Huisgenoot

DRINK SO SLIM VIR ’N LANGER LEWE

In ’n nuwe studie word gewaarsku teen die gesondheid­sgevare van te veel drank. Maar hoeveel is te veel vir ’n week?

- Deur PIETER VAN ZYL en MICHELLE NORTJE

WANNEER jy saans jou voordeur oopmaak, dink jy al daaraan – daardie groot glas wyn wat wink. Met etenstyd skink jy die tweede een, of dalk kom dit eers nadat jou laaste spruit gebad en in die bed is. Op ’n Vrydagaand skink jy sommer nog ’n diep glas (of selfs twee); dis mos naweek!

Maar jy moet mooi dink voor jy jou glas weer vol skink, waarsku navorsers ná die bevindings van ’n omvattende nuwe studie.

Navorsers van die Universite­it van Cambridge in Engeland het 83 studies in 19 lande bestudeer waarby byna 600 000 mense betrek is, en bevind: As jy gereeld of op lang termyn meer as 1 L wyn, oftewel ’n bottel en ’n derde, per week drink, kan dit jou gesondheid aantas en selfs jou lewensverw­agting verkort.

Volgens die bevindings wat in die mediese vaktydskri­f The Lancet gepublisee­r is, kan jy vier tot vyf jaar korter leef as wat jy andersins moontlik sou as jy op 40 jaar meer as 350 g alkohol, oftewel 43,75 eenhede, per week drink.

Die navorsers beveel aan mense moenie meer as 100 g alkohol, oftewel 12,5 eenhede, per week inneem nie. En dit geld vir vroue en mans.

Hoe gemaak as jy jouself ’n gereelde drankie gun?

“Kies iets wat vir jou lekker is, maar hou by die aanbevole porsiegroo­tte,” sê die Bloemfonte­inse dieetkundi­ge Sonelle van der Linde.

Sy sê rooiwyn bevat ’n antioksida­nt wat die hart help beskerm en bevat ook minder suiker as soeter witwyn en ander drankies.

Sonelle sê ligte biere, wyne en appelwyn is inderdaad gesonder as gewone bier, wyn of appelwyn omdat dit minder kilojoules bevat.

“As jou drankie minder kilojoules bevat, gaan dit die beste keuse wees, maak nie saak wat jy kies nie.”

Sy sê as jy hardehout drink, moet jy sorg dat jou keuse van wat jy daarby meng ook nie suiker bevat nie.

“Wat jy saam met die drankie meng, maak die verskil. Kies iets wat nie suiker bevat nie, byvoorbeel­d water, sodawater of dieetkoeld­rank.

“Tonikum bevat vreeslik baie suiker, maar suikervrye tonikum is deesdae beskikbaar.”

Hoeveel mag ek per week drink?

Die studie beskou 8 g alkohol as ’n eenheid.

As jy jou gesondheid nie wil aantas nie, moet jy volgens die studie nie meer as 100 g alkohol, oftewel 12,5 eenhede, per week drink nie.

Ons kyk hier hoeveel drankies jy per week kan drink (sien tabel links) en watter skade dit kan berokken as jy nie matigheid voor oë hou nie. BRONNE: MAYOCLINIC.ORG, NETWERK24.COM, THELANCET.COM

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa