Huisgenoot

Wat hou ons in Suid-Afrika wanneer ander lande ook ’n heenkome bied?

-

EEN

oggend kry ek die volgende boodskap van my man: “Sal jy dit oorweeg om te emigreer?”

Ek het hom nie dadelik geantwoord nie, maar sedertdien duik die kwessie ál meer in ons gesprekke op – soos wat seker ook met baie ander Suid-Afrikaners gebeur, veral ná die onlangse bohaai oor die Australies­e regering wat glo ons boere genooi het om hulle daar te gaan hervestig.

Ons jongste kind is al in matriek; dit sal dus betreklik maklik wees om op te pak. En ja, ek sal beslis nie swak dienslewer­ing, moord, kapings, bedrog en korrupsie mis nie. Wat hou my dan hier? Ek kan my net nie indink dat ek nooit weer in ’n teater sal sit en wag vir die magiese belewenis van Shaleen SurtieRich­ards wat ons stories in ons taal vertel nie. Dis dán dat die sorge van die alledaagse van jou skouers afgly, en jy weet: Dis hier waar ek hoort.

Hoe beskryf jy die gevoel wanneer 8 000 mense by Afrikaans Is Groot opstaan en ons volkslied sing? Hoe gee jy dit prys? Of daardie gevoel wanneer Laurika Rauch op ’n verhoog stap en begin sing; wanneer ek trots, veilig en geborge voel. Ek kan my nie indink dat Justin Bieber of Katy Perry dieselfde uitwerking op my gaan hê nie.

Ek het die kinders van kleins af saamgeslee­p na al wat ’n produksie is, maar deur die jare het hulle begin verstaan hoe spesiaal dit is om dié oomblikke met jou geliefdes te kan deel. Waar hulle eens traag was om Innibos toe te gaan, is dit nou ’n jaarlikse instelling.

My antwoord aan my man? Ons sal op ons knieë bly en pleit vir ons land, maar ek is nie reg om my mense te groet nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa