk Uys. “Ek onthou ek het gedink: Ek kan dit doen.”
Hy het toe by ’n advertensieagentskap in die Moederstad gaan werk waar hy “woorde moes laat sexy en snaaks klink. Ek was soos ’n vis in water.”
Hy het sy eie stories begin skryf en in 1997 het hy sy debuut as skerpskertser gemaak in ’n vertoning getitel After the Beep. Daarna het ’n suksesvolle loopbaan gevolg, een wat steeds op dreef is.
“Mense reageer op eerlikheid,” sê hy oor hoekom hy glo hy nog gewild is.
“’n Storie kan snaaks w wees, maar as dit waar en e eerlik én ’n goeie storie is, i is dit waarvan mense die m meeste hou.”
Hy sê om die groot vyfn nul – “380 in gay jare” soos h hy dit noem – te word was ’n bietjie van ’n skok, maar o ook ’ n tyd vir selfonders soek. “Dis kommerw wekkend as jy deur die le lewe gaan sonder om enigie iets te bevraagteken.” Marc glo in karma. “As jy glo jy kan saam met die Guptas koffie drink en dit gaan geen gevolge hê nie, leef jy in ontkenning.”
Om fiks te bly is ’n prioriteit vir die komediant wat drie keer per week saam met ’n fiksheidsafrigter oefen. “Maar ek moes meer en harder oefen vir die vertoning,” sê hy. “Deesdae se gehore wil sien jy lyk gesond. Die dae toe die komediant ’n boep gehad het, is verby.”
Hy is ook nie een van daardie grapjasse wat ’n jolige karakter op die verhoog vertolk, maar agter die skerm peinsend en swaarmoedig is nie. “Ek is ’n gelukkige Boogskutter. Wat kan ek sê?”
DIT help waarskynlik dat hy die afgelope 20 jaar in ’n gelukkige verhouding is met ’n mede- Kapenaar, Anwar McKay (43), met wie hy in 2010 getrou het. “Ek het hom eintlik ontmoet voor ek grappies vir ’n lewe begin vertel het,” sê Marc. “Nou bestuur hy my handelsmerk en hy het ook die regie van drie van my eenmanvertonings gedoen.”
In hul vrye tyd geniet hulle middagetes saam met vriende, maar hulle sukkel deesdae met leënessindroom nadat hulle hul twee geliefde worshonde aan ouderdom moes afstaan. “Hulle was soos ons kinders. Anwar het gesê ons moet ’n blaaskans vat, maar ek dink ons is reg om nog te kry. Ek’s versot op honde.”
Met die musiekblyspelgogga wat hom gebyt het, is Marc gretig om nog te doen. Kan ons ’n Aunty Merle-opvolg verwag? “Miskien,” sê hy. Maar op die oomblik neem dié vertoning al sy tyd in beslag.
Aunty Merle – The Musical sal in Januarie volgende jaar in Johannesburg te sien wees.
“En as ek tyd kry, beplan ek om meer te lees, te leer kitaar speel en bedrewe te raak in die maak van goeie kerrie.”