Huisgenoot

MY SES JAAR TUSSEN MADIBA & VRIENDE

In sy tyd as sjef en bestuurder van die presidensi­ële gastehuis het Brett Ladds met beroemde gaste soos koningin Elizabeth II, pous Johannes Paulus II, oudpres. Fidel Castro, Naomi Campbell en Quincy Jones omgegaan – en elkeen se giere en geite leer ken

- (Van vorige bladsy)

BRETT LADDS weet presies hoe Nelson Mandela van sy rooibostee gehou het – as uitvoerend­e sjef en bestuurder van die presidensi­ële gastehuis in Pretoria het hy Madiba baie goed leer ken en met van die wêreld se beroemdste­s in aanraking gekom. Hy het al vir koningin Elizabeth kos gemaak, sigare by Fidel Castro gekry terwyl hy in sy pajamas was, en die Amerikaans­e sanger Quincy Jones het vir hom ’n serenade gesing. In dié uittreksel uit sy nuwe boek vertel hy van sy ervarings toe hy ses jaar lank gereeld in die geselskap van magshebber­s en beroemdes was.

NELSON MAND MANDELA is op 10 Mei 1994 as die eerste demokratie­s verkose president van Suid-Afrika ingehuldig. Ek was geëerd om daardie dag in die geselskap van van die beroemdste mense op aarde te wees. Koningin Elizabeth II, Yasser Arafat, Hillary Clinton, Fidel Castro en Al Gore het in die presidensi­ële gastehuis rondgesit terwyl ek verbystap. Ek is die kat se snorbaard! het ek gedink.

Mense vra my gedurig: Was pres. Mandela so wonderlik soos almal sê? Die antwoord is nee; hy was selfs méér wonderlik. Hy het ’n ongeloofli­ke slag gehad om almal spesiaal te laat voel. Sekuriteit­swagte, helpers en persoonlik­e assistente is almal met dieselfde respek as eregaste behandel. Hy was merkwaardi­g.

As bestuurder en uitvoerend­e sjef moes ek sorg dat alles by sy presidensi­ële gastehuis seepglad verloop. Ek het daagliks vir Madiba en sy gaste gekook en die spysenieri­ng vir 54 staatsbank­ette behartig. Daar het ek my in die geselskap van presidente en adjunkpres­idente van oor die wêreld heen, koninklike­s van die wêreld se oudste koningshui­se en van die voorste glansmense bevind.

Op die dag van die koningin se aankoms op ’n staatsbeso­ek het honderde mense in die gastehuis rondgehard­loop. Dit was in Maart 1995 en sy en haar man, prins Philip, het as pres. Mandela se gaste in die gastehuis tuisgegaan.

Die dag voor di die b banket k th het t’ ’n hele afvaardigi­ng van die Britse Hoë Kommissie my kom spreek. Daar is deeglik inspeksie gedoen van die vars produkte, breekware en eetgerei wat ek sou gebruik. Ek het die bloemis gevra om voorbeelde van die ruikers te maak en ons het die dranklys en die volgorde van verrigting­s weer nagegaan. Ek het vir die hele afvaardigi­ng gaan wys waar die president die koningin sou ontmoet, in watter gange hulle sou afloop, hoe hulle die banketsaal sou binnegaan, die roetes waarlangs die kelners sou stap om die kos aan te dra, en hoe hulle sou afdek. En toe, in ’n baie swaar Britse aksent, hoor ek: “Sjef, ek voorsien twee probleme waarvoor ons geen ander keuse het as om dit dadelik op te los nie.” Die gentleman staan met sy wysvinger en duim teen sy ken en kyk na die plafon asof hy op woorde van bo wag. Ons almal kyk na hom. “Die koningin gebruik nie ’n vismes nie. Die gedekte plek sal verander moet word.” Ek stap na die proeftafel in die banketsaal en verwyder die vismes, herrangski­k die eetgerei en spasieer dit weer perfek. Ek wag op ’n staande toejuiging en dink: “Oukei, probleem een is opgelos. Volgende?” Dit lyk of die gentleman nou iets op ’n telraam in die lug optel. “Die voorgereg kan nie van die kombuis na die banketsaal gedra word nie. Die afstand is te groot. Ek is bang dit kan besmet word. Die kos word meer as 70 m gedra. Dit moet van ’n gebied nader daaraan kom.”

Ons stap toe na die aangrensen­de vertrekke om te kyk of ons die voorgeregt­e daar kan opdis, maar geeneen voldoen aan die higiëniese standaard van die kombuis nie. Ons begin gefrustree­rd

‘Die voorgereg kan nie van die kombuis gedra word nie’

raak. Ek stap uit na die oostelike binnehof langs die banketsaal. “Wat as ek dit van hier af opdien?” “Hoe gaan jy dit doen?” “Ek sal ’n verkoelde agttonvrag­motor hier parkeer en uit die agterkant daarvan opdien. Die kos sal net 8 m van die banketsaal wees.”

Daar is oral glimlagte. Die Hoë Kommissie is eindelik tevrede met die banketreël­ings. Maar om die vragmotor daar te kry, is makliker gesê as gedaan – dit val vas toe dit tot naby die banketsaal probeer maneuver en ’n insleepwa moet ontbied word om dit in die regte posisie te kry sodat die personeel dit as ’n kombuis kan begin inrig.

Ek gaan boontoe en probeer myself opknap. Dan hoor ek oor die radio die koningin soek my. Net wat ek nodig het: Ek is sweterig en gestres en een van die belangriks­te mense ter wêreld wil met my praat. Ek stap deur die kombuis en spuit nog ’n bietjie reukwater aan om die reuk van stres te verdoesel.

Toe ek voor die gastehuis kom van waar ek ontbied is, staan die deur oop. Ek loer daardeur en sien die koningin praat met die media. Ons interne sekuriteit verseker my alles sal oukei wees, en wanneer die insleepwa opdaag, sal hulle vir alles sorg. Die deur swaai oop en die koningin stap weer binnentoe.

“Middag, jong man. Baie dankie vir alles wat jy vir ons afvaardigi­ng doen. Jou kos is werklik wonderlik. Mag ek vir ’n ligte middagete vra en dat jy my sal wys waar ek pres. Mandela vanaand voor die banket gaan ontmoet?”

Die koningin haal haar groot hoed af en begin met die trap opklim. Ek hoor sy mompel iets oor die media. Ek is nie seker wat sy sê nie en antwoord: “Ek glo u goed, U Majesteit.”

Ek verduideli­k ek sal pres. Mandela by die voordeur gaan haal en hom na die voet van die trap vergesel waar ons nou staan. Ek sal vooraf boontoe hardloop en vir die koninklike egpaar sê oor hoeveel minute die president daar sal wees sodat ons almal op hierdie plek kan ontmoet.

Ek vra die koningin toe of sy wil hê ek moet haar na die boonste verdieping vergesel, maar sy wys dit van die hand. Een van haar helpers loer uit die sitkamer en vra haar vir ’n oomblik om ’n sekere kwessie te bespreek. Terwyl sy met haar pragtige breërandho­ed na die sitkamer stap, besef ek ek het pas met die koningin van Engeland gepraat. Sy was gaaf en besorg, met ’n hartlike gemoedelik­heid; natuurlik welspreken­d, maar tog het dit gevoel asof ek met my ouma praat.

Ek is so besig met my pligte dat dit my ’n dag of twee neem om te stop en die ervaring te geniet. Op daardie oomblik sien ek myself van buite en besef ek hoe geëerd en bevoorreg ek is.

Al het ek nooit die eer gehad dat pous Johannes Paulus II by die gastehuis tuisgaan nie, het hy dit ’n dag in September 1995 besoek. Voor sy koms is oral rooitapyte uitgerol. Spesiale stoele is afgelewer, sy afvaardigi­ng het alles verander en hul eie items daar reggesit.

Elke keer wanneer ek by die sitkamer verbygeloo­p het, het ek ingekyk en die pous op die mooiste stoel sien sit en met iemand praat. Net om hom van so naby te kon sien was ’n eer, maar om hom te kon ontmoet was besonders. Hy het my ’n handdruk gegee en my bedank. Ek was stomgeslaa­n in sy teenwoordi­gheid.

AL OOIT agtergekom die wildste dinge gebeur altyd soggens? Daarom staan ek vroeg op sodat ek genoeg tyd het om vir onverwagte gebeure voor te berei. Een oggend in 1998 is ek onder die indruk pres. Mandela en sy kabinet is Kaapstad toe vir die parlements­itting. Ons het ’n paar dae vry en ek en my span sou later begin werk sodat ons ons batterye kon herlaai en die moreel versterk.

Daardie oggend skyn die son heerlik. Terwyl ek in my bed lê, hoor ek ’n motor. ’n Deur klap, en toe hoor ek stemme. Ek spring uit die bed. Daar is nie tyd vir klere nie; in my pajamabroe­k en T-hemp hardloop ek met die trap af, deur die kombuisgan­ge, draai in die hoofgang af en loer in die hardloop by al die vertrekke in vir enigiets wat nie op sy plek is nie. Al wat ek kan sien, is vuil koppies en pierings op die tafels. Dit maak geen sin nie: Voor ek saans my kop op die kussing neerlê, sorg ek altyd dat die huis eksieperfe­ksie is – gereed as iemand skielik sou opdaag.

Ek hoor ’n geluid by die voordeur. Ek spring van trapportaa­l na trapportaa­l en slaan die trappe oor. Toe ek by die deur kom, probeer ek dit so vinnig moontlik oopmaak. Daar, tot my verbasing, staan ’n klein afvaardigi­ng en staar my verbysterd aan.

“Brett, hoe gaan dit?” vra John Reinders, hoof van die protokolka­ntoor. “Mnr. Reinders, goeiemôre.” “Jammer, dit lyk of ons jou laat skrik het.” “Het ek iets vergeet?” “Nee, glad nie. Ons het ’n plek vir ’n vinnige vergaderin­g nodig gehad en het die polisie-eenheid gevra om vir ons oop te maak. Ek weet dat jy altyd alles gereed het en wou jou nie pla nie.” “Ek gee regtig nie om nie.” “Ek weet. Dit was werklik ’n besluit op die nippertjie.”

Ek is verlig om te weet wat aangaan, maar ’n bietjie vies dat ek nie in kennis gestel is nie – dit is immers my verantwoor­delikheid.

Met alle oë op my waar ek daar in my pajamas staan, sê ek: “Mnr. Reinders, as

Daar staan ek in my pajamas met twee Kubaanse sigare wat Fidel Castro my gegee het

ek mag vra, wie het hier vergader?”

“Hoe onbeskof van my,” sê John. “Pres. Fidel Castro, dit is ons gastehuis se bestuurder en sjef, Brett Ladds.”

“Bly te kenne,” laat hoor die Kubaanse president.

“Dankie, president. Ek vra verskoning oor hoe ek lyk. Ek is gewoonlik aangetrek.”

Ek kan sien Castro is net so verbaas soos die res van ons. Hy reik na sy baadjie, haal twee sigare uit en gee hulle vir my: “Dankie vir die tyd by die gastehuis,” sê hy. “Dankie, president.” Die volgende oomblik maak John die motordeur oop en die president klim in. Die klein konvooi vertrek. Ek staan daar met twee sigare uit Kuba wat Fidel Castro self vir my, in my pajamas, voor Suid-Afrika se presidensi­ële gastehuis gegee het.

IN 1997 word ’n besoek by pres. Mandela vir die Britse supermodel Naomi Campbell en die Amerikaans­e sanger Quincy Jones gereël. Ek is al sedert my skooldae ’n groot aanhanger van Quincy – hy was en is steeds een van my gunsteling­legendes.

Naomi daag eerste op. Geen groot afvaardigi­ng of konvooi vergesel haar nie – sy daag net in ’n luukse motor op. Die deur naaste aan my gaan oop en ’n pragtige, lang vrou klim uit.

“Welkom in Suid-Afrika en by die pre- sidensiële gastehuis, mej. Campbell,” sê ek en probeer haar hand vat.

Die volgende oomblik begin mej. Campbell maak asof sy ’n nekkramp van die lang vlug het, met haar kop wat na die motor beduie.

“Is jy oukei, mej. Campbell?” vra ek.

Sy leun oor na my. “Mej. Campbell is aan die ander kant van die motor. Ek is haar assistent.”

Terwyl ek probeer verskoning vra, beduie sy ek moet hardloop en mej. Campbell gaan ontmoet. Die vrou wat aan die ander kant van die motor uitklim, lyk nie baie beïndruk om daar te wees nie.

“Welkom in Suid-Afrika en welkom by die presidensi­ële gastehuis, mej. Campbell.” “Waar is my kamer?” “Volg my, asseblief, mej. Campbell. Ek sal jou vergesel.” “Bring my goed,” sê sy vir haar assistent.

Ek stap voor haar by die trap op, dan met die gang af na die volgende stel trappe, wat na die suites op die boonste verdieping lei. “Hoeveel trappe nog?” “Ons is amper daar, mej. Campbell.” Ek kan skaars wag dat sy by haar suite uitkom sodat ek nie meer iets met haar te doen hoef te hê nie. Ek vra of daar enigiets anders is wat ek vir haar kan kry.

“As ek enigiets nodig het, sal ek my assistent stuur.”

Met al die staatsbeso­eke van al die hooggeplaa­stes wat die eer gehad het dat pres. Mandela hulle genooi het om by die presidensi­ële gastehuis tuis te gaan, is ek nog nooit so sleg behandel nie.

Quincy Jones daag later daardie middag op. Ek is so opgewonde om hom te ontmoet. Hy is net so koel en verstommen­d soos ek verwag het. Toe hy daar aankom, wil hy nie dadelik na sy suite toe gaan nie. Ek neem hom na die sitkamer, en ons staan en gesels.

Hy geniet dit dat ek sy hele loopbaan gevolg het. Maar hy stel meer belang in pres. Mandela, wie almal al in die gastehuis tuisgegaan het en in stories oor ons pragtige land. Hy is net fantasties.

Toe hy en Naomi later in die eetkamer sit en gesels, verduideli­k ek die spyskaart en neem hul bestelling­s. Ek gaan na my kombuis en begin die etes berei. Ek wil werklik mnr. Jones beïndruk. Hy was so geduldig en innemend dat ek wil hê hy moet soos ’n koning voel.

Ek stuur die span in om die voorgeregt­e voor te sit en gaan voort om die hoofgereg te maak. Toe ek die skoon borde sien wat uit die eetkamer terugkom, weet ek ek het my goed van my taak gekwyt. Toe kom sê die hoofkelner hulle soek na my in die eetkamer. F**, dink ek. Wat kan die probleem wees?

In my sjefsbaadj­ie stap ek by die eetkamer in. “Is julle tevrede met die voorgeregt­e?”

Mnr. Jones – mnr. Quincy Jones – staan op en begin ’n serenade vir my kos sing. Hy begin een van sy liedjies sing terwyl ek teen die trane van vreugde probeer veg.

Ons maak die volgende dag die gastehuis skoon en kry alles gereed vir die president. Hy sal Quincy en Naomi laatmiddag kom ontmoet. Toe Mandela opdaag, lyk hy opgewonde om sy gaste te sien.

Toe hy by die sitkamer instap, kry Naomi byna stuiptrekk­ings in haar haas om eerste by hom uit te kom. Die president groet daarna vir Quincy. Terwyl hulle staan en gesels, lyk hulle soos langverlor­e vriende.

Toe die bohaai verby is, begin ek my pligte vervul. Terwyl ek by die president verbystap wat besig is om met Naomi te gesels, neem hy my arm en trek my sagkens nader. “Het my sjef mooi na jou gekyk, Naomi?”

“Ja, dankie, hy het ons almal baie goed behandel.”

“Goed. Ek en die sjef kom al ’n lang pad saam, en ons almal by die ANC het respek vir hom.”

Ek bedank die president terwyl hy verder met Naomi praat – oor my. Vir die res van haar verblyf word ék soos die glansmens behandel.

Mnr. Jones het dit uit die hart gedoen; ander het dit gedoen omdat hulle ewe skielik besef het ook ek ken die president. Maar wat ook al gebeur het, ek het altyd ná ons beroemde gaste se vertrek bevoorreg gevoel dat ek hulle kon onthaal en vir hulle kos kon maak.

Brett het in 2000 uit die pos bedank. Hy besit vandag die restaurant Chefs @ 566 in Pretoria.

 ??  ?? BO: Mandela, Brett (aan sy linkerkant) en ander personeel van die presidensi­ële gastehuis. REGS: Madiba groet Brett se seun Keagan.
BO: Mandela, Brett (aan sy linkerkant) en ander personeel van die presidensi­ële gastehuis. REGS: Madiba groet Brett se seun Keagan.
 ??  ?? REGS: Die supermodel Naomi Campbell was ’n veeleisend­e gas. ONDER: Koningin Elizabeth en prins Philip het ná hul besoek in 1995 vir Brett hierdie getekende foto gegee. .
REGS: Die sanger Quincy Jones se verblyf in die gastehuis was een van Brett se...
REGS: Die supermodel Naomi Campbell was ’n veeleisend­e gas. ONDER: Koningin Elizabeth en prins Philip het ná hul besoek in 1995 vir Brett hierdie getekende foto gegee. . REGS: Die sanger Quincy Jones se verblyf in die gastehuis was een van Brett se...
 ??  ?? HOOFFOTO: Die presidensi­ële gastehuis in Pretoria waar Brett Ladds ses jaar lank gewerk het. LINKS: Brett het ’n groot heldeverer­ing vir Madiba gehad toe hy op 21 vir hom begin werk.
HOOFFOTO: Die presidensi­ële gastehuis in Pretoria waar Brett Ladds ses jaar lank gewerk het. LINKS: Brett het ’n groot heldeverer­ing vir Madiba gehad toe hy op 21 vir hom begin werk.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa