Gert Roets (23) sinloos doodgeskiet: Geliefdes praat
’n Rugbyster wat van ’n Bok-trui gedroom het, is oorlede ná ’n sinnelose skietvoorval; sy geliefdes vertel van die tragedie
SOOS enige ander jong rugbyspeler was dit haar seun se grootste droom om voor ’n brullende skare vir die Springbokke uit te draf. Maar in haar ergste nagmerries sou sy nooit kon droom haar seun sou in ’n doodskis by die kleedkamertonnel uitgedra word vir sy laaste verskyning op die rugbyveld nie.
In die sitkamer van die huis in Kempton Park is die televisiestel se klank afgedraai, maar die aksietonele van ’n cowboyfliek flikker byna spookagtig op die skerm. Dis net ’n week ná die 23jarige Gert Roets, die fris slot van die Wolwe-rugbyklub, se drome van Springbok-glorie deur ’n sinlose skietaanval verpletter is.
“Ek het net daarmee vrede gemaak dat hulle sy been gaan afsit. Ek was nog besig om te dink hoe ek die meubels in die huis moet skuif sodat hy makliker sal kan rondbeweeg . . . toe’s hy sommer net dood.”
Yolanda Laas vee ’n slag die trane weg, maar praat dan weer voort in die toonlose stem van iemand wat in ’n ondeurdringbare waas van skok gehul is.
Gert, haar seun uit ’n vorige huwelik, het omstreeks vieruur die oggend van Saterdag 7 April saam met sy Wolwespanmaat Devan-Lyell Kruger na dié se huis in Kempton Park gestap. Twee mans het van voor af aangestap gekom en een het Gert geskiet. “Die ‘ hoekom?’ weet niemand,” sê Yolanda nou. “Die koeël is deur sy privaat dele en sy regterlies en -been.”
Sy was so sesuur daardie oggend besig om vir haar en haar man, Louwtjie Laas, koffie te maak toe ’n beampte van die Wolwe-rugbyklub, Angie van Loenen, by die huis opdaag met die nuus haar seun is ernstig beseer en in die Tembisahospitaal opgeneem. Haar wêreld het tot stilstand geruk.
“Ek wou nie dadelik hospitaal toe gaan
nie,” sê Yolanda en vee weer die trane weg. “My dogter Sharon is 14 jaar gelede dood toe ’n taxi haar op haar bromponie omgery het. Ek hou nie van hospitale nie.”
Die dokters het daardie selfde dag geopereer om Gert se been te probeer red. Maar voor die week om was, het hulle besluit hulle sal moet amputeer.
Op Vrydag 13 April het Gert se geliefdes toegekyk hoe die fris rugbyspelerseun die teater ingestoot word en ure later met net een been uitkom.
En die oggend van Saterdag 14 April, presies ’n week ná die sinlose skietaanval, het die hospitaal hulle tuis gebel en gesê hulle moet kom; dit gaan nie goed met Gert nie. Nie lank daarna nie het Gert, wat toe in ’n geïnduseerde koma was, se hart gaan staan.
“Die skok was baie groot,” is al wat Yolanda kan uitkry. Op die televieskerm flikker die beelde van cowboys en skurke en skietgevegte voort . . .
HAAR seun was nog altyd sportmal, veral oor rugby, vertel Yolanda.
“Hy was ’n groot Stormers-ondersteuner. Op skool het hy vir die Leeutjies (die Cravenweekspan uit die Leeus-rugbyspan se gebied) gespeel en later vir Griekwas se o.21-rugbyspan.”
Maar die afgelope paar seisoene was die Wolwe se Barnard-stadion in Kempton Park sy rugbytuiste.
Dis juis saam met die Wolwe se haker, Devan-Lyell, en hul vriendin wat hy die aand voor die skietery gaan kuier het. Hulle het vroegoggend ’n saamrygeleentheid gekry na Devan-Lyell se ouerhuis in Kempton Park, waar Gert glo sou oorgeslaap het. Maar eers het die twee saam met hul vriendin, wat sowat 500 m van Devan-Lyell se huis woon, gestap.
Dis toe hulle na Devan-Lyell se huis terugstap dat die twee mans van voor af aankom en op hulle begin skiet, vertel Yolanda. “Gert het oor ’n veld na die pad toe gehardloop en die vriend het na sy ouerhuis gehardloop,” vertel Yolanda. “Gert het beseer in ’n gat geval en bly lê.”
“Devan-Lyell en sy pa, JJ, het Gert toe in die gat gekry, waarna sy ma, Desireé, die nooddienste gebel het. Die paramedici het hom gestabiliseer en hospitaal toe gevat.”
Desireé het ook vir Angie en haar man, Patrick, gebel. “Ons het in ons nagklere na die toneel gejaag,” vertel Angie. Daar- na is hulle agter die ambulans aan hospitaal toe.
Omdat Gert by Devan-Lyell sou oornag het, was Yolanda nog nie bekommerd toe hy ligdag Saterdag nog nie tuis was nie. “Toe is Angie by die hek. My skoondogter, Yzette Jacobs, het die hek vir haar gaan oopmaak, maar draai toe om en hardloop terug huis toe terwyl sy skree: ‘Gertjie is geskiet!’ ”
Gert se ouer broer, Otto (32), en Louwtjie is dadelik hospitaal toe. “Ek kon eers ’n bietjie later die moed kry om te gaan,” erken Yolanda.
Gert was aan ’n ventilator gekoppel ná die aanvanklike noodoperasie.
“Ek was ’n ruk lank by hom, maar toe kon ek nie meer nie. Ek het uitgegaan en gaan rook.”
Vir die res van die week het sy Gert se hand tydens besoektye styf vasgehou. “Ek sou hom vra of hy baie pyn het, en dan sou hy sy wenkbroue beweeg.”
Sy skeur ’n stukkie toiletpapier van ’n rol af om haar trane af te vee. In die stilte vertel ouboet Otto: “Gert het baie vriende gehad en hulle het hom gereeld in die hospitaal besoek. Een ou het vir hom gesê hy moet gou gesond word sodat hy vir hom ’n brannas-en-Coke kan koop. Gert se hartklop het op die monitor sommer versnel.”
Terwyl hy praat, vroetel Gert se pekineeshondjie, Lego, op Yolanda se skoot.
Dit was Vrydag toe die dokters aanbeveel dat sy regterbeen afgesit word. “Ek het ingestem ter wille van my kind se lewe. Hy sou darem ’n kans hê op herstel. Gert moes dit gehoor het, want sy greep om my hand het dadelik verslap,” vertel Yolanda.
Sy vertel hy was baie verswak weens bloedverlies toe sy toekyk hoe hulle hom in die operasieteater instoot.
Min het sy toe geweet dat hy die volgende dag dood sou wees.
Die polisie ondersoek ’n moordsaak, bevestig Yolanda, maar daar is nog geen verdagtes nie.
ANGIE, die beampte van die Wolwe- klub, onthou die oomblik toe sy gehoor het Gert is dood. Sy was by die Barnard-stadion, waar die Wolwe ’ n vriendskaplike wedstryd teen die plaaslike polisiespan gespeel het – die doel van die wedstryd was nog spesiaal om geld vir Gert se hospitaal- en mediese koste in te samel.
“Daar was nie meer veel speeltyd oor nie, dit was so 14:30, toe sien ek hier kom Gert se suster, Cindy, by die stadion aan. Toe vertel sy vir my en die ander spanbeamptes Gert is dood.”
Hulle het op die eindfluitjie gewag voor hulle oor die stadionklankstelsel aangekondig het Gert is dood. “Wat die telling was en wie gewen het, weet ons nie regtig nie.”
Dit was dan ook Gert se Wolwe-spanmaats wat sy kis op Maandag 23 April vir oulaas deur die Barnard- stadion se kleedkamertonnel tot op die rugbyveld gedra het.
“Hy gaan in sy Griekwa-rugbyklere begrawe word,” het Yolanda laat hoor.
Maar eers het die sanger Brendan Peyper, ’n jare lange vriend van Gert, vir hom gesing op ’n spesiale konsert wat Vrydagmiddag 20 April in die Laerskool Birchleigh in Kempton Park gehou is. Die inkomste sal gebruik word om Gert se mediese koste en die koste van sy begrafnis te dek.
Brendan vertel Gert se dood het hom soos ’n bom getref. “Ek het nie besef dit was so ernstig nie. Ek het gedink hy gaan
fine wees. “As ek nou iets vir hom kon sê, sou ek sê: ‘My vriend, ons gaan weer eendag saam ’n ou biertjie drink . . .’ ”